Moenie krap waar dit nie jeuk nie . . . maar hier jeuk darem net TE veel dinge . . . ?
Dis nou maar een ding van ‘n myn – hoe dieper gedelf word, hoe meer verborge geheimenisse word blootgelê. Dit is blykbaar ook die geval met die omstrede Elandsfontein-fosfaatmyn wat al langer as twee jaar groot tweespalt en verdeeldheid langs die Weskus saai.
In die jongste grawery is ‘n omstrede politieke aar raakgeboor – nogal een waarby die Wes-Kaapse Premier Helen Zille self betrek word. Die Weskus-omgewingsbewaringsassosiasie (WOBA) sit met bewyse van ‘n “geheime” vergadering wat verteenwoordigers van Erfenis Wes-Kaap en die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning glo in Maart verlede jaar op Helen Zille se versoek met twee verteenwoordigers van die Elandsfontein-myn gehou het.
Die vergadering is glo deur Elandsfontein aangevra om ‘n skikking te probeer bewerkstellig in die regsgeding en interdik wat Erfenis Wes-Kaap teen die myn aanhangig gemaak het omdat geen omgewingsimpakstudie gedoen is oor die bedreiging wat die reuse-mynkompleks inhou vir dié erfenisgebied wat deur paleontoloë as van wêreldbelang beskou word nie. Volgens die ooreenkoms wat bereik is, sou die myn sy padbouwerke voorlopig staak totdat ‘n hof ‘n beslissende uitspraak lewer.
Dié omstrede ingryping deur Zille is tot dusver stilgehou en die beloofde omgewingsimpakstudie is ook nog nie met ‘n oog gesien nie. Erfenis Wes-Kaap het destyds DRIE dringende stopwerk-opdragte teen Elandsfontein Exploration and Mining bekom omdat hulle verskeie aspekte van die Erfenis-wetgewing verbreek het. Hoewel die mynbestuur die opdragte onderteken het, het hulle desondanks goedsmoeds voortgegaan met die padbou- en mynbedrywighede.
Die ryk fossiel-vondse wat al jare gelede in dié omgewing ontdek is, het wêreldwyd opslae gemaak en die gebied is as een van die Origin of Man-erfenisgebiede verklaar oor die belangrike rol wat dit speel in internasionale paleontologiese kringe. ‘n Groot deel van die fossiel-vondse word by die Iziko Nasionale Museum in Kaapstad uitgestal. Stappe was ook reeds begin om die hele Erf 349 as Provinsiale Erfenisgebied te verklaar.
Dit is steeds nie seker hoe die mynbou-aktiwiteite gestaak gaan word en vir hoe lank indien belangrike fossielvondse in die mynproses ontdek word nie. Volgens gerugte het die persoon wat die navorsingspermit gekry het om dié aspek te ondersoek, intussen ook onttrek omdat dit onmoontlik is om onder die huidige omstandighede ‘n behoorlike studie te doen. Die geheimhouding van KROPZ se Erfenis-omgewingsimpakstudie is ewe verdag, want daarsonder kan niemand kommentaar of ‘n uitspraak lewer nie.
In dieselfde oopmyn-boorproses het WOBA ook uiteindelik ná vier maande se gesukkel die gewraakte “water”dokumente raakgeboor waarin Elandsfontein/KROPZ se aansoek vir ‘n watergebruiklisensie vervat is.
Dis dié einste lywige pak dokumente wat die mynbestuur glo nie bekend wou maak of aan ‘n openbare deelnameproses met geaffekteerde belangegroepe wou blootstel nie. Omliggende boere en mense in die omgewing wat afhanklik is van boorgatwater, vrees lankal dat hul beskikbare waterbronne deur die mynaktiwiteite benadeel gaan word. Die myn se bestekopname-verslag dui blykbaar aan dat omliggende grondeienaars se water moontlik geaffekteer kan word, hoewel die Waterwet duidelik voorskryf dat die regte van bestaande waterregte-gebruikers nie deur nuwe aansoeke geskend mag word nie.
Die mynbestuur het egter besluit om NIE die gebruiklike roete van ‘n deursigtige, openbare deelnameproses met geaffekteerde belangegroepe te volg nie en tot dusver was die myn se aansoek vir ‘n watergebruiklisensie ‘n staatsgeheim.
WOBA moes deur PAIA (Afdeling 14 van die Wet op bevordering van toegang tot inligting) die dokumente aanvra. Weens die lywigheid van die aansoek en verskeie skynbaar verwarrende en oppervlakkige gevolgtrekkings in die verslae, is dit na toepaslike kenners gestuur vir deeglike ontleding. Terugvoer sal gegee word sodra die ondersoek afgehandel is.
WOBA se skrywe:
“BREAKING: The Water Use License application documents that Elandsfontein Exploration and Mining/Kropz did not want you to see. Affected landowners and Interested and Affected Parties were denied the right to an open and transparent Public Participation Process. The West Coast EPA, through PAIA requested the documents and after four months, we have received it. We have sent it to relevant experts to go through with a fine tooth comb and as soon as they are finished we will report back on this issue. The documents are very voluminous so we need a bit of time to work through them, but at first glance, it looks like all their other reports….superficial, old and very confusing, especially some of their conclusions, which calls for research to support their conclusion….”
Lees meer hier: https://www.facebook.com/WCEPA/

