“Toerisme is om boude in beddens te kry – jy het nie ‘n toerismekantoor daarvoor nodig nie.”
As Alan Winde, Wes-Kaapse minister van toerisme, sê toerisme is die verantwoordelikheid van ‘n hele dorp en nie net ‘n kantoor nie, is dit dalk tyd dat besighede en kleinsakeondernemings innoverende inisiatief aan die dag begin lê om hul eie besigheid/produk en plek te bemark. Winde meen die dae van tradisionele toerismekantore is getel omdat baie min mense deesdae nodig het om die kantore te besoek. Boonop het Weskussers ‘n unieke bemarkingsplatform omdat geen ander plek ter wêreld as Weskus bekendstaan nie.
En dis in ‘n mate waar. Wat keer Langebaners en alle Weskussers om hul dorp/streek internasionaal te bemark? Met die digitale/sosiale media verg dit deesdae net die druk van ‘n knoppie/veeg van ‘n skerm om enige inligting en beeldmateriaal van jou slaapkamer tot in Timboektoe te versprei.
Winde het tydens ‘n vergadering van die Saldanhabaai Toerisme-organisasie (SBTO) en plaaslike rolspelers wat op 21 Julie by Club Mykonos in Langebaan gehou is, gesê die hele dorp behoort ‘n toerismekantoor te wees. “Toerisme is om boude in beddens te kry. Kry meer mense hier en hou hulle hier – julle het nie kantore nodig om dit te doen nie.”
Winde het daarop gewys dat die SBTO sewe kantore het terwyl die internasionale neiging is om toerismekantore te sluit en eerder die hele gemeenskap te betrek by die bemarking van ‘n streek se sterk punte. Hy meen dis belangrik om beskikbare data oor besoekersgetalle, reisigerstendense, ens. te gebruik om doeltreffende bemarkingstrategieë te beplan. Toerisme is die snelgroeiendste sektor in die Wes-Kaapse ekonomie met ‘n groeikoers van 6,7%, gevolg deur die olie en gasbedryf in die tweede plek en agri-verwerking derde.
Ons moet ons sake agtermekaar kry en die sleutel is om die streek se kort afstand vanaf Kaapstad te bemark, het hy gesê.
Bron: Weslander