Weskus eerste met myCivicCentre-toep
Goeie nuus is dat Langebaners en alle weskussers in die Saldanhabaai munisipale gebied vanaf 15 Augustus al hul munisipale sake sommer direk met hul slimfoon sal kan kafdraf. Geen parkeerprobleme, lang rye en administratiewe rompslomp meer om munisipale rekeninge en verkeersboetes te betaal nie – dis nou as die indrukwekkende nuwe myCivicCentre-toep wat mense op hul slimfone kan registreer, so toep-top werk as wat almal hoop.
Al ooit gewonder WIE om te kontak oor stukkende waterpype, slaggate en verkeersligte wat nie werk nie? Geen probleem. Jy kry dadelik toegang tot die telefoongids van al die departemente en hul dienste en kan dus onmiddellik enige probleem by die régte mense aanmeld – sommer mét ‘n foto en die presiese ligging danksy globale posisionering (GPS).
Dié nuwe breinkind wat ten doel het om munisipale dienslewering vinniger, beter en meer omvattend te maak, is boonop nog net vir weskussers beskore danksy ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die Duitse sagtewaremaatskappy HSH Global Software en munisipale amptenare. Boonop kos dié slim kind die weskus se belastingbetalers nie ‘n sent nie omdat HSH dit die afgelope 18 maande gratis ontwikkel het en die projek hier geloods word voordat dit later aan ander munisipaliteite verkoop sal word.
Burgemeester Francois Schippers en munisipale bestuurder Louis Scheepers meen dié elektroniese diens sal nie net munisipale dienste bespoedig nie, maar ook administrasiekoste verlaag en sorg dat baie minder mense noodgedwonge munisipaliteit toe hoef te gaan. Die toep werk boonop op enige slimfoon wat internetverbinding het, wat dit binne bereik van die meeste belastingbetalers stel. Jy hoef net een keer te registreer en siedaar – jy het dadelik toegang tot ‘n magdom munisipale inligting op enige plek en tyd. Dit is ook gebruikersvriendelik en stel gebruikers in staat om die naaste kantoor deur GPS te kry en dienstevorms af te laai en na die naaste drukker te stuur.
Voorwaar ‘n slim kind wat alle weskussers waarskynlik met ope arms sal verwelkom – solank hy werk soos hy spog! Die myCivicCentre-toep is op 27 Julie amptelik op Vredenburg bekendgestel deur HSH Global Software se hoof van sakeontwikkeling, Phillip Frhr. von Bodenhausen en Barbara Feist. Die diens sal van 15 Augustus af beskikbaar wees.
(Bron: Weslander)