Paaie reeds voos gery deur jaende trokke met oop bakke

Vragmotors en swaarvoertuie wat oral op die Wes-Kaapse paaie jaag en nywerheidsprodukte en ander materiaal op oop bakke vervoer, is toenemend besig om mense warm onder die kraag te maak . . .

‘n Onstoke inwoner van Dwarskersbos het vanoggend groot skade gely toe sy onderweg na Velddrif “moes koes” vir die klippe wat van die bak van ‘n aankomende vragmotor op haar motor “neer gereën” het. Op die foto kan die krake en skade aan die motorvoorruit duidelik gesien word. Volgens die motoris het die vragmotor teen so ‘n hoë snelheid gejaag dat sy net die letters CFG van die registrasienommer van dié jaende roomkleurige platbak-vragmotor met diamantmaas (diamond mesh) voor die agterruit betyds kon lees. Die inwoner soek hulp om die betrokke voertuig te identifiseer, want dis glo deesdae ‘n bekende gesig op die pad tussen Dwarskersbos en Velddrif waar swaarvoertuie die pad “aan flarde” jaag en nie hul vragte bedek nie . . .

motorskade

Verkeerslui en die SAPD is ook skerp gekritiseer vir hul versuim om op te tree teen dié swaarvoertuie wat “paaie stukkend jaag met onbedekte vragte” wat die omgewing besoedel en ‘n groot gevaar vir motoriste skep weens sand, klippe en ander myn- en nywerheidsprodukte wat die wêreld vol waai en motorruite beskadig.

Die polisieëring van swaarvoertuie wat skadelike chemiese stowwe soos mangaan en ander nywerheidsprodukte na en van myne en die Saldanha-hawe vervoer, is ‘n taai tameletjie wat ook in vergaderings oor die Wes-Kaapse Luggehaltebeheerplan onder die loep gekom het.

Wie en watter departement moet al dié trokke polisieer en onder watter departement se jurisduksie val dit? Mag verkeerslui ‘n swaarvoertuig wat onbedekte materiaal vervoer van die pad aftrek en die vrag skut, of wie is hiervoor verantwoordelik . . . ?

Die onsekerheid en gebrek aan mannekrag, duidelike riglyne en kundigheid oor dié nuwe impak wat die myn- en nywerheidsrevolusie aan die Weskus op die paaie en infrastruktuur het, skep skuiwergate wat daagliks misbruik word. Die Regering se ambisieuse nywerheidsontwikkelingsplan (IDP) vir die Weskus is maar nog in sy babaskoene, maar die impak is reeds op verskeie gebiede sigbaar.

trucks“Besluite oor myne en grootskaalse nywerheidsontwikkelings behoort nie op nasionale vlak geneem te word deur mense (politici) wat geen idee het wat op voetsoolvlak aangaan nie.

“Sulke besluite behoort net deur kundiges op provinsiale/distriks en munisipale vlak geneem te word, want as daar nie die mannekrag, nodige kundigheid en duidelike wetgewing is om dié ontwikkelings te bestuur/monitor en te polisieër nie, is dit chaos”, het ‘n plaaslike amptenaar dit netjies opgesom op die laaste openbare vergadering van die Wes-Kaapse Luggehaltebestuursplan in Langebaan. (Die hersiene konsepplan is nou oop vir kommentaar by:

https://www.westerncape.gov.za/eadp/comment-portal

Intussen kan Weskussers net wonder wat die impak op toerisme, padverkeer en die omgewing gaan wees as al VYF beplande myne aan die Weskus goedkeuring van die mynbehepte en omstrede SA Myn-ministerie kry – dis nou bo en behalwe die uiters ambisieuse nywerheidsontploffing wat vir die Weskus beplan word – en wat grootskaalse akwa-kultuurboerdery neffens die grootste olie/gas-hub in Afrika by die Saldanha-hawe insluit . . .

Dit terwyl die rooi ertsstof by Portnet wat die hele omgewing besoedel, op sy ergste woed met geen korttermyn-oplossing in sig nie . . . en terwyl waterbeperkings inwoners wat periodiek reeds sukkel met “sleg-smakende drinkwater” nou deur erge boetes en hemelhoë rekeninge in die gesig gestaar word as hulle dalkies TE veel water drink . . . ?

Lees ook: http://westcoastdm.co.za/…/up…/2012/01/idp_2011_2015_afr.pdf

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *