Die gewilde Weskus-dorp Lambertsbaai met sy eiesoortige Sandveld-by-die-see-natuurskoon, gematigde klimaat en ryk voëllewe het die afgelope 150 jaar ontwikkel van ‘n beskeie vissersdorpie met ‘n florerende vis- en kreefbedryf tot ‘n gesogte toeriste- en vakansiebestemming vir almal wat ‘n blaaskans soek van die gejaagde stadslewe.
Net 280 km vanaf Kaapstad en omring deur die Weskus se wye verskeidenheid van kultuur-historiese erfenisse, unieke fauna en flora en die enigste voëleiland in die suidelike halfrond waar derduisende malgasse en ander seevoëls van naderby besigtig kan word, bied Lambertsbaai ‘n skatkis van buitelug-avonture, besienswaardighede en ‘n ryk geskiedenis vir ontdekkingsreisigers.
Hier staan die tyd en verkeer nog stil en die mense leef nog grootliks ná aan die natuur en sy rykdom waarvan hulle afhanklik is.
Die bekende Voëleiland op Lambertsbaai is die enigste “besoekbare” malgas-eiland in die suidelike halfrond waar dié unieke voëlspesie so van naderby besigtig kan word en mense meer kan leer oor die geskiedenis van dié eiland.
Die Lambertsbaai Hotel (destyds Marine Hotel genoem) is van die eerste geboue wat destyds in 1880 op ‘n gedeelte van die plaas Otterdam opgerig is om as huisvesting en stoorplek te dien vir die groeiende handel- en skeepsbedrywighede in Otterdam se baai. Die naam Otterdam kom juis van ‘n varswaterkuil wat ‘n boer in die vroeë 1800’s per toeval ontdek het toe sy perd daar water gedrink het. As daar nou één hotel is wat interessante stories sou kon vertel as klipmure kon praat, sal dit dié hotel wees wat die toets van die tye deurstaan het – van die eerste rowwe kreefvangers se opgewondende kroegpraatjies en Britse offisiere se aanstellerige Anglo-Boere-oorlogstories tot plaaslike eet- en kuierplek en nou gerieflike verblyf vir groot groepe en korporatiewe funksies.
Sedert sy ontstaan in 1880 was dié hotel dekades lank die hartklop van die skilderagtige vissersdorpie wat in 1910 as ‘n plaaslike gebied geregistreer is met die naam Lambertsbaai – genoem na ‘n eertydse Admiraal Lambert van die Britse vloot wat tussen 1826 en 1840 ‘n opmeting van die baai gedoen het. Soos die meeste ander kusdorpe het Lambertsbaai rondom die twee vernaamste voedingsbronne ontwikkel – seekos uit die kelders van die see en drinkbare varswater uit nabygeleë bergstrome en fonteine. Die kreef- en pelagiese visbedryf was aanvanklik die ekonomiese hoeksteen waar rondom Lambertsbaai ontstaan en ontwikkel het met die hotel as die enigste verblyfplek vir besoekers.
Dit was juis by dié hotel waar offisiere van Britse oorlogskepe gereeld gekuier het tydens die Anglo-Boere-oorlog en wat toevallig gelei het tot die stranding van die HMS Sybille aan die begin van die twintigste eeu. Volgens oorlewering het ene Kaptein Williams en sy offisiere een aand aan wal gegaan en te lekker in die einste hotel gekuier terwyl die laerrang-manskappe droëbek aan boord moes bly en buite die baai op anker gelê het. Toe die manskappe laat die aand aan wal moes gaan om die kuierende kaptein en sy metgeselle te gaan haal, het hulle die ligte van die nabygeleë plaas Steenbokfontein verwar met dié van die baai en die Sybille op die rotse gestuur – reg oorkant die plaas.
Meer besonderhede oor die HMS Sybille-seetragedie is by die hotel en die Sandveld Museum beskikbaar. * Lees ook meer oor die ryk geskiedenis van dié dorp en hotel onderaan.
Sedert die insinking van die eens florerende kreef- en visbedryf gedurende die vroeë 1990’s het Lambertsbaai groot veranderings ondergaan om ekonomies te oorleef. Landbou, toerisme en eko-toerisme het die nuwe lewensaar geword saam met die wisselvallige kreef- en visbedryf. Teen 1995 is die kreef- en visverwerkingsaanlegte by die hawe omskep in ‘n winsgewende aartappelverwerkingsbedryf waar aartappels van Sandveldse boere en elders verwerk word tot bevrore skyfies vir die uitvoermark. Gastehuise en selfsorgeenhede vir toeriste en besoekers het soos paddastoele opgeskiet om voorsiening te maak vir die groeiende aantal besoekers tydens die jaarlikse Weskus-blommeskouspel en somervakansies.
