‘Ek fokus nou net op munisipale sake’ – Marius Koen
Geen nuwe leidrade is nog ontvang wat meer lig kan werp op die makabere “geskenk” wat verlede Vrydag by burgemeester Marius Koen se Langebaan-huis afgelewer is nie. Bespiegelinge dat dit politiek-gemotiveerd is na aanleiding van die onlangse sluipmoord op ‘n ander DA-burgemeesterskandidaat, Johannes Baatjie (49), in Daniëlskuil in die Noord-Kaap, kon ook nog nie bevestig word nie.
“Ek voel veilig met voltydse sekuriteit wat aan my verskaf word en konsentreer nou net op werksake en munisipale aangeleenthede. Dis die begin van ‘n 5-jaar termyn en ons is onder ongelooflike druk om verskeie munisipale projekte uitgerol te kry. Ek steur my in dié stadium ook nie te veel aan die simboliek agter die onderskeie voorwerpe soos die mes wat gebuig was, ens. nie. Ek word goed opgepas en fokus nou net op werk,” het hy gister haastig tussen vergaderings deur op ‘n telefoniese navraag gesê
Koen, wat onlangs as burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit ingehuldig is, wou ook nie kommentaar lewer op die dreigement van toordoktery wat hy vroeër ontvang het nie. “Persoonlik steur ek my nie te veel aan sulke dinge nie. Die Polisie ondersoek die saak en dis tydmors om te spekuleer oor wie daaragter sit en waarom. Ek kan net bevestig daar was nie dooie voëls in die laken nie en die rooi lint was nie om die skilpad se nek gebind nie, maar om sy lyf.”
Dit volg nadat ‘n bebloede en grieselrige “verrassing” wat waarskynlik as waarskuwing bedoel is, verlede Vrydag in die vroeë oggendure op sy voorstoep gelos is. Koen het dit nie raakgesien nie omdat hy by die garage-deur uit is werk toe. ‘n Buurman het na bewering ‘n teëllaar by Koen se huis van die vreemde aflewering vertel en toe vir Koen gebel om huis toe te kom.
‘n Lang, gebuigde mes, ‘n skaapkop, ‘n dooie rot en ‘n lewende skilpad wat met ‘n rooi lint om sy lyf aan die horing van die skaapkop vasgebind was (vermoedelik sodat hy nie kon wegloop nie) is onder meer toegedraai in ‘n laken gevind. Uie, tamaties en ‘n gelamineerde boodskap waarin Koen gedreig word dat alles wat hy besit van hom weggeneem sal word en sy lewe verwoes sal word deur toorkuns, was na bewering ook in die laken.
Koen het na bewering voor dié voorval reeds vreemde dreigoproepe ontvang, maar hom nie veel daaraan gesteur nie en dit afgeskryf as net nog iemand wat griewe het.
‘n Kriminele saak van intimidasie word ondersoek. Die speurtakbevelvoerder van Langebaan Polisie, speur-adjudant Pieter Lotz, het bevestig dat alle moontlike leidrade opgevolg word. Tot dusver is niemand egter nog aangekeer nie.