Weskus-nuus wat saak maak – VIR die gemeenskap, DEUR die gemeenskap

weskusonTheline is ‘n onafhanklike, nie-politiese digitale gemeenskapskoerant en mediaplatform VIR die gemeenskap, DEUR die gemeenskap. Die doel daaragter is om die gemeenskap saam te snoer, oplossings vir probleme te soek/vind en SAAM te SPOG met ons mooi weskus en sy uitsonderlike mense en talente.

MISSIE:

Die missie van dié gemeenskapsinisiatief is om deur middel van die mag, trefkrag en reikwydte van die internet/sosiale media die weskus en sy mense te bemagtig en te bemark op ‘n sentrale openbare platform met vele vertakkings en systrome wat so wyd strek soos die kuberruim.

HOEKOM?

Baie weskus-publikasies het al gekom en gegaan en sedert die digitale sosiale media-gogga gebyt het, is daar al bykans 60 verskillende Facebook-groepe vir weskussers waar lede hul menings kan lug, dienste/produkte kan adverteer en sommer net lekker saamgesels. Hoewel daar baie voordele aan verbonde is, het dit ook negatiewe gevolge. Soveel splintergroepe VERDEEL eerder ‘n gemeenskap as om dit te verenig en derhalwe raak die meeste insette verlore tussen die magdom groepe, want geen mens kan elke dag gaan kyk wat op 60 groepe gesê/geadverteer word nie – tot almal se skade en verlies.

Vryheid van spraak veroorsaak ook dikwels dat openbare gesprekke/debatte in onsmaaklike katgevegte en persoonlike aanvalle tussen groeplede ontaard . . . wat dikwels weer daartoe lei dat ‘n verontregte party die groep verlaat en nóg ‘n FB-groep stig. Dikwels is dié katgevegte te wyte aan gebrekkige kennis/insig oor bepaalde sake en berus die gevegte op blote hoorsê en/of beswaddering wat verdere verdeeldheid saai sonder dat die ware feite ooit onafhanklik uitgelig word.

Advertensies op dié Facebook-groepe is ook baie vlietend en dus moet adverteerders feitlik elke dag ‘n advertensie op ‘n klomp verskillende FB-groepe plaas wat almal min of meer dieselfde teikenmark het . . . dit is nie net tydrowend en onproduktief nie, maar ook lastig vir lede om oor en oor dieselfde advertensies te sien.

weskusonTheline bied ‘n standvastige platform vir adverteerders op ‘n professionele nuusblad wat feitelike inligting en nuus publiseer. Advertensies behou dus hul prominente plek afhangende van die adverteerder se kontrakvoorwaardes. Daar is ook verskillende afdelings waaronder geadverteer kan word om seker te maak die produk/diens pas by die inhoud van die afdeling, bv. Kuns en Kultuur, Sport, Skolenuus, Toerisme, ens. Advertensies vir skoolklere en speelgoed sal dus 100% beter resultate kry onder die Skolenuus-afdeling, terwyl gastehuise en eiendomsagentskappe uitstekend sal vaar onder die Toerisme-been.

Adverteerders word aanvanklik aangemoedig om hul eie advertensies te ontwerp, maar ons beoog om mettertyd ook grafiese kunstenaarsdienste te verskaf om adverteerders daarmee te help. Die koste van advertensies beloop van R100 tot R250 per maand (afhangende van die grootte) en is dus 100% goedkoper as in ‘n gedrukte mediapublikasie omdat volkleur outomaties ingesluit is en die verspreidingsnetwerk letterlik strek van die Kaap tot in Kairo en Timboektoe danksy die deel-opsie of deur ‘n vriend of familielid enige plek in die wêreld te tag . . .

Akkurate Inligting

Die webblad dien vele doele. Een daarvan is om die gemeenskap in te lig en deurlopend op hoogte te hou van nuwe verwikkelinge, ontwikkelings, probleme en hoogtepunte/prestasies wat die hele gemeenskap raak. Dit help nie almal kla en baklei onderling oor omstrede kwessies wat onmin en verdeeldheid veroorsaak nie. Deur deursigtige, objektiewe en feitelike beriggewing kan ENIGE probleem in ‘n gemeenskap vreedsaam geïdentifiseer en opgelos word as elke party ‘n geleentheid kry om sy saak in perspektief te stel. Dit is waarom lesers genooi word om omstrede kwessies, ongerymdhede en wanpraktyke onder ons aandag te bring sodat ons dit objektief kan ondersoek om saam ‘n aanvaarbare oplossing te vind.

Weskus-staaltjies en stories:

Die weskus wemel van interessante karakters en mense met wonderlike, unieke stories en staaltjies. Al is baie van die “hoofkarakters” in sulke stories waarskynlik al lankal dood, leef hulle voort in oorlewering. Daar is dikwels ‘n skatkis vol staaltjies en kostelike of tragiese verhaaltjies in menige gebore weskusser se huis of hart. Ons wil graag dié stories hoor en deel met die gemeenskap. Stuur vir ons JOU storie en foto’s en ons maak seker die wêreld lag en/of huil saam . . . of dit nou visstories, noue ontkomings op die viswaters, spookstories of sommer net lekker boeiende verhaaltjies uit vervloë dae langs die weskus is, ons lees en luister graag saam! Die beste weskus-storie sal volgens lesers se reaksie in aanmerking kom vir ‘n maandelikse boekprys!

Weskus-Talent:

Langebaan en omgewing spog met talryke talentvolle en bekroonde skrywers, sangers, musici en kunstenaars. Ons spog graag met ons mense en wil ook seker maak die res van die wêreld weet van hulle! Laat weet ons gerus van sulke uitblinkers in die gemeenskap. Die meeste talentvolle mense is gewoonlik beskeie en sku vir publisiteit, maar dis hoekom ons sommer namens hulle hul beuel sal blaas. Dis immers ons reg om trots te wees op ons mense en dis ONS wat spog met hulle, nie hulleself nie . . .

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *