Kareedouw is ‘n piepklein dorpie met ‘n oorwegend boeregemeenskap in die hartjie van die vrugbare en lowerryke Langkloof/Tsitsikamma-vallei waar met beeste, skape en bokke geboer word. In so ‘n klein gemeenskap is goeie buurmanskap en gesonde verhoudinge so noodsaaklik soos suurstof vir oorlewing omdat almal inherent op mekaar aangewese is.

Dis hier waar ‘n tragiese fratsongeluk in die piektyd van die streng en omstrede Covid-19 inperkingsmaatreëls steeds soos ‘n wolk oor die gemeenskap hang en mense in fluisterstemme laat praat en wonder: Hoe is dit moontlik dat ‘n tragiese fratsongeluk wat twee jongmense se lewe geëis het, so ‘n sensasionele herrie in die media veroorsaak het dat een van die dorp se bekendste en mees geliefde inwoners nou sommer skuldig bevind is op twee klagte van moord? Nie eens strafbare manslag weens nalatigheid nie, maar sommer TWEE moordklagte met voorbedagte rade asof hy aspris twee onbekende jongmense se dood veroorsaak het? En dis nie eens hy wat die jongmense genooi het nie – die gastehuis was dan toe in grendeltyd?

Ná meer as vyf jaar is die vrae en omstandighede rondom die tragiese beweerde gasdood van Jéan Vosloo (toe 25) en Mari Hoon (toe 28) op die langnaweek van 25-27 April 2020 in die stort van die gewilde Kouga Kliphuis op die oewer van die Kougarivier steeds ‘n onopgeloste raaisel. ‘n Toksikologie- en outopsie-verslag het wel getoon dat die paartjie wat saam gewoon en gewerk het op die plaas Kenmore van Grasslands Agriculture sowat 37 km buite Kareedouw, se bloed hoë vlakke van koolstofmonoksied bevat het. Dit is egter nie bekend of daar vir enige ander middels wat bydraende faktore kan wees, ook getoets is nie. Groot hoeveelhede leë drankbottels, insluitende die berugte Karriebier, is onder meer ook op die toneel gevind.
Midde-in dié tragiese gebeure wat sedertdien in opspraakwekkende en sensasionele media-dekking van ‘n geregtelike doodsondersoek in ‘n dubbele moordklag ontaard het op grond van vier totaal onbewese en bestrede polisie-verklarings, is Stephan du Plessis (30), buurseun van die plaaseienaar Kevin Pretorius (52). Dit is Stephan wat sy vriende in grendeltyd na die Kliphuis genooi het wat amptelik gesluit was vir gaste.
Links onder is Stephan du Plessis en sy vrou Mari-Lena op hul troudag in 2022 (Foto: Facebook) en regs is Kevin Pretorius langs die Kougarivier wat verby die Kouga Kliphuis vloei. Stephan en sy vrou het sedert die tragedie ook twee kinders ryker geword terwyl Kevin al 5 jaar lank vir sy lewe veg nadat hy summier skuldig bevind is op twee klagte van moord weens die tragedie.


Die Kouga Kliphuis is op Pretorius se plaas Zuuranys en al dekades lank ‘n groot trekpleister vir besoekers van heinde en ver. Die Du Plessis-familie huur die grond waarop Pretorius se huis en die gastehuis is, al die afgelope paar jaar vir weiding vir hul skape en beeste sedert Pretorius nie meer self aktief boer nie. Die families was nog al die jare op goeie voet en die Du Plessis’s het deur die jare al dikwels self in die Kouga Kliphuis gekuier. http://kougakliphuis.co.za/index.php

Wat nooit in enige mediaberigte in die afgelope vyf jaar uitgekom het nie, is hoe die drie jongmense in die piektyd van die streng Covid-19 inperkingsmaatreëls by die gastehuis beland het as die Kouga Kliphuis, soos alle industrieë in die gasvryheidsbedryf, amptelik gesluit was? Dit was in die tyd toe almal gemasker of binneshuis moes bly; spesiale permitte nodig was om buite dorpsgrense te ry; alle drank, sigarette of ander nie-noodsaaklike items verbode was en mense nie saam mag gekuier het nie. In nie een van die hordes sensasionele en emosiebelaaide media-dekkings op radio, TV, koerante en tydskrifte, is daar ooit onderhoude met die twee hooffigure in dié tragedie gevoer om te hoor wat regtig gebeur het nie.

Stephan du Plessis is die ENIGSTE ooggetuie wat deurgaans by die oorlede paartjie was en ook eers die volgende oggend na hulle gesoek en hul lewelose liggame in die stort gekry het. Dit was ook hy wat hul besoek geïnisieer het nadat hy Pretorius vroeër gevra het of hy en ‘n paar vriende tydens die langnaweek van 25-27 April 2020 by die Kouga Kliphuis kan kom braai en ontspan. Pretorius het hom duidelik ingelig dat die Kliphuis gesluit was – geen beddegoed, skoonmaakdienste of instandhouding nie en dat die krag, water en geiser afgeskakel is vir die duur van die inperking.
In ‘n telefoniese gesprek met eers Stephan en daarna sy Pa, Henry, het albei gesê dat hulle “baie jammer voel vir Kevin” en die wending wat die saak geneem het, maar verkies om niks te sê nie weens Stephan se betrokkenheid by die saak. Hulle wag maar vir die uitslag van die hofsaak en wil nie betrokke raak nie.
“Die Kliphuis het al ‘n maand lank toegesluit gestaan. Ek wou nog in die grendeltyd die laaie van die kombuiskaste se lopers vervang en ‘n bietjie opknappingswerk doen. Ek het vir Stephan gesê die plek is vuil en nie reg vir besoekers nie en die kombuis lyk aardig met die laaie wat op die vloer lê, ens.

“Hy het egter aangedring en gesê dit maak nie saak nie en dat sy vriend (Jéan) deur ‘n moeilike tyd gaan en hulle net wil kom braai, kuier en ontspan,” vertel ‘n lewensmoeë Pretorius. Hy is die afgelope vyf jaar deur hel en verstaan stééds nie hoe ‘n blote guns aan ‘n buurseun hom oornag in ‘n monster-moordenaar in die media en hof kon laat uitbeeld het nie.
“Stephan ken die Kouga Kliphuis goed en het al baie in die verlede daar gekuier. My pa het die plaas Zuuranys in die vroeë 1960’s gekoop en die Kouga Kliphuis by die rivier is later gebou as ‘n familie-kuierplek. My twee tienerdogters van 13 en 16 jaar oud, het as’t ware naweke langs die rivier geboer en ons gesin het minstens een naweek per maand en vakansietye daar gaan ontspan. Later het vriende en kennisse begin saamkuier en die plek het mettertyd so gewild geraak dat ek dit in 2009 ook as ‘n gastehuis begin bedryf het,” vertel hy.






Skokwending: van geregtelike doodsondersoek tot moordklagte
Dat die afgelope vyf jaar se hofsaak sy tol eis, is duidelik. Pretorius was sowat 21 dae in die hof en die saak is telkemale uitgestel. Hy is vroeër vanjaar in ‘n skokwending deur landdros Vuziwe Mnyani skuldig bevind op twee aanklagte van moord omdat hy glo doelbewus vorige waarskuwings van gaste in 2019 verontagsaam het dat hulle siek geraak en glo gas geruik het tydens hul verblyf in die Kouga Kliphuis. Nie een van die getuies waarop die staat se hele saak berus, kon egter stawende mediese of ander bewyse lewer dat hulle weens koolstofmonoksied-vergiftiging siek geraak het of dit ooit aan Pretorius genoem het nie. Hul toksikologie-uitslae het ook negatief getoets vir koolstofmonoksied.
“Die enigste mense wat in 25 jaar oor ‘n gasreuk in die kombuis gekla het, het ook negatief getoets vir koolstofmonoksied en ek het detyds desondanks die yskas se gasbottel buitentoe geskuif. Gaste ruil self die gasbottels om. Die eerste woorde wat ek oor gas- en gaslekkasie in die badkamer van die Kouga Kliphuis gehoor het, was in mediaberigte sedert die tragedie toe vorige gaste skielik na vore gekom en polisieverklarings afgelê het dat hulle in 2019 in die badkamer siek geraak en my gewaarsku het oor gasreuke en gaslekkasie”, sê Kevin moedeloos.
“Daar was dan hoeveel mense voor en ná hulle in die Kliphuis? Hoe kan honderde mense oor ‘n tydperk van 25 jaar in dieselfde kliphuisie heerlik kuier en vakansie hou sonder ENIGE insidente of probleme, en oornag verander alles skielik sedert drie jong mense tydens grendeltyd op eie risiko daar gaan braai en ontspan het terwyl die plek amptelik toe was vir gaste en besoekers? Ek was nie daar om te weet wat gebeur het of wie van die jongmense die water- en gastoevoer buite gaan oopdraai het en die batterye in die geiser gesit het nie.


“Dit het eers in die hofsaak uitgekom dat niks fout was met die gassilinder nie, maar dat die elmboog (skoorsteen) van die geiser wat die gas na buite lei, afgebreek of beskadig was – waarskynlik deur bobbejane wat gedurig daar speel en klouter terwyl die plek ‘n maand lank toegestaan het. Dit is antwoorde wat net Stephan kan verskaf – hoekom het die media hom nooit gevra nie?”, vra hy.


Die eerste sensasionele nuusdekking oor die jongmense se tragiese dood was ‘n Carte Blanche-program in Junie 2020, lank voor enige toksikologie- en outopsie-uitslae nog beskikbaar was. In dié program praat Jéan se ouers, dr. Lawton en Christelle Vosloo, hartroerend oor hul seun en sy verloofde se tragiese sterfte. Dr. Lawson noem ook dat “vriende van vriende van vriende” hom ná die tragedie gekontak het omdat hulle glo in 2019 ook in dieselfde kliphuisie “baie siek geraak en by die dood omgedraai het”. Hulle vertel ook dat hulle Pretorius gewaarsku het oor gaslekkasie in die stort.
In die program word veral gefokus op die gevare van gaslekkasies en koolstofmonoksied-vergiftiging, maar nie ‘n woord gesê oor wat regtig op daardie noodlottige naweek gebeur het nie. Die enigste ooggetuie in die saak wat ook die paartjie na die Kliphuis genooi het, Stephan du Plessis, word skaars in die program genoem en boonop word sy van verkeerdelik as Du Toit weergegee. Die spesifieke geiser in die Kliphuis se badkamer kan boonop buite of binne geïstalleer word.
Dié voortydige en sensasionele mediafokus op gasinstallasies is al klaar ‘n uiters vreemde en verdagte verskynsel. Dat die noodsaaklike agtergrond van die noodlottige gebeure van die begin af ook in die uitgerekte hofsaak totaal oorskadu is deur hoogs tegniese vaklektuur en getuienis oor gassilinders en die gevare van koolstofmonoksied, is ewe onrusbarend – veral omdat die uitslae van die toksikologie- en outopsie-verslae eers heelwat later bekend gemaak is.
Dit versterk die publieke besware dat dié saak van die begin af deur die media verdraai, gesensasionaliseer en bestuur is om ‘n sondebok te skep, wat ook die hofverrigtinge beïnvloed het.
Die enigste “getuienis” wat die saak oornag van ‘n geregtelike doodsondersoek in ‘n dubbele moordondersoek laat ontaard het, is die onbewese en bestrede bewerings van die vier “vriende van vriende van vriende” van die Vosloo-familie. As hulle beweerde simptome was soos hulle in hul getuienis beweer het, is dit uiters vreemd dat geen dokter of hospitaal hulle vir koolstofmonoksiedvergiftiging sou getoets het nie – veral omdat hulle ook beweer het dat hulle Pretorius gewaarsku het oor gasreuke en gaslekkasie in die gastehuis? As hulle destyds hul siektesimptome met gas verbind het en Pretorius ingelig het, sou hulle dit mos destyds aan die hospitaalpersoneel of medici genoem het? Hoe is dit dan moontlik dat nie een van die vier getuies op wie se getuienis die staat se hele saak berus, positief vir koolstofmonoksied getoets het nie?
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/nuus/stortdood-in-kliphuis-eks-n-lee-dop-se-gebroke-ma-20210312
https://www.netwerk24.com/nuus/hof/stortdood-as-opgetree-is-het-paartjie-nog-geleef-20250124
Terwyl die saak uitgestel is tot Februarie 2026 vir vonnisoplegging, sukkel Pretorius om kop bo water te hou. Die uitgerekte saak en die onverwagse dubbele moordklagte het hom nie net fisiek, emosioneel en sielkundig uitgemergel nie, maar ook finansieel. Hy werk tans voltyds op die dorp as instandhoudingsbestuurder by ‘n plaaslike besigheid. Die volgehoue media-aanslae waarin hy ook op sosialemedianetwerke as ‘n arrogante en onberouvolle moordenaar uitgekryt word, het ook ‘n geweldige impak op sy twee tienerdogters. Hulle ken hom net soos die res van die gemeenskap as die mees sagmoedige, vriendelike omgee-mens wie se hande altyd regstaan om iemand in nood te help.
Dieselfde refrein weerklink deur die hele Kouga-gemeenskap wat bankvas agter hom staan. “Hierdie hele saak is van die begin af lelik skeefgetrek in die media. Enigeen wat Kevin ken of al met hom te doen gehad het, weet hy is een van die mees geliefde en gerespekteerde mense op die dorp – nes sy ouers! As daardie hofsaak hier gehou kon gewees het pleks van op Humansdorp of PE waar niemand hom ken nie, sou dit nooit so ver gegaan het nie – die mense sou betoog het! Daardie man het ‘n hart van goud en hulle pleeg nou karaktermoord net om ‘n sondebok te kry!”
Iets waaroor almal ook 100% saamstem, is dat Kevin nooit mense se lewens in gevaar sou stel as hy gewaarsku of ingelig was oor gaslekkasies nie. “Daar kom al soveel jare soveel mense – selfs van oorsee af – na die kliphuisie toe en hulle kom weer en weer omdat dit so rustig en mooi daar is. Hoekom was daar dan nog nooit in die verlede enige klagtes of probleme met gaslekkasies of iets nie? Nou skielik word hy aangeval en hy was nie eens daar om te weet wat presies gebeur het nie,” laat ‘n omgekrapte vriend hoor.
Die talle inskrywings deur die jare in die Kouga Kliphuis se besoekersboeke getuig van dieselfde hulpvaardige omgee-mens as wat die inwoners vertel. Van kinders tot bejaardes beskryf in detail hoe lekker hulle gekuier, geswem, kano gery en visgevang het . . . en almal wil weer kom.