Ook die 3-ster Lambertsbaai Hotel moes groot aanpassings maak sedert dit lankal nie meer die enigste eet- en verblyfplek vir gaste en besoekers op die dorp is nie. Die hotel spits hom nou merendeels toe op korporatiewe groepbesprekings en groter groepe wat nie maklik saam elders blyplek kan kry nie.
‘n Groep verteenwoordigers van verskillende windplaas-ondernemings in die omgewing het onlangs hul jaareindfunksie ewe vrolik en fleurig in Lambertsbaai kom vier en in die hotel oornag.
Die hotel met sy see-en skeepvaarttema is ten volle gelisensieerd en spog met twee restaurante, drie konferensie-lokale wat altesame 75 mense kan huisves, ‘n buitelug-braai-area met ‘n swembad, en ‘n ruim kroeg met ‘n gedeeltelike hawe-uitsig. Oornagverblyf sluit ontbyt en kamerdiens in, asook wifi en 24-uur ontvangs.
Die Anker-kroeg waar gaste en die gewone publiek saam kan kuier en ‘n drankie geniet.
Die hotel het deur die dekades heen baie van sy oorspronklike karakter behou en die ensuite-kamers en lokale is ruim met ‘n gevoel van outydse gerief en eenvoud. Die hotel is voorwaar nog die grootste enkele voorsiener van gerieflike oornagverblyf en ontbyt op die dorp en die 39 kamers kan sowat 75 mense huisves. Gaste kan kies tussen vier selfsorg-eenhede, familiekamers met 2 dubbelbeddens, ‘n skakel-familiekamer (twee aangrensende kamers met een dubbelbed en twee driekwart-beddens met ‘n gesamentlike badkamer) en dubbelkamers met ‘n keuse van twee enkelbeddens of ‘n dubbelbed.
Al die kamers het ensuite badkamers met ‘n keuse tussen ‘n bad of stort en see-uitsig of swembad-uitsig. Kamergeriewe sluit in ‘n ketel met koffie/teemaakgeriewe, ‘n waaier, verwarmer, DSTV met afstandbeheer, ‘n elektroniese kluis en haardroër.
Indien die hotel vol of redelik vol bespreek is, word ‘n keurige buffet-ontbyt bedien. Andersins word ‘n A La Carte-ontbyt voorgesit.
Die personeel is vriendelik, vlytig en hulpvaardig en weet hoe om hul kant te bring.
Trekpleisters in en om Lambertsbaai:
Voëleiland waar mense tot 30 000 malgasse op ‘n slag van naderby kan beskou en meer kan leer oor die guano-bedryf wat tot die totstandkoning van dié unieke en besoekersvriendelike malgas-eiland gelei het.
Die malgas-kolonie is gewoond aan besoekers en kom nuuskierig tot teenaan die vertoonglas van die uitkykpunt. Ywes Chesselet (regs) is een van die ervare natuurbewaarders wat gaste inlig oor dié voëlspesie en ander interessanthede van die omgewing se marienelewe. Ywes het ook jare lank op ander malgas-eilande rondom Namibië gewoon en gewerk voordat hy hom op Lambertsbaai kom vestig het.
Die bekende Muisbosskerm waar Lambertsbaai se hotelgaste ook dikwels gaan kuier om die omgewing te verken.
Die oggend ná ‘n Oppie Weskus-musiekfees 😉
Van die hotelgaste (bo) het ook die bekende Steenbokfontein-seeplaas buite Lambertsbaai besoek waar die platemaatskappy Shifty Records, wat in die tagtigerjare bekend was vir hul protesmusiek, sy veertigste bestaanjaar met ‘n mikro-musiekfees Oppie Weskus by die unieke steengroef (Weskus Quarry) gevier het. Verskeie bekende kunstenaars uit dié era, onder wie Koos Kombuis, die Kalahari Surfer, die Vermaaklikheid Bakkery Orkes en die Shifty All Stars het onder meer in dié indrukwekkende “grot-teater” opgetree. Hier is twee kort videogrepe van Simba Morri en Koos Kombuis in aksie by die geleentheid. https://westcoastwonders.co.za/steenbokfontein-farm-stay/
GESKIEDENIS
Die ontstaan van Lambertsbaai en die hotel is so nou verweef dat dit feitlik onmoontlik is om nie iets van dié ryk geskiedenis van die eens florerende Weskus-vissersdorp te noem nie. Baie van die nageslagte van die boere en mense wat destyds die dorp help stig het, woon nog in die omgewing, maar die feite vervaag en die voortbestaan van die Sandveld Museum word bedreig deur finansiële en politieke implikasies.
