Radelose winkeleienaars in Langebaan wat al wankel tussen moord- en selfmoordgedagtes weens die ontwrigting en verlies aan inkomste wat die sloerende padwerke veroorsaak, kan seker nie kwalik geneem word nie. Dele van die dorp langs Oostewalstraat lyk maande lank al asof ‘n orkaan dit getref het met massas waaiende sand, stof en slote wat verkeer ontwrig en frustrasies veroorsaak.

Veral die ingang na die dorp by OK Minimark en PEP Stores waar die beoogde taxi-staanplekke blykbaar gaan kom, lyk erg genoeg om enige besoeker net daar te laat omdraai.
Soggens vroeg drom tot 200 werkers voor die ingang van OK Minimark saam om opgelaai te word vir werk, terwyl die parkeerarea en omliggende gebied oor naweke soos ‘n kuiersentrum vir haweloses lyk. Winkeleienaars meen die parkeerarea voor OK Minimark het die “maklikste en mees sentrale optelpunt” vir werkers geraak omdat daar nie vordering gemaak word met die taxi-staanplek oorkant die pad nie. “Ek neem inwoners kwalik wat met hul werkers reël om hulle soggens hier op te laai. Dié situasie sou nooit in die middedorp toegelaat word nie – dis asof ons aan die stiefkant van die dorp woon en dus tweedehandse behandeling van die owerhede kry. As die taxi-staanplek waarmee daar so gesloer word klaar was, sou almal daar by ‘n sentrale plek kon wag en nie hier voor ons winkels kom staan en mors nie,” het ‘n ontstoke winkeleienaar gesê.

Ander sakelui aan die “stiefkant” van die dorp vanaf OK Minimark tot by Vondelingstraat oorweeg ook al regstappe weens die geweldige verlies aan inkomste wat hulle ly omdat mense nie by hulle kan uitkom nie. Terwyl beskuldigings van swak en ondeurdagte beplanning, onbevoegde vakmanskap, voorkeur-behandeling aan sekere mense/gebiede en onnodige sloerwerk heen en weer geslinger word, is daar darem ook ‘n bietjie lig in die tonnel. Die stuk pad tussen Jon Olafsson- en Sleigh-straat word nou geteer en sal Dinsdag uiteindelik klaar wees.

Pieter Coetzee (links op die foto), tegniese terreinbestuurder van RJM Civils, het gister by navraag gesê die oorspronklike padbouwerkprogram is nou al ses keer aangepas om al die betrokke partye tegemoet te probeer kom.
“Ons kon nie die werk blok vir blok doen nie, want dit sou beteken dat een of meer masjiene stilstaan, wat die proses verder sou vertraag. Mense kla dat ons nie vinnig genoeg werk nie, maar as ons soggens voor 07h30 begin, kla hulle weer oor die geraas. Ons kan nie oor naweke by die Total Garage/Spar-kompleks werk nie. Volgens kontrak mag ons ook nie op Sondae naby woonareas werk nie. Baie van die vertragings is ook veroorsaak omdat die Munisipaliteit ons nie van akkurate diensteplanne kon voorsien nie en niemand dus weet waar al die ondergrondse waterpype en elektriese kabels is nie.
“Ons is deeglik bewus van die ongerief, frustrasie en inkomsteverlies wat die padwerke veroorsaak, maar die publiek se klagtes vertraag die proses ook baie omdat die planne deurgaans aangepas moet word. Ons probeer ons bes en kry nou nog masjiene sodat albei bane reeds tussen 2 en 6 Desember oop sal wees.”
Coetzee het winkeleienaars en inwoners wat klagtes het, genooi om persoonlik met hom te praat om te kyk hoe hulle tegemoet gekom kan word. Hy het onderneem om ook die sandhope wat ‘n groot stofprobleem veroorsaak, gereeld nat te hou en seile te kry om dit te bedek. Mense kan hom of Michael Mullins (regs op foto), administratiewe terreinagent, kontak by 083 792 6775.
* Intussen is die hope sand by die depot wat die straat langs die beoogde taxi-staanplekke vol waai, blykbaar dié van die Munisipaliteit en nie RJM Civils s’n nie.

Navrae oor die beoogde taxi-staanplek oorkant OK Minimark het tot dusver op dowe ore geval. So staan mense nou bedags in stof, wind en reën om vir taxis te wag.


Die beboste gebied langs die beoogde taxi-staanplek is ‘n wegkruipplek vir skelms. Die gebied word ook bestrooi met rommel en ‘n skerp stank van verrotte afval is plek-plek waarneembaar.