Kevin sukkel self om sy emosies onder beheer te kry as hy vertel hoe dankbaar hy is teenoor die gemeenskap wat hom in dié moeilike tyd so getrou ondersteun. Sy grootste bekommernis is die sielkundige impak wat dié uitgerekte saak en vieslike kommentare op sosialemediagroepe op sy twee dogtertjies het.
“Hoe moet hulle verstaan wat aangaan as ek self nie eens verstaan hoe ek oornag in so ‘n situasie beland het deur bloot uit goeie buurmanskap ‘n buurseun en sy vriende tegemoet gekom het nie? Hulle sou op eie risiko in grendeltyd kom ontspan ondanks my besware en niemand kon voorsien het dat die geiser-skoorsteen met die toestanery afgebreek of verinneweer sou word nie?”
“Stephan ken die plek en het geweet dit het lank toegestaan, maar dis niemand se skuld nie – bloot ‘n baie hartseer fratsongeluk wat nooit moes gebeur het nie.”
Op pad na sy plaashuis wat hy deesdae selde sien terwyl hy noodgedwonge voltyds lang ure op die dorp moet werk, probeer hy weer alles in perspektief stel.



“Kyk, ek het nog al die jare goeie verhoudings met my bure en al die mense op die dorp. Ek is hier gebore en is lief vir die plek en sy mense. Ek wil ook niemand te na kom nie en glo dit wat gebeur het, was ‘n fratsongeluk. Omdat ek nie self daar was nie, kan ek net spekuleer – net Stephan kan weet wat regtig gebeur het.
“So ‘n tydjie voor die betrokke langnaweek het Stephan my gevra of daar mense in die Kliphuis is en of hy en ‘n paar pêlle daar kan kom kuier. Ek het dit duidelik gemaak dat die plek al ‘n maand toegesluit is tydens die grendeltyd en geen gaste toegelaat word nie. Die kombuiskas se laaie waaraan ek tussendeur probeer werk het, het op die kombuisvloer gelê en die plek is nooit skoongemaak nie. Ek wou nie nog die verantwoordelikheid hê van kuiermense nie en het dit duidelik gestel. Hy het egter aangedring dat dit nie saak maak nie – hulle sal hul eie hout bring, self skoonmaak en volle verantwoordelikheid neem. Dit was die veronderstelling en omdat Stephan al dikwels daar gekuier het, het ek dit so aanvaar.
“Toe hy my die Saterdagoggend voor hul aankoms laat weet hulle gaan Wi-Fi nodig hê en vra of ek asseblief die batterye sal kom koppel vir die Wi-Fi, was ek nogal vies dat ek al die pad tot daar en terug moet ry terwyl ek self uitgesien het daarna om ‘n slag rustig by die huis te ontspan. “
Die pad na die Kliphuis is rof met loodreg steiltes en net toeganklik met viertrekvoertuie. Dit neem sowat 30 minute heen en weer na Kevin se huis.

“Toe ek omstreeks 12: 00 daar kom, het hulle drie klaar gesellig buite op die stoep met drankies gesit. Ek was haastig en het net gegroet, ingegaan, die batterye gekoppel en weer gery.
“Die volgende oggend omstreeks 09:00 het Stephan my gebel om te vra wat hy moet doen. Die badkamer se deur was van binne gesluit. Hy het dit probeer oopdwing en met sy selfoon deur ‘n opening in die deur ‘n foto geneem en só gesien sy vriende lê albei op die vloer . . . “
“Wat daarna alles gebeur het, is niks anders as ‘n nagmerrie waaruit ek nog nie kon ontsnap nie. Ek is deur die media verguis en in die hof beskuldig dat ek met menselewens dobbel omdat ek nie in 2019 op klagtes gereageer het van gaslekkasies nie. Watter klagtes? Wie se klagtes? Die feit dat nie een van die getuies positief getoets is vir koolstofmonoksied nie, weerlê mos rondborstig hul bewerings en getuienis. Hoekom het nie enige van die gaste wat voor en ná hulle in 2019 daar was, siek geraak of gekla nie?”, wil hy weet.
Sy enigste hoop is nou dat die waarheid sal uitkom en geregtigheid uiteindelik wel sal geskied, want veel langer sal hy nie met dié spanning, onsekerheid en swaard bo sy kop kan uithou nie.


Vrae wat nooit gevra of in mediaberigte verskyn het nie, is:
Waar was Stephan du Plessis toe die paartjie gaan stort het dat hy eers die Sondagoggend op hul lewelose liggame in die badkamer afgekom het? Volgens sy getuienis het Jéan Saterdagaand omstreeks 21:00 gaan stort en Mari het sowat ‘n halfuur later opgestaan om ook te gaan stort. Waar sou hulle slaap en het hulle hul eie beddegoed gebring? As “gasheer” wat die paartjie genooi het, sou ‘n mens tog reken hy sou wou seker maak hulle is gemaklik vir die nag voor hy self gaan slaap het?
Foto: Die oopplan-badkamer met stort is lekker ruim en lugtig met genoeg vensters en selfs ‘n groot uitloop onder teen die stortmuur vir die water om direk na buite te loop wat ook ekstra ventilasie verskaf. Daar is geen stortdeur nie – alles is oopplan met die stort om die draai vir privaatheid.



Foto: Die kliphuisie se drie kamers wat ses mense kan huisves. Daar was geen linne of beddegoed in die kamers gedurende die grendeltyd nie.



Wat het Jéan se voertuig Saterdag langs die rivier en so naby die water gesoek dat dit vasgeval het en die volgende dag (Sondag) deur ‘n trekker uitgesleep moes word? Volgens Kevin het geen voertuig nog by die rivier vasgeval nie omdat niemand dit so na aan die water waag met ‘n voertuig nie.
Foto: Kevin Pretorius staan hier by die plek langs die rivier waar Jéan se voertuig vasgeval en die Sondag ná die tragedie met ‘n trekker uitgesleep moes word.

Hoeveel drank was betrokke en is die oorledenes se bloedalkoholvlakke ook getoets? Foto’s wat in die ondersoek op die toneel geneem is, wys ‘n redelike hoeveelheid drank – insluitende die berugte Karriebier met ‘n skop soos ‘n donkie – was betrokke wat ‘n groot bydraende rol tot koolstofmonoksiedvergiftiging kan speel. Is ‘n toksikologieverslag met hoë koolstofmonoksied-vlakke voldoende om die oorsaak van dood te bepaal, of is daar ook getoets vir ander middels wat ‘n bydraende faktor kon wees?


AI Overview
A high carboxyhemoglobin (COHb) level in a toxicology report is a key indicator but is not sufficient on its own to prove death from a gas leak; it must be corroborated by surrounding circumstances like evidence of a faulty gas appliance or ventilation issue, as well as the absence of other potential causes of death. While high COHb levels, typically above 25%, are a strong sign of carbon monoxide poisoning, the interpretation can be complicated by factors such as age, smoking status, existing health conditions, and other substances like alcohol that influence susceptibility and baseline COHb levels.
What Else Is Needed
Drugs and substances that increase risk
- Alcohol: Makes people drowsy and less likely to detect the subtle signs of CO poisoning.
- Sedative-hypnotics: Certain prescription and illicit drugs that cause sleepiness and central nervous system depression increase the risk of CO poisoning.
- Opioids: Similar to other sedatives, opioids can impair consciousness and increase the danger from CO exposure.
- Methylene chloride: This chemical, found in some paint removers and industrial solvents, is converted to carbon monoxide by the liver after exposure. The body releases the CO gradually, leading to a delayed and prolonged poisoning effect that can last for many hours after the initial exposure.
- Methamphetamine: Can have a combined toxic effect with CO, potentially causing cardiac issues that lead to death at lower CO levels than would otherwise be lethal, as discussed in this SpringerOpen article.
Why they increase risk
- Impaired consciousness: Substances that cause sleepiness can prevent a person from recognizing symptoms of CO poisoning and from taking action to get to fresh air.
- Synergistic toxicity: In some cases, the effects of the drug and the CO can combine, leading to more severe health consequences than either substance would cause on its own.
- Delayed and prolonged exposure: Methylene chloride is a unique case because it is metabolized into CO, meaning the poisoning can continue to worsen even after the person is no longer breathing the chemical fumes.
Lees ook:
Dit is so lekker om vir n slag die waarheid te hoor oor die gebeure by die Kouga kliphuis en wie Kevin Pretorious werklik is. Dankie vir die waarheid! Kevin is n rots in ons gemeenskap, en hy en sy kinders en almal wat vir hulle lief is en omgee het nou al lank genoeg moes luister na al die media se leuns en sensasie soekery!
Dankie Eric – ons werk hard daaraan om die waarheid agter dié tragedie te ontbloot en te keer dat ‘n onskuldige Pa wat sy buurman ‘n guns gedoen het, langer aan die pen ry weens ‘n skrikwekkende mediagedrewe klomp leuens wat GEEN feitelike been het om op te staan nie. Nie EEN van die klomp getuies het ENIGE mediese bewyse dat hulle “siektes en simptome” deur koolstofmonoksied-vergiftiging veroorsaak is nie. Skrikwekkend dat die saak so ver in die hof gegaan het sonder ENIGE konkrete feite en bewyse . . . wys maar net weer die MAG van die media om mense te beïnvloed, te breinspoel en selfs die juridiese stelsel te kaap.
Dankie Eric – jy bevestig wat almal in die Kouga-omgewing sê. Mag die hele gemeenskap nou saamstaan om dié mediagedrewe “hofsaak” wat op GEEN bewese feite berus nie, uitgegooi te kry, want dis ‘n totale verkragting van die juridiese stelsel.
Dankie vir die waarheid.
Ek ken Kevin amper 8 jaar. Van dag een af het ek altyd gese dis die mees ordentlikste man wat ek al ontmoet het. Altyd bereid om te help! Altyd bereid om raad te gee! Altyd beskikaar om uit te help!
Alles met n hart van goud inruil vir niks nie.
Hy is altyd net tevrede as hy weet hy kon jou uithelp.
Sout van die aarde man wat nooit iets terug verwag na hy jou gehelp het nie
Dankie Tommie – jy bevestig wat almal in die Kouga-omgewing sê. Mag die hele gemeenskap nou saamstaan om dié mediagedrewe “hofsaak” wat op GEEN bewese feite berus nie, uitgegooi te kry, want dis ‘n totale verkragting van die juridiese stelsel.
Ons is ook bure van Kevin en het ook al
In die Kliphuis gebly. Ek was verbaas dat mense tydens Covid as groep vriende daarheen kon gaan maar stomgeslaan oor die wending wat die saak later geneem het . Baie dankie dat julle vir die eerste keer die feite eerlik weergee! Kevin was die eerste wat erken het dat hy as pa ook sou wou weet wat met sy kinders gebeur het en verstaan die ouers se besorgdheid ! Vyf jaar van Kevin en sy dogters se lewe is versuur deur valse beriggewing en uitgerekte hofsake en gevolglike kostes! Baie dankie weereens namens die hele gemeenskap.
Dankie Petty – jy bevestig wat almal in die Kouga-omgewing sê. Mag die hele gemeenskap nou saamstaan om dié mediagedrewe “hofsaak” wat op GEEN bewese feite berus nie, uitgegooi te kry, want dis ‘n totale verkragting van die juridiese stelsel.
Dit maak my vreeslik bang oor die media wat word als gese sonder feite en navorsing!!
Baie dankie dat julle die moeite doen, en eintlik vrae vra, dat julle die waarheid soek. Dankie dat julle ander mense se werk vir hulle doen! Ek is dankbaar dat daar uiteindelik iemand is wat in die media vir hom en die waarheid veg!
Dankie Simoné – as oud-joernalis hang ek al 25 jaar my kop in skaamte oor wat in die gekaapte “hoofstroommedia” aangaan. Enigeen wat nog inligting oor die saak het om verder die waarheid te onthul, kan my gerus kontak by 0842401540. Dié skandalige media-gedrewe hofsaak het ver genoeg gegaan om ‘n onskuldige mens se lewe te verwoes ten einde die waarheid toe te smeer.
Ek het vir Kevin na die gebeure ontmoet en leer ken. Ek kan nie een slegte woord can Kevin sê nie. Dit is tyd dat die waarheid uitkom.
Ek Ken vir Kevin Al Meer as 17 jaar en as mense se hy is sout van die aarde is dit werklik die waarheid, Kevin Sal die laaste R5 in sy sak vir jou gee, solank hy Kan help. HY IS n Wonderlike PA en Sal als vir sy dogters doen, net soos hy vir Ander mense ook Sal doen. Ek hoop mense beef wat hul partykeer se en aantuigings mk op sosiale media n groot Inpak op mense se lewens Kan mk, Kevin Ou maat ek staan saam jou met als, n beter persoon as jy Sal n men’s nie sommer kry nie
Dankie Arthur – ‘n dorp MOET opstaan en saamstaan vir sy mense as ONgeregtigheid hul lewens verwoes.
Tot die dag VOOR die dokumentêr was dit vir my net ń tragedie. Na die dokumentêr was ek oortuig dat die dokumentêr gemaak is om die regstelsel te manipuleer.
1. Waarom ń voortydige dokumentêr
2. Volgens my sou sy regsverteenwoordiger hom aanbeveel om nie met die media te praat.
3.Die vervaardigers behoort die regstelsel te ken.
4. Waarom ń dokumentêr maak waar jy
VERSEKER IS van eensydigheid.
5.Wonder of die vervaardigers van die dokumentêr hulself nou gaan probeer regverdig of gaan hul opstaan vir die waarheid.
T
Tot die dag VOOR die dokumentêr was dit vir my net ń tragedie. Na die dokumentêr was ek oortuig dat die dokumentêr gemaak is om die regstelsel te manipuleer.
1. Waarom ń voortydige dokumentêr
2. Volgens my sou sy regsverteenwoordiger hom aanbeveel om nie met die media te praat.
3.Die vervaardigers behoort die regstelsel te ken.
4. Waarom ń dokumentêr maak waar jy
VERSEKER IS van eensydigheid.
5.Wonder of die vervaardigers van die dokumentêr hulself nou gaan probeer regverdig of gaan hul opstaan vir die waarheid.
My ervaring van die gekaapte korporatiewe media is dat hulle NOOIT hul foute salerken of regstel nie . . . Inteendeel. Alles gaan oor SENSASIE en om kykersgetalle te probeer lok – seks, sensasie en sport. Wonder net WIE het na Carte Blanche toe gehardloop en die vier “vriende van vriende van vriende” oortuig om meineed te pleeg, wetende dat hul mediese toetse NEGATIEF getoets het vir koolstofmonoksied? Almal verstaan die ouerpare se hartseer, maar om ‘n onskuldige mens se lewe te wil verwoes uit wraak gaan jou in die voet byt – die blinde sambok slaan HARD.
Ons as gemeenskap sal nie ophou om te bid vir Kevin nie. Sjoe, Kevin is regtig een van die dierbaarste mense wat ek ken.
Ek wens dieselfde erns kan ingaan om te bepaal wat die hoof oorsaak van onnatuurlike dood onder ons pragtige jeug is. OF gaan daar gesê word,drank en ander middels is nie die oorsaak van hul dood nie. Hartseer om te sien die moeite wat ingesit is om ń ONSKULDIGE man te laat boet vir die dood van die kinders
Ek ken die Pretorius familie persoonlik. Ek sal nie in ‘n miljoen jaar glo dat Kevin Pretorius skuldig is aan moord nie. Hy is ‘n goeie mens en familie man. Ek hoop en bid dat sy onskuld onteenseglik bewys kan word!!
Ek glo die saak sal MOET uitgegooi word – die staat het GEEN been om op te staan nie. In lande met ‘n juriestelsel sou dit ‘n mistrial kon wees . . .
Ek het Kevin in 2020 ontmoet en ons het dadelik vriende geword, ek is eers later deur ‘n gemeenskaplike vriend vertel van die fratsongeluk en dat Kevin geimpliseerd was. Wat my baie opgeval het was hoe Kevin nooit iets negatiefs gesê het oor die saak nie, nie ‘n slegte woord teenoor Stephan nie. As dit ek was sou ek ‘n bohaai opgeskop het oor al die beskikbare feite, ek sou aangedring het daarop dat almal moes weet wat my aandeel was en nie was nie, ek sou wou hê mense moes die vrae vra wat nou hier gevra word – maar nie Kevin nie. Selfs voor ‘n hofsaak wanneer sy spanningsvlakke op die hoogste was, het hy selfbeheersd geantwoord “bid net vir my”, wanneer ek vra of daar iets is wat ek vir hom kan doen. Hy het nie een keer sy humeur verloor en uitgevaar teen die onregverdigheid wat hom en sy dogters aangedoen word nie. Hy het sy kop hoog gehou en vertrou dat God aan sy kant is. Ek haal my hoed vir hom af.
Soveel van ons het -en bid steeds-dat die waarheid moet uitkom en reg sal geskied, en persoonlik voel ek hierdie is ‘n antwoord op ons gebede, hierdie is die begin van geregtigheid. Baie, baie dankie dat jy die moeite gedoen het en tyd gevat het om ons vriend se saak te beskryf soos wat dit van die begin af gedoen moes word.
Baie dankie vir jou mooi getuigskrif oor Kevin – dis wat almal ook sê. Ek glo die WAARHEID wen ALTYD en Kevin se storie help om die MAG van die MEDIA om selfs juridiese uitsprake te beïnvloed, aan die groot klok te hang!
My hart breek vir die paartjie en hul families. Maar ek voel ook vir die eienaar – dis onregverdig as iemand aangekla word van moord oor ‘n ongeluk. Ons moet versigtig wees om nie die menslikheid aan beide kante te verloor nie.
Dankie vir jou mooi comment. Dis fir eerste comment wat ek kan lees sonder n knop in my keel en jou menslikheid kan voel. Ons as Mari se gesin kry ook swaar.
Almal hier het BAIE simpatie met die geliefdes van die oorledenes, dis vir seker. Dis ongelukkig net nie reg dat ‘n onskuldige man nou vyf jaar lank moes “boet” vir iets waaraan hy geen skuld gehad het nie, so hopelik kom die volle waarheid nou uit om dit te keer. Almal soek eintlik net die waarheid wat tot dusver verdoesel is omdat die enigste getuie, Stephan du Plessis, weier om te praat oor wat regtig gebeur het.
Ek kan net dankie se dat daar nog joernaliste is wat bereid is om die waarheid te wil vertel.
Oor Kevin se persoonlikheid kan ek nie meer se as wat reeds gese is nie. Hy is stil, hardwerkend en is die laaste mens wat iemand sal wil skade aandoen.
Ek voel jammer oor die twee jongmense wat oorlede is. Dit is tragies en ek voel ook vir die ouers van die twee.
Ek voel ook jammer vir Stephan wat se hy wil nie betrokke raak nie. Hy het die braai gereel en die mense genooi. Sonder hom sou daar niemand gewees het nie. So hy is nie net betrokke nie, maar hy is die oorsaak van alles.
As jy kyk na die hoeveelheid drankbottels wat daar staan moes daar nog mense gewees het. Drie mense kan nie al daai drank opdrink in een middag nie.
Hoekom word die mense wat daar was nie gevra om te getuig nie. Hulle is tog ooggetuies.
Hoekom word die vrae wat hier gevra word nie in die media gevra nie?
Hoekom kom die vrae na vyf jaar eers uit. Die saak hou baie langer aan as Oscar Pistorius se saak.
Ek dink net as die regte vrae aan die begin gevra is kon die waarheid al bekend gewees het baie geld kon gespaar gewees het. Geregtigheid is om die waarheid te weet voor beskuldigings gemaak word.
Baie dankie Colin – jy is reg. Dit is onverstaanbaar en onverklaarbaar dat die mees logiese vrae in vyf jaar NOOIT in enige korporatiewe media gevra of uitgelig is nie. Die hele saak is van die begin af gebou op en gedryf deur sensasionele media-histerie wat net gefokus het op die smart van die oorledenes se familie en om ‘n sondebok te soek om te blameer. Ongelukkig. Mag die waarheid en geregtigheid nou seëvier voordat die tragedie nóg ‘n onskuldige slagoffer eis.
Het hulle ooit getoets hoeveel suurstof is beskikbaar in die badkamer na die stort aan geskakel word en wat die konsentrasie koolstofmonoksied was in +-30 minute, en hoe voldoende die (stort uitlaat) ventilasie was? Want dis vreemd dat die jonk al reeds lank in die stort was toe die jong dame by hom aansluit en hy toe nog geen simptome gedui het nie, want klink of die sogenaamde getuies redelik vinnig deur die gas omvang was en ernstig ook?
Die hele saak is van Dag 1 af gekaap en die nuwe bewyse dat Mari Hoon nog om 23:19 op haar selfoon Whatsapp-boodskappe aan ‘n familievriend in Pretoria gestuur het, weerlê ALLE getuienis in die saak. Die gekoopte Carte Blanche-program waarin “vriende van vriende van vriende” van die Vosloo-gesin hartverskeurende getuienis gelewer het oor hoe “siek hulle was en amper dood was van koolstofmonoksiedvergiftiging” het totaal platgeval omdat nie EEN positief getoets het vir koolstofmonoksied-vergiftiging nie en almal kastig gekla het van “gasreuke” terwyl koolstofmonoksied totaal reukloos is. Almal het dus nog om 23:19 gelewe nadat Jéan en Mari glo al teen 21:00 gaan stort het, maar wat het gebeur nadat Mari se selfoongesprek met ‘n familievriend daarna onderbreek is en sy net stilgeraak het? Waar was Jéan se Rottweiler-hond die hele nag dat hy ná die voorval so aggressief geraak het dat hy uitgesit moes word? Soveel inligting het NOOIT in die hofsaak uitgekom nie. Wat het Jéan Vosloo se voertuig onder by die rivier gesoek en wanneer het dit daar vasgeval? Dit is eers die Sondag deur Stephan du Plessis se Pa, Henry, se trekker uitgesleep? Daar is vir geen ander middels behalwe koolstofmonoksied en alkohol getoets nie (albei hoog), wyl medikasie en dwelms ‘n reuse-invloed het op die vlakke van koolstofmonoksied in die bloed. Ongelukkig is Pretorius se prokureur Alwyn Griebenow en die magistraat Vusiwe Mnyani al lank in persoonlike vetes gewikkel nadat hy al in vorige sake versoek het dat sy vervang word weens haar partydigheid. Die hele saak sal hersien moet word en getuies gedwing word om te praat – hetsy deur selfoonrekords of leuenverklikkertoete, want dié saak is die ergste voorbeeld van verkragting van die juridiese stelsel en geregtigheid denkbaar. Ongelukkig is albei slagoffers blitsvinnig veras, sodat geen verdere bloedtoetse of ondersoek gedoen kan word nie. Voorts sit die hele Oos-Kaap nou ook sonder ‘n adjunk-regterpresident nadat regter David van Zyl vroeër vanjaar afgetree het en nie een van die amptelike telefoonnommers word beantwoord of beman nie. Die juridiese stelsel in die land is verrot tot op die been!