Gelukkig het ouer lidmate en die bestuur van die NG Kerk Lambertsbaai in 2007 saamgespan met ‘n heroïese inisiatief en poging om baie van dié ou geskiedenis te bewaar in ‘n boekie Vlug Van die Malgas om die kerk se halfeeufees te herdenk. Dié boekie, geskryf en geredigeer deur van die oudste oorlewende kerklidmate en afstammelinge van die eerste families wat hulle hier kom vestig het, is sover bekend die enigste en mees omvattende geboekstaafde vertellings oor die ontstaan en geskiedenis van Lambertsbaai. Die meeste van die 2007-feeskomiteelede wat dit saamgestel het, is afstammelinge van die eerste families wat hulle destyds hier kom vestig het en sommige is sedertdien reeds oorlede. Die feeskomiteelede is Oom Herman en Tannie Dollie Redelinghuys wat ook as gasheer en gasvrou van die Halfeeufees opgetree het, wyle Kitta Burger, Maretha Kotze, Johan Engelbrecht, Joey Engelbrecht, Daantjie van Zyl, Mariëtte Groenewald, Johan Louw, Ansie von Molendorff, Johan Kotze, Adriaan Haasbroek, Jaco Redelinghuys, Rudi Brits en James van Putten.
Die meeste van die geskiedenis in die artikel kom met waardering uit dié boekie. Ongelukkig is net ‘n beperkte oplaag gedruk en dit sou jammer wees as ook dié stukkie geskiedenis verlore raak.
Kort uittreksels (aangepas) uit Vlug van die Malgas:
Lambertsbaai en sy hotel het ‘n ryk en kleurvolle geskiedenis wat uit die vroeë 1800’s dateer toe ‘n varswaterkuil (Otterdam) per toeval ontdek is deur ‘n boer wat weidingsveld vir sy beeste gesoek het. Die boer, ene Gerrit Erasmus Smit van die plaas Bergvallei (tans Bobergvlei), het sy perd by dié geleentheid laat water drink in dié varswaterkuil. Hy het op die laaste dag van 1831 daarin geslaag om die plaas van 5486 morg (4702 hektaar) wat na dié waterkuil (Otterdam) genoem is, by die staat te huur teen 2 pond sterling en 50 sjielings (R4.50) per jaar. Dis uit ‘n gedeelte van dié plaas met sy westelike grens aan die koue Atlantiese Oseaan by die monding van die Jakkalsrivier, wat die dorp Lambertsbaai en die Marine Hotel uiteindelik ontstaan het. Baie van die nasate van die oorspronklike families wat dié dorp help stig en groei het, lewe vandag nog en speel steeds ‘n belangrike rol om die geskiedenis te bewaar en die dorp se toekoms te verseker.
KREEFBEDRYF SE OPGANG EN ONDERGANG:
Die eerste kreefverwerkingslisensie is in 1917 toegeken en in 1918 is die eerste kreefverwerkingsfabriek – Lambertsbay Canning Co (L.B.C.C) – gebou langs die huidige hawe (Foto bo). Daar was destyds nog geen hawekanaal nie en die kreef is met ‘n donkiekar vanaf die bote strandlangs vervoer. Kreefvangers het destyds sowat ‘n halfkroon (25c) vir een krat of agt ballas-mandjies vol gekry. Die vervoer van die finale verpakte produk was met donkiewaens na Graafwater, die naaste spoorweg-vervoer. Vanaf 1929 het die dorp en vissermanne floreer met nog kreef- en visverwerkingsaanlegte wat opgerig is en die hawemuur (breekwater) wat uiteindelik in 1936 teen 40 000 pond sterling (R80 000) voltooi is. Pelagiese visverwerkingsaanlegte vir die inmaak van sardyne en later ook vir die vervaardiging van vismeel en visolie het gevolg, terwyl gevriesde kreefsterte ook uitgevoer is en die songedroogde doppe verwerk is tot kreefmeel.
Dié florerende kreef- en visbedryf het egter feitlik oornag in Februarie 1989 ineengestort na ‘n buitengewone storm waarna die kreef en vis onverklaarbaar verdwyn het. Teen 1995 is die fabriek ingespan om aartappels van die omliggende plase te verwerk tot bevrore skyfies om die dorp se tanende ekonomie te red. Sedertdien is dié aartappelverwerkingsbedryf en toerisme die dorp se grootste werkverskaffer en bron van inkomste benewens die wisselvallige kreef- en visbedryf.