“Die brand was in die middel van Natuurbewaring se stuk grond aan Hopefield se kant van die Elandsfontein-myn. Dit was ‘n koel, windlose aand en daar was geen glasstukke of iets wat ‘n spontane brand kon veroorsaak het nie, so ek vermoed dit was kwaaddoeners wat òf opsetlik òf per ongeluk die brand gestig het. As ek nie toevallig daar was om die brandweerpersoneel na die gebied te neem nie, sou hulle nóóit daar uitgekom het in die donker nie en kon die hele Hopefield afgebrand het. Gelukkig is net geringe skade oor sowat 5 hektaar aangerig en dis op ‘n stuk grond waarop daar nie wild is nie .”
Só het Pierre van der Westhuizen gister gesê nadat hy Sondagnag brandweerpersoneel van Vredenburg moes help om by ‘n veldbrand aan Hopefield se kant van die Elandsfontein-myn uit te kom. Volgens Van der Westhuizen was die brand sowat 1 km vanaf die grensdraad van die Elandsfontein-fosfaatmyn en sowat 6 km vanaf die myngeboue.
Bekommerde Hopefield-inwoners het Sondagaand omstreeks 19h00 probeer uitvind wat aangaan toe hulle vlamme en rook naby die myngebied sien en geluide hoor wat soos ontploffings geklink het. By nadere ondersoek blyk dit die Hopefield SAPD het omstreeks 20h10 die brandweer ontbied. Vier brandweereenhede van Vredenburg is na die gebied ontplooi, maar kon in die donker en rook nie hul pad in dié onbekende terrein na die brand vind nie.
“Ek was toevallig in die veld naby die brand en die SAPD het die brandweerlui laat terugdraai nadat hulle hulle blykbaar vasgery het by die elektroniese hek van die Thali Thali Wildreservaat. As jy nie dié gebied en die veld ken nie, sou jy nooit by die brand uitgekom het nie”, het Van der Westhuizen gesê.
Gelukkig was daar geen wind om die vlamme aan te blaas nie. Toe die brandweerlui uiteindelik by die brand uitkom, is die vlamme vinnig geblus.
“Die Polisie en brandweer het vinnig gereageer, maar omdat hulle van so ver af moes kom en nie die gebied ken nie, is die brand eers 24h30 geblus. Hier behoort ‘n ambulans met personeel wat die gebied ken op Hopefield te wees – wat sou gebeur het as ek nie hier was om hulle na die brand te neem nie?”, het Van der Westhuizen tereg gevra.
- Die ver afstande wat nooddiens-personeel moet aflê, die burokratiese rompslomp en gebrekkige kommunikasie tussen die onderskeie dorpe se nooddienste en die publiek is geruime tyd al ‘n groot bekommernis en steen des aanstoot. Dit is dié week juis bewys toe Weskusontheline ná dosyne oproepe, navrae en boodskappe eers vanmiddag met ‘n woordvoerder van die Weskus Distriksmunisipaliteit se Brandweerdienste kon praat – en selfs tóé was die inligting in die verslag blykbaar heeltemal onvolledig en foutief. Volgens die amptelike verslag wat Maryke Kotze, administratiewe beampte van Moorreesburg Brandweerdienste, vanmiddag met WeskusonTheline gedeel het, was die brand oor drie plase op die myn se grond versprei . . . en die enigste Polisiewoordvoerder op Hopefield met wie WeskusonTheline mág praat, was nie eens bewus van die brand nie . . .
Foto’s: Selfoonfoto’s wat ontstelde Hopefielders Sondagnag van die brand geneem het nadat hulle vergeefs probeer uitvind het wat aangaan. Die brand is eers ná middernag geblus omdat brandweerlui van Vredenburg nie by die brand kon uitkom nie – deels weens die rook en nagdonkerte en deels omdat hulle nie die gebied ken nie.
Lees ook die voorafgaande FB-berig hieronder :
Een veldbrand wat blykbaar oor drie plase teenaan die Elandsfontein-myn versprei het, twee dae later en steeds weet niemand hoe die brand ontstaan het nie . . . en tensy iemand amptelik ‘n ondersoek aanvra en self daarvoor betaal, SAL niemand seker ooit weet hoe dit ontstaan het nie . . .
Dit is die kommerwekkende werklikheid van nooddienste en gebrekkige kommunikasie langs die Weskus nadat ‘n veldbrand Sondagaand in die omgewing van die Elandsfontein-myn uitgebreek het. Bekommerde Hopefield-inwoners wou weet wat aangaan nadat hulle die vlamme gesien en klapgeluide gehoor het wat soos ontploffings geklink het.
WeskusonTheline het self sedert Sondagaand vergeefs probeer uitvind wat die geval is. Beloftes van amptenare wat sal uitvind en terugkom met inligting was net beloftes. Vanmiddag het die Polisiehoof van Hopefield SAPD nie geweet van die brand nie en moes eers die verslag aanvra.
Ná dosyne oproepe sedert Sondagaand het weskusonTheline vandag by Maryke Kotze, administratiewe beampte by Moorreesburg Brandweerdienste, gehoor die brand is glo al Sondagaand om 20h10 deur die Hopefield SAPD aangemeld.
Vier brandweer-eenhede van Vredenburg is glo na die gebied ontplooi, maar kon nie vanaf die R27 toegang tot die plase kry waar die brande gewoed het nie omdat die ingang na een van die plase glo deur ‘n elektroniese hek versper is. Die brandweerlui het glo ook baie gesukkel om hul weg in die donker in dié onbekende terrein te vind.
Volgens die brandweerverslag het ‘n plaaseienaar van een van die plase, Pierre van der Westhuizen, die brandweerlui gehelp en gesê hulle moet vanaf die R45 probeer inkom.
Die brand is glo eers ná middernag onder beheer gebring. Dit is steeds nie bekend op wie se plaas die brand ontstaan het, hoeveel skade aangerig is en hoe dit ontstaan het nie.
http://www.weskusontheline.co.za/
* Foutiewe inligting in die brandweerverslag is reggestel in die opvolg-berig nadat WeskusonTheline met Pierre van der Westhuizen gepraat het wat die brandweerlui na die brand moes vergesel.

