LANGEBAAN SE NUWE PAD LOOP DALK REGUIT HOF TOE . . .

Langebaan se blinknuwe en omstrede hoofstraat gaan dalk nog ‘n U-draai in die hof maak as ‘n skikking nie gou bereik word tussen ontnugterde besigheidseienaars en die Saldanhabaai Munisipaliteit nie.
Van die winkeleienaars langs Oostewalstraat wat steeds afgesny is van die hoofverkeer weens die sloerende padkonstruksiewerke, het nou regsmening ingewin omdat hulle nie “vir ewig kan wag” op antwoorde van die SBM-bestuur nie.

Die laaste vergadering op 6 Oktober tussen winkeleienaars, die raadgewende ingenieurs, die konstruksiemaatskappy RJM Civils en ‘n SBM-afvaardiging het geen definitiewe antwoorde opgelewer nie. Dat ‘n nuwe projekbestuurder aangestel is om sake te bespoedig, het hulle ook nog niks in die sak gebring nie.

mal

Van die sakelui het die afgelope paar maande tot 90% verlies aan inkomste gely omdat niemand by hulle kon uitkom nie. ‘n Tydelike parkeerplek is nou aan die oorkant van die pad gebou sodat alle winkelvoorraad (insluitende kos) oor die stowwerige pad, waar konstruksiewerk nog aan die gang is, gedra moet word. Die groep wou weet of die SBM hulle vir hul verliese gaan vergoed om te voorkom dat hulle bankrot speel weens die padbouwerke.

 

Judith Breytenbach, eienares van Gypsy Mojo and Silhouette Slimming, wat die noodvergaderings met die SBM gereël het, het destyds gesê niemand het haar (of ander sakelui) gevra of hulle bereid is om bankrot te speel sodat Langebaan ‘n mooi, nuwe pad kan kry nie. Die groep het ook versoek om insae te kry in die tenderproses en kontrak wat destyds met RJM Civils gesluit is – dit sou op die laaste vergadering aan hulle beskikbaar gestel word, maar het nie gebeur nie. (‘n Epos as bewys is onderaan geheg.)

judith1-3

VRAE AAN SBM:

WeskusonTheline het ook vandeesweek die volgende vrae per epos aan die SBM gestel (onveranderd geplaas) en wag nog op terugvoering. (Gerig aan: SBM burgemeester, Marius Koen, betrokke raadslede André Kruger, Jaco Kotze, Dries Venter, stadsingenieur Gerrit Smith, SBM-bestuurslede en belanghebbende partye.)

” 1. Dit is duidelik dat sommige besigheidseienaars in Oostewalstraat geweldige geldelike verliese ly omdat hul besighede heeltemal afgesny is deur die sloerende padwerke. Hulle is besig om regsmenings in te win rakende hul regte om vir hul verliese vergoed te word. So ‘n hofsaak kan lank duur en baie geld kos. Is daar ‘n moontlikheid dat die SBM die eienaars gaan vergoed soos op die vergadering bespreek? Indien wel, wanneer sal hulle ingelig word hieroor voordat hulle dalk verdere onnodige regskoste aangaan ?

2. Dit het uit die vergaderings duidelik geblyk dat die grootste vertragings met die padbouwerke veroorsaak is omdat daar nie planne/kaarte was vir die ondergrondse dienste (waterpype, elektriese bedrading/Telkom-netwerke, ens.) Hoekom is daar geen sulke planne beskikbaar nie? Dit is tog onaanvaarbaar dat ‘n gevestigde dorp soos Langebaan oor geen sulke noodsaaklike kaarte beskik nie? Het dit weggeraak of wat is die geval?

3. Dit blyk ook uit die vergaderings en die ekstra R2,4 miljoen wat die SBM nou aan die kontrakteur RJM Civils moes betaal om die hoofpad voor 6 Desember klaar te kry, dat die oorspronklike kontrak nooit voorsiening gemaak het (of gestipuleer het) dat die hoofpad voor die Desembervakansie voltooi moes wees nie. Daar is blykbaar ook nooit in die kontrak gestipuleer dat die besighede langs Oostewalstraat NIE van die hoofverkeer afgesny mag word nie – m.a.w. dat dienspaaie eers gebou moet word voordat die pad gebou word om te alle tye toegang tot besighede te verseker nie. Die feit dat ‘n bykomende, onafhanklike kontrakteur (Etienne Swanepoel) nou ook aangestel moes word as projekbestuurder om seker te maak dat die hoofpad voor 6 Desember voltooi is, is dus te wyte aan tekortkominge in die oorspronklike kontrak wat met RJM Civils gesluit is, want volgens dié kontrak het hulle tyd tot April om die werk te voltooi sonder enige spesifieke ooreenkoms oor bg? As dit die geval is, en dat die R2,4 miljoen PLUS Swanepoel se salaris dus ekstra uitgawes is weens swak beplanning/tekorte in die oorspronklike kontrak, wil dit voorkom of die SBM beslis ‘n verantwoordelikheid teenoor die geaffekteerde winkeleienaars het. Dit is om dié rede dat die winkeleienaars ook insae gevra het in die tenderprosedures en oorspronklike kontrak wat aan hulle beskikbaar gestel sou gewees het op verlede Donderdag se vergadering. (Verwys na epos hieronder). Gaan dié dokumente nog aan hulle beskikbaar gestel word?

Ek vertrou dat die SBM-bestuur die vrymoedigheid sal hê om openlik en eerlik die vrae te beantwoord sodat die besigheidseienaars duidelikheid kan kry oor wat hulle te doen staan. Op die oomblik is die toegang tot sekere winkels steeds heeltemal afgesny omdat die padwerke en slote ‘n gevaar vir voetgangers skep. ”

* In ‘n uittreksel uit ‘n epos hieronder het die burgemeesterskantoor op skrif bevestig dat die stadsingenieur, Gerrit Smith, ‘n afskrif van die tenderdokumente en kontrak aan die winkeleienaars beskikbaar sou stel en dit met hulle sou bespreek.
———- Forwarded message ———-
From: “Smith, Elza” <Elza.Smith@sbm.gov.za>
Date: 5 Oct 2016 12:57 pm
Subject: RE: Vergadering 6 Oktober 2016 – Langebaan Stadsaal
To: “Judith Breytenbach” <gypsymojolangebaan@gmail.com>
Cc:

2) Kan ek asseblief advies of hulp kry van waar ons n afskrif van die mandaat/kontrak vir die spesifieke tender van die opgradering van Oostewal pad kan kry. Ek sien dat baie munisipaliteite ope kommunikasie op hul webblad het waar enige persoon toegang het tot projekte en tenders op hulle webblad kan verkry. Ek hoop en vertrou dat Mnr Koen in die gees van deursigtigheid sy goedkeuring sal gee.

Mr Gerrit Smith will have a copy available at the meeting and he will address the issue.

Elza Smith
Office of the Executive Mayor

Lees ook:
http://www.weskusontheline.co.za/…/roadworks-bomb-explodes…/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *