Langebaan se Wouter bring gister en vandag saam in ‘Toe roep jy my’

 

Wouter van de Venter reik ná jare weer album uit

Deur Aj Opperman

16 jaar ná sy laaste album het die sanger en bobaasliedjieskrywer Wouter van de Venter weer ’n album uitgereik. Een van die liedjies vertel die liefdesverhaal van hom en sy vrou, Anita.

Danksy sy baie optredes kon hy die liedjies op sy jongste album, Toe roep jy my, “uittoets”, sê hy.

“Ek kon sien of dit in gig-situasie werk of nie.”

Daar is twee snitte op Van de Venter se vierde album wat hy nog altyd self wou opneem.

“Die een is ‘Kom ’n bietjie binne’, wat Dozi opgeneem het, en JJ Stephens het ‘Ou liefde roes nie’ opgeneem. Die res van die snitte is nuut geskryf die afgelope jaar en ’n half, waar ek deesdae in Langebaan woon.”

Die afgelope 16 jaar het hy deurgaans vir verskeie ander kunstenaars geskryf en byna 40 albums vir kliënte vervaardig.

“Ek het baie vir die Ses Snare geskryf en vir Laurika Rauch op kitaar begelei. Ek is ’n musikant en singer-songwriter, maar op die ou end wil ’n mens tog jou eie goed daarbuite kry. Met hierdie album het ek probeer om weg te bly van die mainstream sound.”

Hy het deur die jare vir verskillende kunstenaars in verskillende genres liedjies geskryf, onder andere Dozi, Sarah Theron, Broers en Wynand en Chereé Strydom.

Die album bestaan uit ballades, reggae, country en blues en kitaargedrewe rockmusiek.

Die titelsnit beskryf die Van de Venter-egpaar se liefdesverhaal. Anita is die vrou op wie hy twee keer verlief geraak het sonder dat hy besef het dis dieselfde persoon. Die eerste keer wat hy haar ontmoet het, het sy blonde hare gehad en vier jaar later toe hy haar weer sien, het sy swart hare gehad.

“Dit was vir my lekker om weer saam met my maatjies te werk, soos Clinton Wairing saam met wie ek op technikon al gespeel het. Ek en Carlé van Deventer, Pieter Smith en MD Greyling het ’n groep met die naam Karoo gehad. So toe ek weer saam met Carlé werk, was dit coming back home.”

Die album is uitgereik deur Vonk Musiek en die liedjies is op iTunes beskikbaar.

 

wouter-van-de-venter

wouter-langebaan

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *