WeskusonTheline is NIE goed met stof nie . . . ‘n Trippie na Saldanhabaai se ysterertsaanleg om die forum van belanghebbendes oor die ROOI GEVAAR by te woon, gaan gepaard met ‘n breë kopband oor die neus en mond getrek . . .
‘n Horde gedagtes en idiome waai saam met die stofwind deur die brein namate die onoogike monsteraanleg naderskuif – die gedrog wat soos ‘n vrot tand uitstaan in die mooi kusgebied:
Hìér werk die Kaapse Dokter agterstevoor – hy waai die mense SIEK; die een se dood is letterlik die ander se brood; Saldanha is mooi “colour-coded” – almal het baksteenrooi huise en dakke en tot die plaveisels en randstene is pienk getint . . . dié omgewing gee ‘n ander betekenis aan die begrip “rooskleurige prentjie” . . .
Skoon laat vir die forumvergadering van rondkyk na al dié “rooskleurigheid” langs die pad, kry ons uiteindelik die afdraai na Transnet se ewe pienk baksteenkompleks. Transnet se nuwe konferensie- en ontspanningsentrum (ironies genoeg BAYVUE Centre gedoop) se baksteenmure versmelt mooi met die res van die omgewing wat lyk of die Rooi See daardeur gewaad het . . .
SJOE! Rooi siersteenhuise is seker al wat hier sal aard en nie elke jaar oorgeverf moet word nie? Gelukkig het ek onthou om NIE ‘n wit langbroek of toppie aan te trek nie . . . weet nie of rooi ertsstrepe maklik uitwas nie . . .

Hoe lééf die mense in dié besoedeling? Die mense met wie ek kortliks gesels, trek die skouers op en sê hulle is lankal “gewoond daaraan”. Party sê dis nie so erg nie. Ek wys na die dik bruin misbank buite. Hulle kyk my vraend aan en sê dis mos mis . . . ? Blykbaar ken hulle net bruin mis . . . SMOG in Engels . . . wat dikwels vanaf die Langebaan Lagoon sigbaar is.
Parkeer haastig en hol ingang toe, net om deur die sekuriteitswag teruggestuur te word – die motor is verkeerdom geparkeer – alle motors MOET netjies in vlootstyl-gelid met hul neuse vorentoe geparkeer word.
Te laat om te probeer uitvind hoekom dié vreemde parkeerreël so streng toegepas word terwyl die wêreld rondom in pienk stofwolke vergaan, jaag ons toe maar in trurant by die oorkantste parkeerplek in en stamp nog die agterste buffer teen die randsteen van pure haastigheid.
In die Salamander Raadsaal sit al die verteenwoordigers van Transnet, munisipale amptenare en sakelui wat almal moedeloos gesukkel is met die pienk stof wat net nie wil gaan lê nie. Hulle is hier vir die “Environmental Stakeholder Forum Meeting” om te hoor hoe vorder planne om Saldanha minder pienk te kry . . .
Ons kyk na indrukwekkende rekenaargrafieke van stoftellings – hoe die besoedelingsvlakke fluktureer en hoe hoog en waar die spesiale maatemmers ofte wel lugmoniteringstoestelle geplaas moet word wat die vlakke van besoedeling moet meet. Wie kontroleer en yk dié toestelle. Die woongebiede wat die ergste geraak word, is Blue Water Bay, Paradise Beach en Vredenburg . . . afhangende watter kant toe en hoe sterk die wind waai . . .
Ons hoor watter wind die stof in watter rigting waai en wat die ysteroksied-konsentrasie in die stof is. Hoeveel van dié besoedeling deur Mittal Staal en ander nywerhede veroorsaak word en hoeveel deur die ysterertskaai, moet nog bepaal word deur ander studies – en ander konsultante?
Party sakelui raak warm onder die kraag . . . wat help dit om die besoedelingsvlakke te MEET – wat word gedoen aan die OORSAAK? Dié ysterertskaai bestaan immers al 40 jaar en hoe meer erts uitgevoer word, hoe groter word die besoedelingsimpak. Vroeër vanjaar is die 1 miljard ton-mynpaal hoeka gevier . . .
Die meting van besoedelingsvlakke is egter nodig, word verduidelik, om te kyk of dit binne bestaande nasionale en internasionale wetgewingsraamwerke val . . . ja, die limiet is al drie keer vanjaar oorskry . . . dis baie tegnies, want daar is nie regtig vasgestelde bepalings vir al die faktore wat in ag geneem moet word nie – is dit stof-irritasie, omgewingsbesoedeling of gesondheidsrisiko’s? Elkeen val onder ‘n ander departement of afdeling en moet apart getoets en ontleed word – of so iets.
Ons hoor watter toestel spesiaal volgens spesifikasies gebou word om die onderstelle van voertuie skoon te spuit voordat hulle die aanleg verlaat sodat dit nie die gewraakte rooi stof op openbare paaie versprei nie. Ons hoor 500 huise gaan vroeg in Januarie 2017 met verf van goeie gehalte oorgeverf word – verf wat maklik afgewas kan word sodat die huise voortaan eerder gewas as oorgeverf hoef te word. (Ons vra liewer niks oor hoeveel water hiervoor gebruik gaan word terwyl inwoners met streng waterbeperkings sukkel nie . . . )
Nee, Transnet gaan NIE mense uitbetaal wat uit radeloosheid intussen self hul eiendomme geverf het nie en as jy nie van Transnet se verf op jou huis wil hê nie, moet jy onderlinge reëlings met hulle tref. Eienaars van siersteenhuise gaan ook nie vergoed word vir hul uitgawes om hul huise stofvry te kry nie.
Sowat tien tot twintig plaaslike kontrakteurs gaan aangestel word om die verfwerk te doen.
En o ja, daar is verskeie opsies waarna gekyk word om die besoedeling meer doeltreffend te probeer bekamp . . . hulle hoop om die sperdatum vroeg in 2017 te haal.
In ‘n neutedop: Transnet doen glo alles in sy vermoë om die rooi stof binne “aanvaarbare vlakke” te kry, maar die kanse is glo nul dat Saldanhabaai ooit heeltemal ontslae sal wees van dié Rooi Gevaar.
Nou gaan die stryd oor wat en wie gaan bepaal wat is ‘n “aanvaarbare” vlak van besoedeling . . . ? Hoeveel van die “rooi stof” beland in die see? Maar seker die belangrikste vraag – hoeveel van dié rooi stof beland daagliks in mense se longe . . . ?
As dit die norm van omgewingsbesoedelingsbeheer by Saldanha is, is dit NAG vir die inwoners met al die ander nywerhede wat nog op pad is danksy die Regering se ambisieuse IDZ-nywerheidsontploffing wat dreig om die Weskus te verswelg . . . tensy die Nasionale Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning en verwante owerhede vinnig intree en probeer red wat nog te redde is . . .
En intussen lyk dit só . . . ?
#http://www.provincialgovernment.co.za/survey/116/Western-Cape/Environmental-Affairs-and-Development-Planning

