Terwyl niemand nog aangekeer is in verband met verlede week se voorval van gewapende roof by die Engen 1 Stop en Wimpy Restaurant nie, het voorvalle van huisbraak en diefstal uit voertuie ernstige afmetinge begin aanneem in Langebaan.
Kaptein Christo De Wet, waarnemende bevelvoerder van Langebaan Polisie, het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met enige inligting wat moontlik kan help om misdadigers aan te keer.
“Misdaad en die voorkoming daarvan is ‘n gemeenskapsprioriteit – die Polisie kan dit nie alleen hanteer sonder die publiek se samewerking nie. Enigeen met inligting wat kan help om misdaad te voorkom of misdadigers aan te keer, kan my enige tyd gedurende kantoorure skakel by 082 522 3326.”
Kaptein De Wet het ook ‘n beroep op Langebaners gedoen om by die Langebaan-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) betrokke te raak of by hulle aan te sluit as hulle daadwerklik ‘n verskil wil maak om Langebaan misdaadvry te hou. Georganiseerde misdaad neem landwyd toe en enige dorp is ‘n teiken. Die beste teenvoeter vir enige vorm van misdaad is ‘n gemeenskap wat paraat is en saamstaan. Inwoners wat belangstel om by die GPF aan te sluit, kan op hul FB-blad aansluit by https://www.facebook.com/langebaancpf.co.zawebwerf of kontak mnr. Kevin Kilfol by 0833254311.

Niemand is ook nog aangekeer in verband met die voorval van intimidasie en dreigoproepe waarmee die SBM se burgemeester, Marius Koen, geteister is nie. Enigeen met inligting wat die skuldiges kan help aankeer, kan Kapt. De Wet of die plaaslike Polisiekantoor kontak.
