Departement van Water en Sanitasie se hantering van W-Kaapse waterkrisis laat wenkbroue lig . . .

600 plase in W-Kaap hoor hulle kry nie meer water

ABRIE BURGER

‘Die liewe Vader gaan sorg.’

Tot 600 plase langs die oewer van die Bergrivier – wat van Franschhoek tot Velddrif langs die Weskus vloei – word geraak deur ’n besluit van die departement van water en sanitasie om hul gebruik van dié waterbron summier af te sny.

| FOTO: CONRAD BORMAN: Deon Steyn kyk met hoop na sy watermeter op sy plaas Onverwags.Die boere is verlede maand deur die departement ingelig dat hulle nou op ander waterbronne moet staatmaak.

Voor dié drastiese stap is hulle bloot gevra om hul waterverbruik te verminder.

Deon Steyn, ’n koringboer op die plaas Onverwags buite Wellington, vrees dat daar nie genoeg water vir sy koring, mandaryne en koejawels gaan wees wat hy onlangs geplant het nie.

“Die jong sitrusboompies, wat ek voorheen tot agt uur per week water gegee het, gaan seerkry as hulle nie gereeld water kry nie,” sê Steyn.

“As dit nou lekker reën, so 20 mm tot 25 mm, sal die sitrus orraait wees.

“As ons hulle net kan versorg tot dan. Die koring het ook baie water nodig, maar ag, die liewe Vader gaan sorg vir hulle.”

Steyn sê hy kon ook nie soos gewoonlik sy wingerde ná die oes behoorlik water gee nie. Hy sê dit is belangrik vir volgende jaar se drag.

“Ons kan seker nog oorleef, maar die seisoenwerkers gaan die swaarste kry.

“Die finansiële impak van die waterskaarste gaan ons eers later sien. Die boere gaan dit eerste voel en dan die werkers en pakstore.”

Billy Bourbon-Leftley, voorsitter van die Bergrivier-hoof besproeiing s raad, sê dié waterbron is soos ’n slagaar.

“Meer as 10 000 plaaswerkers en boere word ernstig deur dié opskorting van watergebruik uit die rivier geraak,” sê Bourbon-Leftley.

Hy sê volgens ouer boere en inwoners van die Paarl was die rivier nog nooit die afgelope 65 jaar so droog nie.

Volgens inligting van die Wes-Kaapse departement van landbou verskaf die Bergrivier met sy verspreidings netwerk water vir byna 73 000 ha besproeide landbougrond.

Die opbrengs wat besproeide gewasse langs die Bergrivier opgelewer het, is in 2016 teen R6,9 miljard geraam en het 20 000 werkgeleenthede verskaf. Die meeste landbougrond (71%) langs die rivier word vir wyndruiwe gebruik.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê boere langs die Bergrivier het nie die afgelope seisoen bespaar soos hulle moes nie en het meer water in vergelyking met die vorige jaar gepomp.

“Hulle is verskeie kere ingelig dat hulle 20% van hul watergebruik moet bespaar,” sê Ratau.

Dié drastiese waterbeperking kom na damvlakke in die Wes-Kaap tot 22,3% gedaal het. In dieselfde tyd verlede jaar was damme 31,7% vol.

Die Kaapstadse metroraad oorweeg ook nóg strenger waterbeperkings.

Xanthea Limberg, die burgemeesters komiteelid verantwoordelik vir water, sê ’n besluit daaroor sal by die volgende raadsitting geneem word.

 

Limberg sê die verklaring van ’n rampgebied word gebruik om die bou van verskeie kleinskaalse noodwaterverskaffingskemas, waarvoor tenderprosesse nog gefinaliseer moet word, te versnel.

 
Wik en weeg kos miljoene
 

Die wal van die Clanwil­liamdam moet met 13 m verhoog word, maar werk staan nou al sewe maande lank stil. Foto:JACO MARAIS

Werk om die damwal van een van die Wes-Kaap se grootste damme te verhoog, staan nou al sewe maande lank stil omdat die departement nie so ver kan kom om die tender vir die konstruksiewerk te finaliseer nie.

Intussen bestee die platsak departement maandeliks miljoene rande om departementele konstruksiewerkers – wat reeds op die terrein is – te betaal.

Voorbereidingswerk vir die projek, wat die wal van die Clanwilliamdam met 13 m sal verhoog, is maande gelede voltooi.

‘BAIE VAN DIE VLOEDWATER GAAN TANS VERLORE.’

Dit sluit die verlegging van die N7 tussen Kaapstad en Namibië in (omdat die ou pad onder water sal wees ná die verhoging van die wal) en die bou van ’n konstruksiedorp waar toerusting en werkers gehuisves sal word.

Die departement van water en sanitasie het Woensdag in antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA erken hulle het in Februarie alleen R2,5 miljoen aan die departementele konstruksie-eenheid betaal vir salarisse, toerusting en water en elektrisiteit.

Dit terwyl die departement al in September opdrag gegee het dat die projek gestaak word sodat eksterne kontrakteurs kan tender vir die projek.

“Die konstruksie-eenheid het begin om kantore en store op te rig en toerusting ingebring om die projek te begin, maar geen werk word op die perseel gedoen nie,” sê Leon Basson, DA-skaduminister van water en sanitasie wat die dam in Maart besoek het.

Hy sê daar sou sedert Februarie verlede jaar 400 werksgeleenthede geskep kon word as die konstruksie-eenheid met die projek voortgegaan het soos beplan.

Die verlate konstruksieterrein by die Clanwilliamdam, waar werk aan dié damwal al in September gestaak is.

Die departementele konstruksie-eenheid is in Desember 2013 aangestel as kontrakteurs om die damwal te verhoog teen ’n geraamde koste van R2,5 miljard.

Die projek sou aanvanklik in 2014 begin om teen 2018 voltooi te wees en het ten doel om die dam te beveilig, die wal te stabiliseer en om inhoudsvermoë te verbeter. Meer besproeiingswater vir die vrugbare Olifantsriviervallei sou duisende hektaar bykomende landbougrond ontsluit.

Volgens Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, is haar departement nog besig met die evaluering en beoordeling van tenders wat voorgelê is en is dit nog nie seker wanneer bouwerk aan die dam hervat sal word nie.

Basson voorspel dat dit nou eers teen 2022 voltooi sal wees en meer as R3 miljard sal kos.

Prof. Gerrit Basson, hoof van water- en omgewingsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, sê omdat die Clanwilliamdam grotendeels ’n besproeiingsdam is, word landbou-uitbrei- dings benadeel as die dam nie verhoog word nie.

“Baie van die vloedwater gaan tans verlore omdat die damwal nie hoog genoeg is nie.”

Basson meen boonop dis onnodig om ’n eksterne kontrakteur te kry, omdat die departement se konstruksie-eenheid in die Wes-Kaap besonder knap is en die werk self kan doen.

“ ’n Buitekontrakteur sal ook relatief duur wees, omdat hulle waarskynlik die regte toerusting en spesialiste sal moet invoer, terwyl die departementele kontrakteurs dit reeds het.”

Die departement het beloof om teen Vrydag te reageer op navrae, maar het teen druktyd nog geen antwoorde verskaf nie.

No automatic alt text available.

elaine.swanepoel@rapport.co.za

Bergrivier-boere se krane word toegedraai

Die sowat 600 boere teen die oewer van die Bergrivier se watertoevoer uit dié rivier is deur die departement van waterwese en sanitasie summier afgesny.

Verreweg die meeste van die boere wat langs die rivier boer, maak op besproeiing uit die rivier staat om hul gewasse nat te lei.

Boonop gebruik die boere en duisende plaaswerkers die water vir alledaagse doeleindes.

Tog het die departement van waterwese en sanitasie (DWS) in die Wes-Kaap besluit om die sluise van die Bergrivier weens watertekorte te sluit.

Rashid Khan, hoof van dié departement, het verlede Woensdagmiddag by ’n noodvergadering met die Bergrivier Besproeiingsraad dié stap aangekondig.

Khan het gesê die dalende damvlakke bedreig die watersekuriteit van daaglikse waterverbruikers in dorpe en stede. “Wat gaan van Kaapstad se vier miljoen waterverbruikers word indien die water opraak?” het hy gevra.

Volgens Billy Bourbon-Leftley, hoof van die Bergrivier Besproeiingsraad, het die departement nie vooraf die besproeiingsraad oor die besluit geraadpleeg nie, maar bloot net oor die besluit ingelig.

“Hier is boere wat my aanhoudend bel en kla dat hulle hul plase gaan verloor sou die waterbeperkings voortgaan,” het Bourbon-Leftley gesê.

Volgens Bourbon-Leftley is dit veral vee-, groente- en sitrusboere wat langs die Bergrivier die swaarste geraak gaan word. Hy sê sommige boere het boorgatwater, maar die meeste maak hoofsaaklik staat op water uit die rivier. “Boonop kry meeste van die plaaswerkers hul daaglikse gebruikswater uit die Bergrivier en waar gaan hulle nou water vandaan kry?” Die boere suiwer die water op eie onkoste.

Bourbon-Leftley beraam dat minstens 10 000 plaaswerkers deur die sluiting van die sluise geraak gaan word.

Volgens Deon Steyn, ’n sitrusboer langs die oewer van die Bergrivier, sal sy sitrusoes binne vier weke tot niet gaan indien die jong boompies nie water kry nie. Steyn sê hulle het nie boorgatwater op die plaas nie en hy het reeds noodgedwonge sy skape verkoop.

“Oor twee weke is die water in my reservoirs op en ek weet nie wat ek dan gaan maak nie,” het Steyn gesê.

Die boere langs die Bergrivier gaan reeds sedert Februarie vanjaar onder erge waterbeperkings gebuk wat deur die loop van die afgelope maande al strenger geword het.

Volgens Bourbon-Leftley doen boere ’n beroep op die Drakenstein munisipaliteit om die Bergrivier tot ’n hidrolise rampgebied te verklaar.

Carl Opperman, Agri Wes-Kaap se uitvoerende hoof, sê ander besproeiingsrade het al die verpligte installering van watermeters geïmplimenteer.

“Dit is ’n bestuursmeganisme vir beide die raad en die produsent,” het Opperman gesê.

Die DWS wou nie op verdere navrae reageer nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *