In nog ‘n dramatiese nuwe wending in die opspraakwekkende Kareedouw-tragedie is ‘n Kaapse senior regspan op die vooraand van vonnisoplegging op 19 en 20 Februarie 2026 ingebring. Die aanstelling van die nuwe regspan onder leiding van senior advokaat Francois van Zyl, bygestaan deur adv. Christopher Quinn en opdraggewende prokureur Cornel Stander van Stander Attorneys, volg kort ná die toetrede van forensiese kenner Dr. David Klatzow in Desember 2025 om antwoorde op pertinente vrae te probeer kry wat nooit in dié voortslepende saak ondersoek of beantwoord is nie.




Die uitgerekte saak spruit uit die tragiese gebeure waarin ‘n jong verloofde paartjie, Jéan Vosloo (25) en Mari Hoon (28), gedurende die langnaweek van 27 April 2020 onverklaarbaar dood aangetref is in die stortgedeelte van die badkamer in die gewilde Kouga Kliphuis op die oewer van die Kouga-rivier buite Kareedouw. Die saak het ‘n ongekende mediasensasie veroorsaak wat uit die staanspoor net gefokus was op gaslekkasies en koolstofmonoksiedvergiftiging.

In ‘n onverwagse wending is die eienaar van die plaas Zuuranys, Kevin Pretorius (53) skielik van dubbele moord aangekla en in Maart 2025 in ‘n baanbreker-beslissing deur landdros Vuziwe Mnyani, skuldig bevind omdat hy nie tydens die Covid19-inperkings geweet of voorsien het dat die skoorsteenpyp van die stort se gasgeiser uit die stortmuur verwyder is nie. Hoe en wanneer dié pyp uit die muur gekom het in die maand wat die Kouga Kliphuis tydens die Covid19-inperkings in onbruik was, is steeds ‘n raaisel. Die skielike afwesigheid van dié pyp wat skadelike gasse na buite herlei, is egter die enigste faktor wat moontlik tot koolstofmonoksiedvergiftiging kon lei.
Pretorius se oorspronklike hoëprofiel-regspan, die bekende Oos-Kaapse prokureur Alwyn Griebenow en senior adv. Peter Daubermann, het intussen om onverklaarbare redes verkies om hulle eerder aan die saak te onttrek as om in ‘n ondersteunende hoedanigheid saam met die nuwe Kaapse regspan te werk.


Klatzow se ondersoek het kritieke inligting ontbloot wat nooit in die uitgerekte hofsaak genoem is nie en wat na bewering wel destyds onder die staat se aandag gebring is, maar bloot geïgnoreer is. Omdat die nuwe regspan so kort voor vonnisoplegging ingeroep is, kon vonnisoplegging nie op so ‘n kort kennisgewing uitgestel word vir dringende aansoeke om appèl en hersiening van die saak om dié ongerymdhede en onbeantwoorde vrae te ondersoek nie. Dié dringende aansoeke sal waarskynlik nou ná vonnisoplegging op 19 en 20 Februarie in die streekhof in Port Elizabeth (Gqeberha) gebring word.
AGTERGROND:
Die gewilde Kouga Kliphuis waar honderde vriende en besoekers die afgelope 25 jaar naweke en vakansies kom deurbring het, was sedert Maart 2020 amptelik gesluit vir gaste tydens die Covid19-inperkings. Geen dienste, onderhoud of toesig is in dié tyd gedoen nie. Pretorius se buurseun, Stephan du Plessis (nou 30), het destyds toestemming gevra of hy en ‘n paar vriende desondanks tydens die langnaweek op eie verantwoordelikheid daar kan kom kuier en braai.

Aangesien die Du Plessis-familie as vriendskaplike bure al lank die grond vir weiding huur en die plaas en Kliphuis goed ken, het Pretorius later goedgunstiglik ingestem dat hulle gratis en op eie verantwoordelikheid daar kan kom braai en ontspan, solank hulle hom nie steur of pla nie.
Du Plessis het getuig dat hy die betrokke Saterdagaand vroeg gaan slaap het en eers die volgende oggend die paartjie se lewelose liggame in die stortgedeelte van die badkamer gekry het. Volgens sy getuienis het Jéan al omstreeks 20:30 gaan stort en het Mari hom kort daarna gevolg. Hy het hulle glo nie weer daarna gesien nie, hoewel selfoonbewyse toon dat Mari nog tot 23:19 in ‘n intieme Whatsapp-gesprek met ‘n Pretoriase familievriend was.

Van die kritieke vrae wat nooit die afgelope ses jaar bevredigend beantwoord is nie:
Wat het Jéan se geliefde Rottweiler, Kaizer, daardie noodlottige nag so getraumatiseer dat hy kort daarna uitgesit moes word omdat hy onhanteerbaar aggressief geraak het? Hoe is dit moontlik dat Stephan du Plessis nie deur die hond wakker gemaak is as Kaizer so getraumatiseer was nie? Jy nooi tog nie gaste na ‘n plek waar hulle nog nooit was en gaan slaap dan vroeg voordat jy weet hulle (en hul hond) is goed ingerig en gemaklik vir die nag nie?

Hoeveel vriende het Stephan du Plessis destyds genooi om daardie naweek by die Kouga Kliphuis te kom kuier en braai as hy en Jéan Vosloo AGT bottels Karriebier wou koop saam met al die ander drank wat ook op die toneel gevind is? ‘n Betroubare bron het bevestig dat Stephan ‘n paar dae voor die noodlottige naweek twee bottels Karriebier by ‘n plaaslike kuierplek in Kareedouw bestel het. Op die betrokke oggend het Jéan Vosloo en sy verloofde, Mari Hoon, daar opgedaag om die Karriebier te ontvang. Jéan wou egter nog ses bottels hê, maar die eienaar het gesê hy het nie meer nie.



Hardekkige gerugte dat ‘n groot groep van Stephan en Jéan se vriende wel vroeër die dag ook langs die rivier en by die Kliphuis was, kon nooit bevestig word nie. Die ander vriende wat saam sou kom kuier en almal op een van Trevor Elliot se naburige plase werk, het na bewering van plan verander en nooit Saterdag opgedaag nie. Jéan se viertrekvoertuig moes egter die Sondag deur ‘n trekker van Stephan se Pa, Henry du Plessis, uitgesleep word waar dit naby die rivier vasgeval het.

Niemand weet wie en wanneer daar dié betrokke Saterdag langs die rivier gekuier is nie. Die vraag bly egter hoe soveel leë drankbottels wat op die toneel gevind is, deur net drie mense gedrink kon gewees het in so ‘n kort tydjie – veral as in ag geneem word dat Mari meesal wyn en nie harde drank gedrink het nie en Stephan glo al 21:00 gaan slaap het? Daar was na bewering ook nog leë drankbottels in die voertuie wat ook nooit as bewysstukke ingedien of getoets is vir DNS nie. Die relatief lae bloedalkoholvlakke van 0,10% en 0,12 % onderskeidelik in albei slagoffers se bloed druis ook reëlreg in teen die hoeveelheid drankbottels wat op die toneel gevind is. Du Plessis se bloedalkoholvlakke is ook nooit getoets nie.
Dit is ook baie onwaarskynlik dat Mari en Jéan presies dieselfde bloedalkohol- en koolstofmonoksied-vlakke sou hê as wat in die outopsieverslag bevind is?

Die feit dat Stephan nooit getuig het wat en of hulle gebraai het en/of wat en wanneer hulle geëet het nie, is ewe vreemd as die feit dat die maaginhoud van die oorledenes nooit in die nadoodse ondersoek ontleed is om ‘n benaderde tyd van dood te probeer bepaal nie. Is dit nie standaard-prosedure in so ‘n geval nie?
Die dokter wat blykbaar albei outopsies sonder toesig of bystand uitgevoer het en ook albei verslae saamgestel het, dr. Poshani Cooposamy, het volgens haar eie getuienis in die hof in daardie stadium nog net vier maande as mediese dokter in die forensiese patologie-departement van die Uitenhage Provinsiale Hospitaal gewerk en was dus nie ‘n gekwalifiseerde patoloog wat sonder toesig of bystand van ‘n geregistreerde forensiese patoloog outopsies kon uitvoer nie – veral nie in so ‘n ernstige dubbele moordsaak waar die presiese oorsaak van dood van kardinale belang is nie. Hoekom is haar kwalifikasies en ervaring nooit in die hof bevraagteken nie? Forensiese patologie is tog ‘n spesialisveld wat minstens vier jaar gevorderde studie en intensiewe eksamens verg weens die gevorderde mediese/regsaspek wat dié spesialisveld dek.
Suurstofvlak-toetse wat ná die tragedie deur ‘n kenner met ‘n kers in die stort gedoen is, het bevind dat die kersvlam ná ‘n driekwartier steeds sterk gebrand het. Die watertenk en gasbottel was albei ná die tragedie dolleeg. Hoe lank moes iemand dan in die stort gewees het om weens koolstofmonoksiedvergiftiging te sterf – veral as die gat in die stortmuur waar die skoorsteenpyp moes wees, genoeg ventilasie sou verskaf saam met die groot wateruitlaatgat op die stortvloer? Boonop is die ruwe en onafgewerkte klipgebou en dak nie dig verseël soos ‘n baksteenhuis s’n nie en is daar oral openinge waar lug inkom. Die stort is deel van ‘n oopplan-badkamer en daar is ook geen stortdeur wat ventilasie beperk nie.




‘n Whatsapp-gesprek wat Mari Hoon op die betrokke aand vanaf 22:29 tot 23:19 met ‘n familievriend in Pretoria gevoer het, druis ook lynreg in teen Stephan du Plessis se tydlyn en die algemene veronderstelling wat in die hof geskep is dat Jéan omstreeks 20:30 gaan stort het en dat Mari hom ‘n tydjie later gevolg het en albei in die stort deur koolstofmonoksied oorval en vergiftig is. Dit sou beteken het dat die paartjie drie uur lank gestort het?



Dit is baie onwaarskynlik dat Mari ‘n vertroulike gesprek met ‘n familievriend in die stort of badkamer sou hê waar Jéan by is en dus kan afgelei word dat sy minstens ‘n uur lank NIE by Jéan in die stort was nie en dus baie korter blootgestel sou wees aan koolstofmonoksied? Tog is hul liggame langs mekaar in die stort gekry met dieselfde koolstofmonoksied-vlak van 70%?

Sou Mari ná daardie intieme en private ontboesemingsgesprek met ‘n huisvriend weer saam met Jéan gaan stort het? Die waarskynlikheid hiervan is baie skraal en verduidelik ook nie die feit dat die koolstofmonoksied hulle dan blykbaar nie tydens die eerste stortsessie oorval het nie, maar eers drie ure later?
Staat se getuies
‘n Standaard geregtelike doodsondersoek is ná die tragedie begin en twee maande ná die voorval, is ‘n uiters sensasionele Carte Blanche-program aangebied waarin “vriende van vriende van vriende” van Dr. Lawton Vosloo en sy vrou, Christelle, in hartverskeurende besonderhede vertel hoe hulle tydens ‘n besoek aan die Kliphuis in 2019 gas geruik en ná ‘n stortsessie skielik baie siek geraak en by die dood omgedraai het.
Ná die tragedie het hulle na vore gekom en getuig hulle glo dit “moes koolstofmonoksiedvergiftiging gewees het” hoewel nie een van hulle ooit positief getoets of behandel is daarvoor nie. Koolstofmonoksied is buitendien ook totaal reukloos. Dié Carte Blanche-uitsending waarin die aanbieders nooit vooraf aangedring het op mediese bewyse van koolstofmonoksiedvergiftiging nie, het die verloop van die ondersoek en saak oornag verander en beïnvloed. Skielik was alle klem op gastoestelle en die gas-geisersilinder met sy skoorsteenpyp (flue) wat die gas na buite herlei.


Geen aandag is verder gegee aan die presiese gebeure van die betrokke dag en aand nie en Stephan se uiters karige “getuienis” dat hy vroegaand gaan slaap het en niks weet nie, is onseremonieel aanvaar . . . selfs al het dit nie sin gemaak nie.
Toe Kevin hoor hy word skielik aangekla van dubbele moord, moes hy dringend regsverteenwoordiging kry. As eenvoudige plaasboer wat selde buite Kareedouw kom en niks weet van regsaangeleenthede nie, moes hy by vriende rondvra wat hom te doen staan. Hulle het die befaamde Oos-Kaapse prokureur Alwyn Griebenow aanbeveel wat bekendheid verwerf het met sy verdediging van berugte beskuldigdes in hoëprofielsake soos die Panayiotou-moordsaak en die reeksmoordenaar Stewart “Boetie Boer” Wilkens.

Hierdie goedgunstelike “raad” om so ‘n bekende regsverteenwoordiger aan te stel, was egter die begin van Kevin se hel wat hom dalk van die begin af ‘n regverdige verhoor gekos het. Griebenow het teen daardie tyd ‘n reputasie gehad dat hy opperste skelms en moordenaars verteenwoordig en by implikasie “moes Kevin dus ook skuldig wees” anders sou hy nie so ‘n prominente en berugte regsverteenwoordiger nodig gehad het nie.
Dié publieke gevolgtrekking is ook in die hofsaak gehuldig deur die staatsaanklaer Johan Jansen wat dit al met sy eerste kennismaking met Kevin tydens kruisondervraging genoem het. Boonop het die magistraat Vuziwe Mnyani en Griebenow ook ‘n lang geskiedenis en het hy al in ‘n vorige saak versoek dat sy vervang word weens haar “partydigheid” en openlike voorkeur aan die staat.
Griebenow is bygestaan deur die ewe omstrede voormalige adv. Peter Daubermann wat deesdae as prokureur praktiseer. Hy het destyds erg deurgeloop onder kritiek en betogings van hofgangers omdat hy die Nigeriese pastoor Timothy Omotoso verteenwoordig het wat tereggestaan het op 32 klagtes van verkragting, seksuele aanranding en mensehandel. Die uitgerekte saak waarin Omotoso en sy twee mede-beskuldigdes uiteindelik almal in die Gqeberha Hoër Hof vrygespreek is op alle aanklagte, is steeds ‘n groot bron van omstredenheid in SA regskringe.

“The high court have found Nigerian televangelist pastor Timothy Omotoso and his co-accused Lusanda Sulani and Zukiswa Sitho, not guilty of 32 charges including rape, sexual assault and human trafficking. In her ruling judge Irma Schoeman said the state had failed to prove its case beyond a reasonable doubt. Omotoso was arrested eight years ago while his co-accused were out on bail.
Lawyer representing rape-accused Nigerian pastor Timothy Omotoso‚ has asked presiding officer Judge Mandela Makaula to recuse himself from the case.
Sedertdien het die Kareedouw-saak net een rigting gevolg ondanks GEEN stawende bewyse nie. Geen poging is aangewend om al die hangende vrae te beantwoord of teenstrydige bewyse in te samel nie. In Maart 2025 is Kevin deur Mnyani in ‘n skokkende “baanbreker-bevinding” skuldig bevind op twee klagte van moord met voorbedagte rade.
Lees ook die vorige berigte: