Weskus-rusoorde sluit weens waterkrisis, maar omstrede KROPZ-myn kry waterlisensie?

“Dis ‘n tragedie – ons gaan appelleer!”

Só het Carika van Zyl van die Weskus-Omgewingsbewaringsassosiasie (WOBA) gister gereageer op die omstrede en geheimsinnige wyse waarop ‘n geïntegreerde watergebruiklisensie net voor Paasnaweek aan die omstrede KROPZ-fosfaatmyn toegeken is.

Die gewraakte lisensie IS toe blykbaar op 13 April (net voor die Paasnaweek) aan die myn toegeken terwyl mediaberigte en verklarings in verskeie koerante en tydskrifte tot op 10 April te kenne gegee het dat niemand nog weet wanneer, of en hoe die lisensie wel toegeken gaan word nie – veral in die lig van die huidige droogte.

Kropz het sedert Augustus verlede jaar aanhoudend in mediaverklarings gespog dat die watergebruiklisensie “net ‘n kwessie van tyd is” en na verwagting reeds in September verlede jaar toegeken sou word. Dié verwagting is egter gekelder deur hernieude veldtogte deur opposisiepartye en ‘n onafhanklike ondersoek deur Carte Blanche wat wye blootstelling gekry het.

Volgens die jongste verklaring deur KROPZ is die langverwagte watergebruiklisensie nou wel toegestaan en word beplan om binnekort te begin myn, hoewel ‘n lugemissie-lisensie vir die fosfaatverwerkingsaanleg nog uitstaande is.

Dit is net vreemd dat dit tot dusver net die myn is wat die toekenning van die lisensie bevestig het, terwyl die Department van Water en Sanitasie (DWS) soos die graf swyg en weier om dit amptelik te bevestig?

Gerugte dat die geïntegreerde watergebruiklisensie vir die myn tussen Langebaan en Hopefield gedurende die Paastyd toegestaan is ondanks hewige en toenemende teenkanting deur verskeie plaaslike en nasionale belangegroepe, het die afgelope week die rondte gedoen. Navrae by amptenare van die DWS het egter op dowe ore geval en een amptenaar het laat blyk dat “hulle nog nie die magtiging het om dit amptelik te bevestig of openbaar te maak nie.”

Vrae van weskusonTheline oor hoekom dié omstrede besluit juis voor die Paasnaweek geneem is wanneer mense dit die minste verwag en hoekom die geheimsinnigheid/stilswye daaroor as dit soveel mense raak, het ook onbeantwoord gebly  . . .
Sover bekend, is géén amptelike verslag/bevestiging nog deur DWS uitgereik nie en berus alle inligting oor die toekenning van die waterlisensie op inligting wat KROPZ “selektief” bekend maak.

 

‘n Mens kan net wonder oor dié geheimhouding en vreemde tydkeuse vir só ‘n ingrypende besluit waarmee al sedert September verlede jaar gesloer is . . . te midde van een van die ergste droogtes in dekades in die omgewing . . . en die feit dat alle munisipale rusoorde van die Saldanhabaai Munisipaliteit vir die volgende twee maande gesluit word weens die waterkrisis . . . ?

Lees die volledige berigte hieronder:

Saldanha Bay Municipality 26 April 2017:

MUNICIPAL RESORTS TEMPORARY CLOSURE: 2 MAY 2017 – 30 JUNE 2017
Notice that the municipal resorts in the Saldanha Bay Municipal area will be closed to the public from 2 May 2017 to 30 June 2017, due to the current water situation in the Western Cape. No bookings can be made until further notice.
All monies of clients that have already paid a deposit or paid their accommodation in full for the months of May 2017 and June 2017 will be reimbursed as soon as possible. The halls and “kraaltjies” at the resorts will operate as per normal and bookings may continue.

No automatic alt text available.
Myn aan Weskus kry waterlisensie; groep beplan appèl

Mynbedrywighede by die Elandsfontein-fosfaatmyn aan die Weskus kan binnekort begin nadat ’n geïntegreerde watergebruiklisensie aan die myn toegestaan is. Foto: Kropz

Werksaamhede by die Elandsfontein-fosfaatmyn aan die Weskus behoort binnekort te begin nadat ’n watergebruiklisensie aan die myn toegestaan is.

Die mynmaatskappy Kropz het Dinsdag bevestig dat hy die geïntegreerde watergebruiklisensie vir die myn tussen Langebaan en Hopefield ontvang het en met die departement van water en sanitasie (DWS) in gesprek is oor hoe om dit toe te pas.

Bouwerk by die myngebied is reeds voltooi en dit was teen Maart vanjaar reeds gereed om in gebruik geneem te word.

Intussen het die Weskus-omgewingsbewaringassosiasie (Woba) aangedui dat hy teen die toestaan van die waterlisensie gaan appelleer.

Die myn grens aan die Weskus Nasionale Park, naby ’n fossielryke gebied wat in 2015 tot provinsiale erfenisgebied verklaar is.

Elandsfontein Exploration and Mining (EEM) het aansoek gedoen om daagliks 1,6 megaliter water van die Saldanhabaai-munisipaliteit te gebruik en aanvanklik sowat 20 megaliter grondwater per dag uit te pomp.

Die munisipale water sal in die myn gebruik word en die grondwater in ’n geslote stelsel terug in die grond gepomp word.

Memory Johnstone, EEM-woordvoerder, het vroeër vanjaar gesê die myn se wateraanvraag sal verminder namate die mynwerk vorder en afvalmateriaal sal ook gefiltreer word sodat ’n gewone stortingsterrein nie nodig is nie.

INTUSSEN HET DIE WESKUS-OMGEWINGSBEWARINGASSOSIASIE (WOBA) AANGEDUI DAT HY TEEN DIE TOESTAAN VAN DIE WATERLISENSIE GAAN APPELLEER.

Elandsfontein sal 0,1 m³ water gebruik vir elke ton erts wat verwerk word, terwyl fosfaatmyne “gewoonlik” 1 m³ (1 000 liter) water benodig.

Die myn is op 500 ha grond geleë en die fosfaat sal vir minstens 15 jaar uit ’n waterdraer 20 m onder die grond ontgin word.

EEM het voorheen aantygings dat daar nie genoeg met die publiek en belanghebbers gekonsulteer is nie verwerp en gesê het hy al van 2014 ’n omvangryke openbare deelnameproses gehou.

Johnstone het ook gesê waterverbruikers binne 5 km vanaf die myn is genader en vergaderings is gehou waar grondeienaars met waterspesialiste kon praat.

Bykomende studies wat deur Kropz aangevra is, het glo aangedui dat die waterverbruikers nie geraak sal word nie, asook nie die watervlakke, die gehalte van grondwater of die Langebaan-strandmeer nie.

In Januarie het Sanparke aangedui dat hy aanvanklik die aansoek van Kropz teengestaan het, maar sy besware is teruggetrek nadat daar op sekere voorwaardes ooreengekom is.

Daar is aanbeveel dat ’n tydelike waterlisensie nie uitgereik word nie totdat “onsekerhede” oor die moontlike invloed van mynbedrywighede op die grondwater en die strandmeer uitgeklaar word.

Die uitwerking van mynbedrywighede en die terugpomp van water op die watergehalte in die strandmeer is volgens Sanparke “nog grootliks onbekend” en bykomende toetse en modellering is aanbeveel.

In Februarie het die Sentrum vir Om­gewingsreg ook ’n beroep op die DWS gedoen om ’n openbare deelnameproses vir die waterlisensieaansoek te hou.

Werksaamhede by die Elandsfontein-fosfaatmyn aan die Weskus behoort binnekort te begin nadat ’n watergebruiklisensie aan die myn toegestaan is.
NETWERK24.COM
Lees ook vorige berigte:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *