Niemand verantwoordelik vir “misdaadnes” en gemors by ingang van dorp?

“Ek is te bang om water te drink, want daar gaan sweerlik bome in my maag begin groei van al die stof en sand wat ons daagliks inkry. Ons almal begin gesondheidsprobleme kry van al die stof en sand!”

Só het van die padaanwysers wat die afgelope paar maande daagliks die verkeer in Langebaan help reguleer tydens die omstrede padbouprojek, gister gesê. Die waaiende stof en sand by die “tydelike” taxi-staanplek oorkant OK Minimark en die ingang na Villa Diamante is ook by tye onhoudbaar en tot dusver het alle navrae aan die SBM op dooie ore geval oor wat daar gaan gebeur.

RJM Civils se tegniese terreinbestuurder het verlede week onderneem dat die hope sand wat besighede en sypaadjies langs Oostewalstraat toewaai, gereeld natgemaak of met seile bedek sou word om die stofbesoedeling te help keer . . .

Navrae oor die historiese tolhuis wat maande lank reeds vervalle en ‘n morsplek geraak het, bly ook onbeantwoord en skep toenemend ‘n misdaadgevaar by die dorp se ingang. Gisteraand is die Polisie na die Villa Diamante-meenthuiskompleks ontbied nadat werkers by die ou huis langs die tolhuis, wat nou in ‘n woonstelblok omskep word, se toerusting glo weggeraak het. Die werkers was glo op die spoor van ene Sidwell (op foto) wat hom glo as ‘n sekuriteitswag voordoen en snags in die ou gebou slaap en selfs daar vuurmaak.

Sidwell beweer hy werk vir Fidelity Guards, maar dié sekuriteitsfirma is nie deur die konstruksiemaatskappy aangestel nie. Dus het Sidwell glo geen reg of rede om in of naby die bouperseel te wees nie.

Bespiegelinge dat Fidelity Guards dalk die ou tolhuis langsaan se sekuriteit namens BP behartig en dat BP wel die grond waarop die ou tolhuis staan, gekoop het met die doel om ‘n motorhawe daar op te rig en die tolhuis in ‘n koffieplek te omskep, kon steeds nie bevestig word nie. Die vraag bly WIE intussen verantwoordelik is om die gemors en digte boskasie in en rondom die ou tolhuis op te ruim. Wenkbroue word ook gelig oor die idee van ‘n petrolstasie in die middel van ‘n woonbuurt . . .

Intusen sloer bouwerk aan die woonstelgebou onder meer ook weens waterprobleme. Eers moes daar gesoek word na die ondergrondse pypleidings en toe dit uiteindelik gekry en aansluitings gedoen is, was die waterdruk te swak. Die bouers “koop” van die begin af reeds water by ‘n inwoner oorkant die pad en sal met dié reëling moet voortgaan totdat die kompleks voltooi is omdat hulle bang is ‘n waterpomp sal gesteel word as hulle dit nou al installeer.

Dis onverklaarbaar dat niemand in dié stadium blykbaar verantwoordelikheid wil aanvaar of inligting wil gee oor die gemors by die “tydelike” taxi-staanplek en omliggende area òf die ou tolhuis nie. SAPD-lede weier ook volstrek om na misdadigers binne-in die twee geboue te gaan soek ondanks al die bewyse dat rondlopers dit al maande lank as skuil- en slaapplek gebruik en dit as dwelm- en orgieneste beskryf word?

 

tolhuis

sidneystofstof1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *