PADOORLOG, HOFSAAK EN MOSIE VAN WANTROUE IN SBM DREIG OOR LANGEBAAN-PAD

paaie7Padwoede oor die gesloer met die padkonstruksiewerk aan Langebaan se hoofstraat en besighede se gevolglike inkomsteverlies is stadig maar seker besig om in ‘n volskaalse padoorlog te ontwikkel. Sprake van hofsake en ‘n massa-aksie om ‘n mosie van wantroue in die SBM-bestuur aanhangig te maak, is gister genoem. Dit volg nadat ‘n klompie winkels stééds van die hoofpad afgesluit is – maande sedert ‘n noodvergadering met die burgemeester Marius Koen en betrokke SBM-raadslede en amptenare gehou is. Die sakelui kry ook géén terugvoering van die SBM-bestuur soos op die laaste vergadering belowe is nie.

WeskusonTheline het verlede week pertinente vrae hieroor per epos aan die Saldanhabaai Munisipaliteit, burgemeester Marius Koen en betrokke raadslede en departementshoofde gestel. Onderstaande  antwoorde is vanoggend laat eers ontvang nadat burgemeester Marius Koen gister glo vergeet het om goedkeuring vir die stuur van die betrokke antwoorde te gee en die SBM ook vanoggend sonder krag was weens ‘n kragonderbreking.

In die epos word geen melding gemaak wie die betrokke vrae beantwoord het nie en geen van WeskusonTheline se vrae is ook regtig beantwoord nie. Die antwoorde het eerder méér vrae, frustrasie en wantroue onder bankrot-winkeleienaars veroorsaak – veral in die lig daarvan dat niemand blykbaar verantwoordelikheid aanvaar vir die “wegraak” van die ondergrondse dienstekaarte wat die ergste vertragings met die konstruksiewerk veroorsaak het nie. Raadslid André Kruger het op die laaste padvergadering gesê die jongste kaarte het weggeraak tydens die Langebaan-kantoor se verskuiwing na Vredenburg, maar dis onverklaarbaar dat daar geen afskrifte of ondersteuningstelsel vir sulke belangrike dokumente is nie. WeskusonTheline het gister vergeefs boodskappe gelaat – Marius Koen is vir 3 dae uitstedig en André Kruger het ook nie sy foon beantwoord nie.

Vrae wat uit die SBM se antwoorde spruit, is onder meer:  Hoe lank mag paaie “tydelik” gesluit en besighede heeltemal afgesny word omdat daar nie in die oorspronklike beplanning voorsiening gemaak is vir dienstepaaie om toegang tot besighede te verseker nie? Dit is ook onduidelik hoekom die SBM nou na die hersonering van sekere geboue verwys . . . die betrokke geboue word al jare aan sakelui verhuur sonder dat die eienaar besigheidsregte bekom het en die munisipaliteit aanvaar dus al jare die munisipale dienstegeld van dié besighede. Dit is nie duidelik wat die winkeleienaars se verlies aan inkomste weens die padbouwerke met dié hersoneringsaak tussen die geboue-eienaar en die SBM te doen het nie? Dit laat eerder die vraag ontstaan hoekom daar soveel jare lank toegelaat is dat die geboue sonder besigheidsregte aan sakelui verhuur word?

Dit is ook onduidelik hoekom die tender- en kontrakdokumente wat op die jongste vergadering deur stadsingenieur Gerrit Smith aan die besigheidseienaars beskikbaar gestel en bespreek sou word, nooit in die vergadering genoem is deur die fasiliteerder (André Kruger) óf tydens se Smith se spreekbeurt nie?

Laastens – die antwoorde maak ook geen melding van die vergoeding waarop besigheidseienaars aandring weens hul geweldige verliese oor die afgelope paar maande nie.

 

Hieronder is die vrae en antwoorde onveranderd.

WKOTH Vraag:

  1. Dit is duidelik dat sommige besigheidseienaars in Oostewalstraat geweldige geldelike verliese ly omdat hul besighede heeltemal afgesny is deur die sloerende padwerke. Hulle is besig om regsmenings in te win rakende hul regte om vir hul verliese vergoed te word. So ‘n hofsaak kan lank duur en baie geld kos. Is daar ‘n moontlikheid dat die SBM die eienaars gaan vergoed soos op die vergadering bespreek? Indien wel, wanneer sal hulle ingelig word hieroor voordat hulle dalk verdere onnodige regskoste aangaan ?

SBM Antwoord:

Oostewalstraat was aanvanklik ‘n provinsiale pad en het beperkte toegang aan aanliggende eiendomme gebied. Die pad is gedurende 2012 deur die Saldanhabaai munisipaliteit oorgeneem en is die pad en aanliggende korridor herbeplan om besigheidsgeleenthede langs die pad tot stand te bring.

Die munisipaliteit is gemagtig om in terme van sy Verordeninge (P.K. 40/2012) met betrekking tot Paaie en strate – klousule 39 Aanleg, onderhoud en benaming van strate:

Die munisipaliteit kan binne sy regsgebied-

a.) strate aanlê, heraanlê, verander en onderhou

In terme van klousule 38 Tydelike sluit van paaie of strate

Die munisipaliteit kan, sonder nakoming van artikel 37 ‘n straat tydelik sluit-

a.)  Vir die doeleindes of in afwagting van die aanleg, heraanleg, onderhoud of herstel van sodanige straat

Handelende ingevolge die Grondwet en relevante wetgewing en bewus van sy verpligting om die gebruik van paaie, strate en sypaadjies te beheer en om enige werk wat in dusdanige strate, paaie en sypaadjies verrig word te bestuur ten einde ‘n veilige omgewing vir alle mense binne die munisipale gebied te verseker.

Sekere besighede aanliggend tot Oostewalstraat het reeds aansoek om hersonering van die grondgebruiksregte van die onderskeie eiendomme gedoen maar word die besighede tot ophede ongemagtig bedryf. Genoemde grondgebruiksaansoeke kon nie gefinanliseer word nie weens die beperking wat toegang tot die eiendomme vanuit Oostewalstraat hierop geplaas het. Die eiendomme het egter toegang vanuit St. Croixslot en was die gebruik om toegang vanuit Oostewalstraat in die verlede te verkry ongemagtig deur die eienaars toegepas. Die herbou van Oostewalstraat sal grondsgebruikregte van die eiendomme tot voordeel strek.

Die projek is vervat in die GOP en is op aandrang van die betrokke besighede/eienaars vervat in die begroting van die raad vir implementering. Voldoende vooraf kennisgewing was ten opsigte hiervan aan die eienaars/besighede gebied ter voorbereiding van die konstruksie tydperk.

WKOTH Vraag:

  1. Dit het uit die vergaderings duidelik geblyk dat die grootste vertragings met die padbouwerke veroorsaak is omdat daar nie planne/kaarte was vir die ondergrondse dienste (waterpype, elektriese bedrading/Telkom-netwerke, ens.) Hoekom is daar geen sulke planne beskikbaar nie? Dit is tog onaanvaarbaar dat ‘n gevestigde dorp soos Langebaan oor geen sulke noodsaaklike kaarte beskik nie? Het dit weggeraak of wat is die geval?

SBM Antwoord:

Dit is korrek dat die onvoorsiene dienste die gevolg van die vertragings op die projek veroorsaak het. Van die dienste is reeds meer as 30 jaar oud en is tydens konstruksie gevind wat nie op die beskikbare rekords aangedui is nie. Die Saldanhabaai Munisipaliteit kan nie verklaar waarom planne van die dienste nie beskikbaar is nie. Dit dien ook gemeld te word, dat die status van die pad voorheen ‘n provinsiale pad was en dat dienste nie altyd met fisiese ligging ooreenstem soos op die soos gebou planne aangedui waaroor wel beskik was nie.

 

WKOTL Vraag:

  1. Dit blyk ook uit die vergaderings en die ekstra R2,4 miljoen wat die SBM nou aan die kontrakteur RJM Civils moes betaal om die hoofpad voor 6 Desember klaar te kry, dat die oorspronklike kontrak nooit voorsiening gemaak het (of gestipuleer het) dat die hoofpad voor die Desembervakansie voltooi moes wees nie. Daar is blykbaar ook nooit in die kontrak gestipuleer dat die besighede langs Oostewalstraat NIE van die hoofverkeer afgesny mag word nie – m.a.w. dat dienspaaie eers gebou moet word voordat die pad gebou word om te alle tye toegang tot besighede te verseker nie. Die feit dat ‘n bykomende, onafhanklike kontrakteur (Etienne Swanepoel) nou ook aangestel moes word as projekbestuurder om seker te maak dat die hoofpad voor 6 Desember voltooi is, is dus te wyte aan tekortkominge in die oorspronklike kontrak wat met RJM Civils gesluit is, want volgens dié kontrak het hulle tyd tot April om die werk te voltooi sonder enige spesifieke ooreenkoms oor bg? As dit die geval is, en dat die R2,4 miljoen PLUS Swanepoel se salaris dus ekstra uitgawes is weens swak beplanning/tekorte in die oorspronklike kontrak, wil dit voorkom of die SBM beslis ‘n verantwoordelikheid teenoor die geaffekteerde winkeleienaars het. Dit is om dié rede dat die winkeleienaars ook insae gevra het in die tenderprosedures en oorspronklike kontrak wat aan hulle beskikbaar gestel sou gewees het op verlede Donderdag se vergadering. (Verwys na epos hieronder). Gaan dié dokumente nog aan hulle beskikbaar gestel word?

SBM Antwoord:

Dit word verwag van ‘n redelike konsultant en kontrakteur om tydens die uitvoering van ‘n kontrak alle omstandighede inag te neem wat die uitvoering daarvan sal beinvloed. Vanuit die kontrak spruit die opstel van ‘n konstruksieprogram waarin die genoemde omstandighede inaggeneem is en was die voltooiingsdatum einde Februarie 2017 om alle werke af te handel. Voldoende voorsiening was gemaak om die vakansieseisoen inag te neem.

Genoemde vertragings wat ondervind is weens die teenwoordigheid van ondergrondse onvoorsiene dienste, het die munisipaliteit dit nodig geag om wel per ooreenkoms met die kontrakteur ekstra arbeid en masjiene in te bring, wat nie aanvanklik binne die kontrak voorsien was nie, ten einde wel die konstruksie van die pad tot so ‘n stadium te versnel om voorsiening te maak vir die vakansieseisoen.

Weens die ekstra werke bine die konstruksieprogram en beperkende tyd om te verseker dat teikendatums bereik word, is Mnr Swanepoel aangestel om daaglikse monitering te verseker. Die projekbestuureenheid van die munisipaliteit beskik nie oor die ekstra kapasiteit wat deur vooraf genoemde vereis word nie.

Die dokumente aangaande die kontrak was wel beskikbaar by die vergadering van 6 Oktober 2016. Geen navrae was hieromtrent aan mnr G. Smith gerrig nie. Indien u wel ‘n afskrif van die dokumente wil bekom, is u welkom om ingevolge die Wet op toegang van inligting by die Senior Bestuurder: Administrasie, mnr Andre Oberholster, telefoonnommer 022-701 7026, daarvoor aansoek te doen.

 

WKOTL vertrou dat die SBM-bestuur die vrymoedigheid sal hê om openlik en eerlik die vrae te beantwoord sodat die besigheidseienaars duidelikheid kan kry oor wat hulle te doen staan. Op die oomblik is die toegang tot sekere winkels steeds heeltemal afgesny omdat die padwerke en slote ‘n gevaar vir voetgangers skep.

  • Sakelui se kommentaar volg elders

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *