Anni is regtig “mal oor mense en mooigoed” . . . en dis haar wenresep!


“Noem dit sommer Anni se snuistery-winkeltjie – hier’s mos ietsie van alles. En ek is mos mal oor mense en om met mooi goed te smous!” 

Só gesels  Anni Strydom van Anni Se Markie in Langebaan – die kleurvolle winkeltjie met die gesellige houtbank en WELKOM-bordjies op die sypaadjie in Breëstraat wat jou innooi om te kom kyk wat nog alles binne wegkruip. Nes Anni se hartlike plaas-gasvryheid en spontane geselsies met ieder en elk wat daar inloer.

Dis immers haar liefde vir mense wat haar toeka al as plaasvrou en ma van drie opgeskote kinders in Stella se wêreld in die Noordwes Provinsie haar entrepreneurskap laat ontdek het. Van Kersmarkte, plaasstalletjies en markies kan jy haar niks vertel nie – sy woeker al jare met “mooi goed” – veral leeritems soos handsakke, beursies en horlosies van egte leer, maar byAnni se Markie is deesdae iets van alles – van kleurvolle kelims, strandsakke, hoede, serpe en Indiese klere tot tuisgebakte beskuit, koekies en ingelegde lekkernye.

 

 Snuisterye en koddige en wyse gesegdes en spreekwoorde op bordjies en mure vang oral jou oog.
 
“Die mense moet net weet ek is nie ‘n POP-UP SHOP nie . . . Ek is hier om te bly!” verwys sy laggend na die haastigheid waarmee sy in November haar winkeltjie binne 3 weke moes vestig en gereed kry vir die Desember-seisoen.”
“Ek het eers die eerste week in November gehoor ek kan die winkel huur . . . en toe moes ek darem spring om voorraad en alles reg te kry vir die feesseisoen. Ek was nog so aan die werskaf om nuwe voorraad te kry, toe iemand my vra of ek een van daardie pop-up winkeltjies is wat oral opskiet vir ‘n maand of twee en dan weer wegtrek . . . “

Anni en manlief Boffie (“niemand sal weet van wie jy praat as jy sy regte naam skryf nie – almal ken hom net as Boffie!”) het presies  ‘n jaar en 3 maande gelede hul florerende gemengde boerdery in Stella (Vryburg/Mafikeng se wêreld) verruil vir Langebaan se luilekker-kusdorpbestaan.

“Ons het met beeste, skape, grondbone en mielies geboer . . .  dit was maar die droogte en misdaad wat ons op die einde laat besluit het om hierheen te trek . . . “

Die Strydom-gesin was in 2010 deel van die plaasaanval-statistiek toe hulle genadiglik ‘n gewapende rooftog waarby agt mans betrokke was, ongedeerd oorleef het.

“Hulle het die drade geknip, die huis en winkel omsingel . . . sewe skote is binne ‘n trefafstand van 15 meter afgevuur . . . ek wil nie graag daaroor praat nie. Dis net genade dat niemand in die voorval dood of beseer is nie.”

Nou is hulle inkommers in Langebaan, maar klaar ingeburger en baie gelukkig. Boffie is onder-burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit en hul twee oudste kinders (Maretha (23) en Annamie (21) studeer reeds ingenieurswese op Tukkies en BSc op Stellenbosch onderskeidelik. Die jongste, Marthinus (18) is in matriek by die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg.

“Ek geniet dit verskriklik om met mense te werk. Voor ek die perseel vir ANNI se Markie gekry het, het ek oral in die Kaap by Kersmarkte uitgestal terwyl ek ‘n perseel gesoek het. Ek het destyds met die trekkery AL my ou voorraad agtergelaat by die winkeltjie Rintinkel en moes dus van vooraf hier voorraad begin opbou. Ek kry my goedjies van oral in die land . . . ek koop wat vir my mooi is en glo maar ander mense hou ook daarvan . . . ”

En dit lyk beslis of ander mense wel van Anni se smake (EN van Anni) hou. Drie maande nadat ANNI se Markie sy deure oopgemaak het, is daar gedurig ‘n toeloop van mense wat snuffel tussen al die versteekte kosbaarheidjies in die volgepakte rakke.

Die winkel groei by die dag en dit is duidelik dat Anni en haar snuistery-winkel ‘n gewilde aanwins vir die Weskus is.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.