Weskus se eerste vroue-mynbaas?
Adelaide wil werk skep, maar nie ten koste van natuur
Adelaide Ruiters lyk nie soos ‘n mynbaas nie. Sy is ‘n sjiek, sjarmante vrou met ‘n spontane lag en geselstrant. ‘n Regte Kaapse girl – van Kuilsrivier se wêreld. Ná jare in Johannesburg se sake- en betonoerwoud is dié enkelma van twee opgeskote seuns se Afrikaans egter al ‘n bietjie verroes . . . nou nie dat jy dit sal agterkom as jy met haar gesels nie, maar sy voel nogtans meer selfversekerd om in Engels te praat oor haar passies en plesiere – veral op ‘n totaal onverwagte selfoonvideo-opname!
Maar sy gaan oefen om die Kaapse Afrikaans weer onder die knie te kry en die volgende video-opname is in Afrikaans – belowe! Want sy wil terugtrek Kaap toe. Weskus toe, om presies te wees.
Skilpad-gemeenskapsaal
Die Skilpad-gemeenskapsaaltjie staan ietwat verlate, verlore en afgesonder in een van Vredenburg se agterste strate. Geen naambord op nie en niemand sou kon raai om by die ingang van ‘n rugbyklub in te draai op soek na dié lokaaltjie waar die Weskus se belangegroepe vandag hul vrese, vrae en frustrasies oor nóg ‘n fosfaatmyn in hul geledere moes kom besweer nie. Net ‘n paar voertuie staan voor die ingang en net twee plakkaatjies – een teen die muur en een teen die deur – toon aan jy is op die regte plek vir die openbare vergadering oor Adelaide se planne om hier neffens Vredenburg na fosfaat te kom soek.
‘n Klompie jare gelede was Adelaide óók hier – in dié einste saaltjie waar sy nou vriendelik en gulhartig die paar besoekers wat stuk-stuk en langsamerhand opdaag, groet en verwelkom. Haar fosfaat-mentor, “Oom Jan” van der Merwe, voormalige hoof-geoloog by Foskor, is al die pad van Phalaborwa af hier om haar te ondersteun en vrae te help beantwoord. Oom Jan en die Kaapse sakeman Steven Frankel is haar regterhande en albei aandeelhouers in Adelaide Ruiters Mining and Exploration (ARME), die mynmaatskappy wat Adelaide in 2013 gestig het nadat sy geskiedenis gemaak het as die eerste bruin vrou in SA wat op haar eentjie prospekteerregte op die plase Zandheuwel 126 en 124 in die Vredenburg-omgewing bekom het.

Tydens haar vorige besoek het sy prospekteerregte op twee plase naby die Weskus Nasionale Park gehad. Ná deeglike beraadslaging, oorlegpleging en interaksie met al die belanghebbendes en die eienaars van die plase, het sy egter halt geroep. Sy kon nie voortgaan met mynplanne op daardie pragtige stuk grond waar mense ‘n lewe uit eko-toerisme maak nie. “Hoe kon ek hulle beroof van hul lewensbestaan en dit waarvoor hulle so hard gewerk het en lief is? ”
Sy het dié prospekteerregte teruggegee aan die Departement van Minerale Hulpbronne en voortgegaan om ander opsies te oorweeg – selfs ook hoe om fosfaat uit onder meer riool te vervaardig. Nou is sy, Steven en oom Jan hier om vrese te besweer en Weskussers te verseker dat hulle nie van plan is om die omgewing se unieke ekologie te kom opfoes nie. Hoewel sy regte vir 24 prospekteergate op Zandheuwel het, wil sy net vyf gate voor die einde van die jaar boor om te toets of daar voldoende erts vir ‘n fosfaatmyn is. Sy het ook aansoek gedoen vir prospekteerregte op die aanliggende plaas Yzervarkensrug 127 en wil dalk ook op die buurplaas Witteklip prospekteer. Afhangende of hulle volhoubare fosfaaterts kry, sal hulle aansoek doen om mynregte en seker maak om alle omgewingsimpak- en maatskaplike kwessies op “die regte manier” te hanteer.
“Ek het in die mynbou beland omdat ek ‘n geleentheid gesien het om te help met ekonomiese ontwikkeling en werkskepping. Indien ek wel besluit om te myn, sal ek beslis nie mense van ander gebiede inbring nie, maar van plaaslike mense gebruik maak,” het sy verseker.

As mynbaas, enkelma en besturende direkteur van twee ander groot Gautengse maatskappye – Lacam Industrial and Commercial Contract Cleaning en STRUCTA EPCM – is Adelaide allermins ‘n ledige vrou. Haar oudste seun (19) studeer reeds aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die jongste (13) is nog op skool in Gauteng. Ná vandag se openbare vergadering waarvoor sy en haar mede-aandeelhouers spesiaal van Johannesburg gekom het, gaan hulle eers die Weskus se blomme kyk en ‘n draai maak by Sanet Eigelaar van Koekedoor-faam se Cup Of Cake-koffiewinkel in Saldanhabaai waar oom Jan se vrou, Elza, vir hulle gewag het. Sy en Sanet is niggies en boonop kan g’n mynpraatjies meeding met ‘n Koekedoor-finalis se gebak nie.
Ondanks die eina opkoms, is Adelaide en haar span tevrede met die terugvoering en ondersteuning wat hulle gekry het.
* Dit is egter jammer dat ‘n openbare vergadering wat ‘n ontspanne, stimulerende en insiggewende vraag-en-antwoord-geselssessie kon wees om ook vir Adelaide insae te gee in die gemeenskap se kop- en hartsake, so teleurstellend swak geadverteer en bygewoon is. Miskien kan toekomstige vergaderings waar die publiek se insette nodig is, op ‘n meer geleë tyd en plek aangebied word?
* Luister ook na Adelaide self op video.
Belanghebbendes het nog tyd tot 10 September om kommentaar te lewer. Kontak die omgewingskonsultant, Kamogelo Mokhine van DMT-KaiBatla by tel. 011 781 4548, per epos by Kamogelo.Mokhine@dmt-group.com of per gewone pos by DMT-Kai Batla (PTY) Ltd. Posbus 41955, Craighall, 2024
Posted by Elsa Wessels on Tuesday, August 30, 2016