GRU-BOTSING MET SEMENTTROK: GELIEFDE FROGGY SE STEM NOU STIL . . .

Presies 24 uur nadat weskusonTheline gister ‘n skokberig gedeel het oor die toestand van swaarvoertuie op Wes-Kaapse paaie (Kommer oor padreuse van die dood), is ‘n bekende en geliefde Langebaner in ‘n gru-botsing met ‘n sementtrok van Lafarge vergruis.

Hans Ulrich (70), alom bekend as Froggy na aanleiding van die restaurant Froggy’s Den wat hy vroeër in Langebaan bedryf het en sy reuse-versameling ornamentele paddas, is vermoedelik op slag dood. Die bestuurder van die vragmotor is na bewering slegs lig beseer. Vanmiddag was geen Polisie-woordvoerder op Vredenburg/Saldanhabaai/Langebaan beskikbaar om meer inligting te verstrek nie.

Die ongeluk het kort na 12h00 op die Langebaan/Saldanhapad
naby Saldanha Staal plaasgevind. Polisievoertuie en nooddiens-personeel was vinnig op die toneel en die pad is tydelik afgesper vir verkeer. Foto’s van die ongelukstoneel wat op sosiale media versprei is, wys duidelik die impak van die botsing op albei voertuie. Die voorkant van die oorledene se voertuig is opgefrommel wat kanse op oorlewing feitlik onmoontlik gemaak het.

Geskokte Weskus-vriende en kennisse het vanmiddag dadelik boodskappe van hartseer en medelye op sosiale netwerkgroepe geplaas waaruit dit duidelik blyk hoe geliefd en gewild hy was – van sy kosvernuf tot in lyndanskringe. Volgens ‘n jarelange vriendin het Froggy vroeër jare die Indiese restaurant Froggy’s in Seepunt begin en toe sowat twaalf jaar gelede ‘n soortgelyke restaurant in Langebaan geopen. Hy het dit ‘n paar jaar gelede toegemaak.

Dit is nie bekend waar Froggy se liefde vir paddas en die groot versameling ornamentele paddas wat hy deur die jare van heinde en ver bekom het, vandaan kom nie.

Sover bekend was Froggy vroeër getroud, maar hy is sedertdien geskei en het geen kinders nie.

Geen nadere besonderhede oor die omstandighede van die ongeluk is bekend nie omdat geen Polisie-woordvoerder in die hande gekry kon word.

http://www.netwerk24.com/…/kommer-oor-padreuse-van-die-dood…

froggy3froggy4froggy2froggy1aaa

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *