
Die stofwolke stapel nog op oor die omstrede Elandsfontein-fosfaatmyn en nou het ‘n vrou wat sommer studente gekry het om haar omgewingsimpakstudies te doen, ook die weskus se fosfaatryke grond in haar visier . . . Boonop daag sy ook ander vroue uit om die lonende bedryf van mynwese te betree.
As Weskussers nie dié keer vinnig speel en die openbare vergadering op Dinsdag 30 Augustus in die Skilpadsaal op Vredenburg se sportgronde bywoon nie, gaan Adelaide Ruiters se mynmaatskappy ‘n groot deel van die plaas Yzervarkensrug 127 tussen Saldanhabaai en Vredenburg omdolwe.
Ruiters se Johannesburgse mynmaatskappy Adelaide Ruiters Mining and Exploration (A.R.M.E) het aansoek gedoen vir prospekteerregte op ‘n gebied van 391 hektaar op die plaas Yzervarkensrug 127, langs Lafarge.
Die beoogde myngebied is 4,5 km suid van Vredenburg en 6,5 noord van Saldanhabaai.
Ruiters het ook om verskeie ander prospekteerregte aansoek gedoen, insluitende op die plaas langsaan, Zandheuwel.
Ruiters wil vyf boorgatskagte boor om die erts in die omgewing te bepaal en grootmaat-monsters vir metallurgiese toetsing te verkry.
Belanghebbende partye moet hul besware lug op die vergadering wat van 10h00 tot 14h00 in die Skilpadsaal gehou word en het ook net kans tot 10 September om skriftelike besware te rig aan die omgewingskonsultant Kamogelo Mokhine van DMT-Kai Batla.
Mokhine kan gekontak word by 011 781 4548 of per epos Kamogelo.Mokhine@dmt-group.com of per adres: DMT-Kai Batla (Pty)LTD, Posbus 41955, Craighall, 2024.
* Die verwikkelinge kom te midde van die herrie oor beweerde onreëlmatighede rakende die beoogde Elandsfontein-fosfaatmyn wat die Weskus Omgewingsbewaringsassosiasie (WOSA) nou tot in die Hooggeregshof beveg omdat die mynmaatskappy Elandsfontein Exploration and Mining (EEM) glo wetlike prosedures omseil het en nie aan die wetlike vereistes voldoen nie.
Lees ook:
http://www.miningweekly.com/…/prospecting-right…/rep_id:3650