Die omstredenheid rondom die skielike fosfaatmynbedrywighede wat die weskus se ondergrondse waterbronne en bewaringsgebiede bedreig, raak al hoe groter namate meer ongerymdhede en selfs bespiegelinge oor die Guptas se betrokkenheid na vore kom.
Eers was daar die oorhaastige toekenning van mynregte aan Elandsfontein Exploration and Mining (EEM) en die stoomrollery waarmee voortgegaan is ondanks ernstige besware en ‘n hangende Hooggeregshofsaak deur die Weskus Omgewingsbewaringsassosiasie (WOSA) omdat EEM glo wetlike prosedures omseil en kortpaaie vat met noodsaaklike omgewingsimpakstudies. EEM het glo ook versuim om ‘n waterverbruiklisensie te bekom. Volgens ‘n vorige verslag van die Menseregtekommissie het 39 myne in 2014 sonder waterverbruiklisensies gewerk wat die waternood in arm landelike gebiede kritiek maak.
Terwyl momentum nog aan die opbou is vir die Elandsfontein-hofgeding en te midde van gerugte dat ‘n groep van die Gupta-familie oornagverblyf by gastehuise in Langebaan gesoek het, het die Departement van Minerale Hulpbronne prospekteerregte toegestaan aan ‘n vrou wat nie konsultante kon bekostig nie en sommer ‘n student gevra het om die omgewingsimpakstudies te doen.
Adelaide Ruiters van die Johannesburgse mynmaatskappy Adelaide Ruiters Mining and Exploration (A.R.M.E) het haar oog op ‘n gebied van 391-hektaar op die plaas Yzervarkensrug 127 tussen Blouwaterbaai en Vredenburg, asook op die buurplaas Zandheuwel. Sy is glo die eerste vrou in SA aan wie mynregte toegeken is sonder dat sy die hulp van konsultante gehad het.
Volgens ‘n artikel in die Mining Weekly is Ruiters tans die bestuurder van sakeontwikkeling by die Structa Staalgroep. Sy wil glo help om die SA mynbedryf te transformeer en glo sy het ‘n wenresep om fosfaat vir landbou- en voedselsekerheid te benut wat ook die deur tot die mynbedryf sal oopmaak vir ander vroue wat nie baie kapitaal tot hul beskikking het nie.
“Hier is baie geleenthede vir individue in die mynbedryf en Suid-Afrika se wetgewing maak dit moontlik. Mense is egter dikwels nie bewus daarvan nie, of gooi te gou tou op. Ek wens meer vroue wil doen wat ek gedoen het.”
Inwoners en belanghebbendes kan op 30 Augustus tussen 10h00 en 14h00 kommentaar lewer op Ruiters se planne op ‘n openbare vergadering wat in die Skilpad-gemeenskapsaal in Vredenburg gehou word; of voor 10 September vertoë rig aan die omgewingskonsultant Kamogelo Mokhine van DMT-Kai Batla by 011-781 4548 of epos Kamogelo.Mokhine@dmt-group.com of per pos by DMT-Kai Batla (Pty)Ltd, Posbus 41955, Craighall, 2024.
Terwyl die wenkbroue nog lig oor dié vinnige wending en inval van mynmaatskappye op die rustige weskus, is die Guptas opnuut in die spervuur oor ongerymdhede by fosfaatmyne in Noordwes. Volgens ‘n RSG-nuusuitsending gister is die Openbare Beskermer genader om die Guptas se Rustenburgse maatskappy JIC Mining Services te ondersoek.
Dit blyk die SA mynbedryf is in onsekerheid en omstredenheid gedompel en terwyl dié binnegevegte oor wetgewing en transformasie voortduur, is daar baie skuiwergate wat mynmaatskappye tot hul voordeel kan misbruik.
Lees volledige berigte hier:
http://www.miningweekly.com/…/prospecting-right…/rep_id:3650