Kuns gee jeugorkes vlerke
Die Weskus Jeugsimfonie-orkes is op pad Europa toe op uitnodiging van die Europese Simfonie-Jeugfees.
‘n Verrassingselement van die Gala-aand op Donderdag 4 Augustus 2016 is die uitstalling van musiek-geïnspireerde kunswerke deur SA kunstenaar Bert du Plooy wat klassieke musiek gebruik as vertrekpunt vir studente in sy kunsklasse.
Die inspirasie vir hierdie uitstalling kom van die Jeugorkes se bestuur af nadat Bert aangebied het om die helfte van sy verkope te skenk aan die finansiering van hul oorsese toer.
Hierdie versameling bestaan uit 15 portretskilderye en 30 houtskooltekeninge (A3-grootte) van die wêreld se beste komponiste van klassieke musiek.
‘‘Bewustheid van en liefde vir klassieke musiek is die onderliggende motivering vir hierdie projek,” sê Bert, wat sy werk met opvoedkundige waardes koppel.
“Al die kunste – musiek, letterkunde, poësie, beeldhou, argitektuur, ens. deel die gemeenskaplike riglyne van vorm, lyn, kleur, tekstuur, tonaliteit, toepassing en komposisie.”
Die intrinsieke waarde van hierdie uitstalling is die opvoedkundige en ontblotingswaarde daarvan, soos die musiekliefhebber ‘n toeskouer word en meegesleur word om die bekende of onbekende musiek te koppel aan die visuele personae van die komponiste. Só word die 3B’s geëdentifiseer (Bach, Beethoven, Brahms) asook ander en minder bekende komponiste soos Rimsky Korsakov, Prokofiev, Bartok, Mahler en Donizetti (vader van die opera) ens.
Die dertig houtskooltekeninge is uitgevoer op 300 gsm museum-gehalte argiefpapier wat geannoteer word met byskrifte (agterop of voorop) met die komponis se persoonlike lewe en prestasies, insluitende sy musiekluistergids wat sy genre reflekteer.
Volgens Bert beskik hierdie kunswerke oor die potensiaal om ‘n “fokuspunt van gesprekvoering te skep wat die toeskouer intrek”.
Die unieke uitstalruimte in die saal van die Curro-skool op Langebaan is gekies vir die jeugwerk wat daar gedoen word met opvoeding en opleiding.
Besoek asseblief https://www.backabuddy.co.za/west-coast-youth-orchestra-tour vir meer besonderhede oor WCYO se verdienstelike bydraes tot gemeenskapsontwikkeling op die Weskus.


