Sover bekend is die eerste twee walvisse van die seisoen vanoggend in die vlak water by Calypso Beach gesien. Is dit toeval dat hul romantiese paartyd ook saamval met die Weskus se blomseisoen? 😉 Die Suidelike noorkappers is ‘n bekende gesig aan die Suid-Afrikaanse kuslyn en kom jaarliks tussen Julie en Desember hierheen om te paar, geboorte te skenk en hul kleintjies te soog in die beskermde baaitjies van die SA kuslyn. Hulle is egter lanklaas so naby aan die kuslyn in Langebaan gewaar.  Jessieka, ‘n werknemer by ‘n gastehuis in Calypso Beach, het eerste gesien dis nie ‘n gewone rob in die water nie, maar ‘n walvis. Ná ‘n tydjie is ‘n tweede walvis gewaar . . . en hopelik is die res nog op pad! In die opwinding van die oomblik was daar ongelukkig net ‘n selfoon byderhand om betyds die indrukwekkende dier vas te vang!
Foto: Anneke van der Walt
- Die Suidelike noorkapper (Eubalaena australis) is ‘n walvis wat aan die hele Suid-Afrikaanse kus voorkom. Die walvis word uitgeken aan die wit, vratagtige groeisels op die kop. Die soogdier het groot spaanvormige borsvinne maar geen rugvin nie.

Hulle kom in die oop see voor; in die suidelike halfrond se somer kom hulle by Antartika voor, terwyl hulle van Julie na die Suid-Afrikaanse kus beweeg om te paar. Dan is die walvisse, wat selfs in kleiner baaie kom baljaar, gewilde trekpleisters vir besoekers aan Hermanus, Kaap Agulhas, Witsand, Stilbaai, Gouritsmond, Vleesbaai, Mosselbaai, Knysna en die tuinroete, Algoabaai en selfs tot by Mosambiek.
Die walvis se Engelse naam is die Southern Right Whale bedoelende dat dit die ‘regte’ walvis was om dood te maak destyds deur die walvisjagters. Die walvis mag egter nie meer gejag word nie. (Wikipedia)
