‘Hy het net skielik voor my ingeswenk’ : Trokbestuurder erg getraumatiseer ná gru-botsing

“Ek was nog besig om spoed op te tel van sewende na agste rat en het die blou BMW van voor sien aankom. Eers toe hy BY my was, het hy skielik reg voor my ingeswenk en die trok aan die regterkant getref. Dit het binne sekondes gebeur. Ek vermoed ek het teen die stuurwiel geval, want my bors het seergekry, maar gelukkig is geen ribbes gebreek nie.”

Só het mnr. Nicholaas (Nicky) Ross (38), bestuurder van die Lafarge-sementtrok wat gister die gru-ongeluk naby Saldanha Staal oorleef het, vanoggend gesê. Die bekende Langebaner, Hans Ulrich (70), beter bekend as Froggy van die destydse gewilde Froggy’s Den Indiese restaurant in Langebaan, is vermoedelik op slag dood in die botsing. Ross is gister-namiddag reeds uit die Vredenburg-hospitaal ontslaan waar hy vir bors- en ander geringe beserings behandel is. Hy was vanoggend nog erg getraumatiseer en onderweg vir sielkundige berading toe hy met weskusonTheline gepraat het.

“Dit het so vinnig gebeur dat ek nie eens weet of die aankomende motor vinnig gery het nie. Die een oomblik het ek hom nog sien aankom, en die volgende oomblik was hy reg op my. My spoed is op 62 km/h bepaal. Ek het nie ‘n idee hoekom die motor skielik voor my ingeswenk het nie,” het hy gesê.

Volgens ‘n Polisiewoordvoerder het die ongeluk net na 12h00 sowat 300 m van die Portnet-treinbrug (aan Langebaan se kant) op die Kampstraat-verlenging van die Langebaan/Saldanha-pad gebeur. Wyle Froggy was onderweg in die rigting van Saldanhabaai en Ross in die teenoorgestelde rigting na Langebaan. Vermoedens dat wyle Froggy moontlik ‘n hartaanval gehad het (hy was ‘n diabeet) of dat spoed dalk ‘n faktor was, sal eers bepaal kan word nadat al die forensiese toetse en ‘n nadoodse ondersoek afgehandel is. ‘n Span forensiese kenners kom volgende week van Kaapstad af om die saak verder te ondersoek, het die woordvoerder gesê.

Wyle Froggie was ‘n geliefde inwoner van Langebaan. Huldeblyke en boodskappe van skok, hartseer en medelye op sosiale netwerke getuig van sy gewildheid onder Weskussers. Hy was veral bekend vir sy lekker kos en gesellige kuiers by Froggy’s Den en was ook baie gewild onder Langebaan se lyndans-groeplede.

Sover bekend het hy geen kinders gehad nie en ook geen naby familie in Suid-Afrika nie. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie. Sy gewese vrou, Elize, sal na bewering eers in Oktober na Suid-Afrika kan kom.

aaafroggy1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *