WOES MOOI . . . en SOMS WOES WOES OP WILDE, WONDERLIKE WESKUS

Die Desember-vakansie is uiteindelik hier en die besoekers  begin stadig maar seker die BAAN binnestroom.  Teen die naweek  behoort die dorp en strande behoorlik te wemel en te gons van die “binnelanders en buitelanders” se baldadige seelus en vakansiegees.

lagoon8 lang16-3 lang30 pic32 pic34 pic40 pic43 lang38 sharkbay10-2 sharkbay9-2 calypso23 calypso-2 calypso1 calypso24 calypso6 calypso18-2 calypso15 calypso14 calypso8

Langebaan is gerat vir die inval en veral sakelui lek hul lippe af vir ‘n bietjie koperskapitaal ná die lang, droë wintermaande en padbou-frustrasies.  Die omstrede nuwe hoofstraat met sy spoggerige verkeersingels en breë middelman is net betyds geteer om chaos af te weer en die R27-ingangsroete word môre uiteindelik oopgestel – HOERA!

Die blinknuwe, afsonderlike lane en sirkels sal aanvanklik seker net so volksvreemd vir besoekers lyk en voel as vir inwoners wat nog sukkel om hul draaie en drifte op dié “smaller weë” te beheer . . . en ‘n mens kan net hoop dat alle padgebruikers vinnig leer en geduld, bedagsaamheid en wetsgehoorsaamheid sal toepas.

WOES MOOI, MAAR OOK WOES GEVAARLIK VIR DRONK JAAGDUIWELS 

Die afgelope maand se “oefenlopies” op die nuwe paaie en singels het plek-plek ietwat katastrofies verloop.  Hoewel daar tot dusver nog nie noodlottige gevalle was nie, is dit duidelik dat die nuwe, mooier Ootewalstraat nie ontwerp is vir jaagduiwels en aangeklamde partytjiegangers nie . . .

Die eerste ongeluk het verlede Woensdagnag gebeur toe ‘n motor na bewering afgeskryf is nadat die bestuurder teen ‘n hoë snelheid die randsteen by die Sleighstraat-singel getref en gerol het. Gelukkig is die twee insittendes glo nie baie ernstig beseer nie.

VOERTUIE BRAND UIT

Saterdagnag het ‘n motor uitgebrand nadat dit ook die randsteen getref en aan die brand geslaan het by die sirkel by die Villa Diamante-ingang.  Sover bekend is niemand in dié voorval beseer nie, maar die motor is heeltemal verwoes. Dit is nie bekend of die brand deur die elektriese bedrading of die slag van die botsing veroorsaak is nie. (Foto onder)

 

 

Sondagoggend het een van Much Asphalt se trokke wat vir Group Five asfalt kom aflewer het vir die padbouwerke, ook aan die brand geslaan en ‘n groot verkeersopeenhoping op die R27 veroorsaak. Volgens Willem Heymans van Group Five is dié brand deur die trok se elektriese bedrading veroorsaak. Hoewel die asfalt nie uitgebrand het nie, kan dit nie meer doeltreffend gebruik word nie omdat die bindkrag deur die hitte vernietig word. (Foto heel onder)brand10brand6

Die tekort aan verkeersbeamptes en sigbare polisieëring – veral oor naweke en saans laat – is miskien iets wat oor die feestye aandag kan geniet?

OPROER BY WATERGAT

In ‘n ander voorval Saterdagnag het chaos op die parkeerterrein van Die Watergat uitgebreek toe ‘n groep mans – vermoedelik van Laingville – ná toemaaktyd by dié kuierplek wou ingaan. Volgens ‘n bron wat op die toneel was, was dit omstreeks 03h00 en die laaste klante was reeds op pad uit. Toe die nuwe aankomelinge toegang geweier is, het hulle glo oproerig geraak en klippe begin gooi. Een van die kroeg se ruite is stukkend gegooi en in die skermutseling wat gevolg het, is ‘n uitsmyter glo ligweg beseer nadat iemand hom met ‘n mes probeer steek het.  ‘n Harde knalgeluid – wat glo òf ‘n waarskuwingskoot, òf ‘n klapper kon wees – het die oproeriges laat spaander.

Kaptein Christo de Wet het bevestig die saak word ondersoek, maar wou nie meer besonderhede verstrek wat dalk die ondersoek kan belemmer nie.

MISDAAD GEDY ORAL IN DIE FEESSEISOEN – OOK OP LIEFLIKE LANGEBAAN

Die toenemende vlaag diefstalle en inbrake by vakansie-oorde langs die Weskus – vanaf Tietiesbaai tot Leentjiesklip – bewys dat opportunistiese skelms nou ook op die Weskus ‘n nare werklikheid is wat niemand kan ontken of van kan ontsnap nie – veral nie oor die feesseisoen nie. Langebaan en omgewing is geen uitsondering nie en hoewel hier meesal “sagte misdaad” voorkom vergeleke met die geweldsmisdaad van groter stede, wil niemand van hul swaarverdiende besittings beroof word nie. Besoekers word gemaan om nie oorgerus te wees wanneer hulle luilekker ontspan langs die see of viswaters nie en dieselfde paraatheid en voorsorgmaatreëls teen misdaad te handhaaf as by die huis.

ONTHOU – Dis die wilde, wonderlike Weskus – hier is alles WOES mooi en WOES woes!

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *