Luggehaltebestuursplan : ‘n Taai tameletjie
Hoekom word besluite oor die toekenning van mynlisensies op nasionale vlak en nie op provinsiale/munisipale vlak geneem waar sulke bedrywighede gemonitor moet word nie? Mag ‘n verkeersbeampte ‘n oop trok beboet/skut wat skadelike minerale vervoer? Watter nasionale wetgewing of munisipale verordening is van toepassing op oop trokke wat waaiende stof en sand veroorsaak. Is dit stofbeheer of lugbesoedeling en watter maatreëls moet hier toegepas word en deur watter departement?
Dìt is van die moeilike vrae wat gister ter sprake gekom het in ‘n openbare werksessie in Langebaan se ouditorium om die Wes-Kaap se Luggehaltebestuursplan te hersien.
Uit die informele gesprekvoering was dit duidelik dat lugbesoedeling en maatreëls om die gehalte van die lug wat ons inasem te beheer en te verbeter in vandag se nywerheidsera ‘n uiters komplekse en wye veld is. Die monitering van luggehalte behels van gewone voertuiguitlaatgasse, stormwaterpype wat bars en die afbrand van gewasse op plase tot oop trokke wat skadelike metale en mynbouprodukte vervoer. Die ooptrok-vervoer en berging van mynprodukte soos mangaan en skuiwergate in die regulasies oor die berging van erts by Saldanhabaai-hawe het ook onder die loep gekom.
Boonop skep departementele oorvleuelings en wysigings op munisipale verorderings en nasionale wetgewing soveel verwarring en onsekerheid dat niemand meer seker is wie wat moet en mag doen nie. Dis juis hierdie teenstrydighede wat skuiwergate veroorsaak en daar is onder meer gepleit vir ‘n vereenvoudiging en standardisering van reëls en regulasies om die proses te stroomlyn en in ooreenstemming te bring met nasionale wetgewing.
Meer doeltreffende kommunikasie tussen nasionale, provinsiale en munisipale owerhede is nodig, terwyl daar ook gekyk moet word na beter maniere om die gewone man op straat te bereik en te betrek by openbare deelname-prosesse.
Die werksessie was oop vir openbare deelname, maar slegs sowat 30 verteenwoordigers van die Weskus-distriksmunisipaliteit en SBM het deelgeneem aan die gesprekvoering. Die werksessies word tot 24 Augustus deur afgevaardigdes van die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning by die onderskeie distriksmunisipaliteite aangebied.
Dit is die tweede fase van ‘n openbare deelnameproses om probleemareas te identifiseer en aanbevelings te maak vir die ontwikkeling van die Tweede Generasie Wes-Kaap Luggehaltebestuursplan. Die bestaande verslag is aanlyn beskikbaar by www.westerncape.gov.za