Engen 1 Stop weer oop en aan die gang ná gewapende rooftog

Drie mans en vrou met pistole aangehou, niemand beseer

Engen2

“Teen die tyd dat mense gehoor het hier was ‘n gewapende roof, was ons al weer oop en aan die gang.”

Hein Wittstock, eienaar van die gewilde Engen 1 Stop en Wimpy Restaurant op die N27 buite Langebaan, is dankbaar dat nie een van sy personeellede beseer is in Maandagoggend se gewapende rooftog nie, maar ook vasbeslote om nie ‘n slagoffer van die toenemende georganiseerde misdaad te word wat die land in ‘n knelgreep beet het nie.

Die skrikvoorval het Maandagoggend omstreeks 03:00 plaasgevind toe twee voertuie met sewe mans by die vulstasie stilgehou en blitsig toegeslaan het deur vier personeellede met pistole te dreig terwyl hulle die kasregister en kluis beroof. Ander personeellede wat nog aan die agterkant van die vertrek in die Wimpy Restaurant besig was, is gelukkig nie by die voorval betrek nie.
“Gelukkig is my personeel goed opgelei en het hulle nie weerstand gebied op die bevel om te “sleep” nie – menende hulle moes plat gaan lê en stilbly. Die mans was almal goed geklee en het hoflik en flink opgetree – hulle het presies geweet wat hulle doen,” het Wittstock gister vertel.

Volgens die speurbevelvoerder van Langebaan Polisie, speur-adjudant Pieter Lotz, kon danksy kringtelevisiemateriaal gesien word daar was sewe mans – twee in ‘n wit Toyota-bakkie en vyf in ‘n silwerkleurige Hyundai i20 – albei met Kaapse registrasienommers. “Dit is waarskynlik gesteelde nommerplate, want die registrasienommers kon nie in die stelsel opgespoor word nie.”

“Drie van die mans was gewapen met pistole. Een het die petroljoggie wat buite was, na die “joggiekamer” gedwing, terwyl die ander twee gewapende mans die kassiere en twee ander petroljoggies wat binne was, beveel het om op die grond te gaan lê. Hulle het in goeie, hoflike Engels gepraat en was beslis nie buitelanders nie – eerder goed-opgevoede Suid-Afrikaners wat presies geweet het wat hulle doen, soos deesdae met alle georganiseerde misdaad die geval is, ” het Wittstock gesê.

Hy wou nie uitbrei oor hoeveel geld gesteel is nie. “Ek is net dankbaar dat my personeellede veilig is. Hoewel hulle almal weer dié week aan diens was en gesê het dat hulle nie traumaberading nodig het nie, het ons klaar gereël dat hulle wel berading gaan ontvang – net om seker te maak.

“Ek glo nie dié tipe misdadigers wil moor nie – hulle soek kontant en hulle weet ‘n moordklag sal fataal wees. Daarom is ons personeel opgelei om eerder saam te speel as om hul lewe te waag deur weerstand te bied. Dis nie ‘n lekker ervaring nie en ons is reeds besig om die sekuriteitstelsel te verbeter. Ek is meer bekommerd oor die padwerke op die Oostewal-pad wat die polisie se reaksietyd belemmer – hulle moet soveel tydrowende ompaaie ry om hier uit te kom en dit is regtig onaanvaarbaar in ‘n noodsituasie”, het hy gesê.

Volgens speur-adj. Lotz word die saak ondersoek en is daar nog geen verdagtes aangekeer nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *