Die OU LADY en die polisiekaptein – Calvinia se mooiste ware storie

Een van Calvinia se bekendste handelsmerke is twee statige dames wie se paaie onvermydelik móés kruis om saam ‘n kosbare nalatenskap te skep. Die een met die broekielace was trots, maar oud, afgeleef en verwaarloos. Die ander in uniform – ‘n geliefde polisiekaptein met ‘n groot visie – op ‘n missie!

Vandag sal menige Calvinianer aan reisigers sê:

Jy ken nie Calvinia as jy nog nie sy twee Ou Ladies ontmoet het nie – Lucia en Loraine!

Dan stap of ry jy maar nuuskierig na dié imposante ou Victoriaanse huis met sy lang sonstoep in Waterstraat oorkant die ewe indrukwekkende ou Moederkerk – albei met ‘n prag-uitsig oor die Hantamberge – om Calvinia se twee Ou Ladies te ontmoet. Bo die voordeur pryk die naam Die Ou Lady Gastehuis en by die voorhekkie is ‘n naambord met die naam Loraine. Oukei – Loraine is seker die een ou lady, maar wie en wat is Lucia dan?

Jy stap in, verby geraamde foto’s en skilderye van die einste ou huis toe dit nog ‘n grasdak gehad het en vra huiwerig om met Lucia te praat. Die vrou aan die onderpunt van die gang glimlag breed – sy is Lucia, die eienares van Die Ou Lady Gastehuis wat oorspronklik Loraine geheet het. Dan borrel dit spontaan uit: “Ek is ‘n oud-polisiekaptein wat ná my aftrede in 2016 dié ou huis wat uit die 1800’s dateer, gekoop en van die grond af gerestoureer het. Dit was harde en senutergende werk wat my amper my stem gekos het – jy hoor mos hoe ek praat – maar kom ek wys jou Die Ou Lady in al haar glorie!”

Dan kliek dit: Dit het ‘n geliefde polisie-vrouekaptein met ‘n skerp, kunssinnige arendsoog vir detail en ‘n ryk verbeelding uit dié einste Hantam-wêreld gekos om ‘n afgeleefde ou huis in ‘n statige ou dame te omskep – een met ‘n groot hart en genoeg kos- en blyplek vir ‘n army . Nes die eienaar.

‘n Ontbyt of koffie-kuiertjie op die bekende lang sonstoep word vinnig ‘n reis deur die ryk geskiedenis van dié Noord-Kaapse dorp aan die voet van die Hantamberge met sy plattelandse gasvryheid. Dis ‘n plek waar ou bekendes uit alle uithoeke van die land mekaar toevallig raakloop onderweg na verskillende reisbestemmings. Raak aan die gesels met eienares Lucia Coetzee wat jou die geraamde muurfoto’s en geskiedkundige aandenkings in die eetkamer wys, en jy is gevang – hoek, lyn en sinker. Hier moet jy oorslaap om meer te sien en hoor, of jy moet terugkom om meer te leer!

Op dié lang sonstoep word al geslagte lank lekker geëet en gekuier en as dit van Calvinia se twee ou ladies Lucia en Loraine afhang, sal dié tradisie nog geslagte lank voortleef.

Die Ou Lady Gastehuis wat Lucia aanvanklik met een gaste-eenheid en ‘n koffiewinkel begin het, is vandag ‘n volwaardige en geliefde familie-besigheid op Calvinia waarmee dié veelsydige ou lady haar kuikens styf onder haar moedervlerk kan hou – nes haar groot droom was. Haar skoonheidsterapeut-dogter Luzanne bedryf ‘n suksesvolle skoonheidsalon saam met haar assistent Tanya op die perseel, terwyl seunlief Danie as direkteur moet bontspring om die finansiële en bedryfsaspekte te help hanteer.

Ouma Lucia se hart se punt. By Die Ou Lady kan sy ook ‘n ogie oor haar kleinseuns AJ (9) en Johann (8) hou.

Met * nege uitsonderlike selfsorg-gaste-eenhede, * ‘n gelisensieerde restaurant/koffiewinkel, * ‘n groot speelpark vir kinders waar ook gereeld ‘n markdag aangebied word, * ‘n mini-gimnasium met apparate en * ‘n karavaan-staanplek vir een of twee groepe kampeerders, het dié oorspronklike Ou Lady Loraine-woonhuis die afgelope eeu ‘n totale gedaanteverwisseling ondergaan sedert Lucia haar pad gekruis het.

Die omheinde speelpark is ‘n veilige paradys vir woelige kleingoed en verjaardagpartytjies word dikwels hier gehou

Die restaurant is knus en gesellig en skep ‘n huislike atmosfeer met ‘n snoesige kaggel vir die koue wintermaande. Die spyskaart bied ‘n wye verskeidenheid van liplekker-geregte en peuselhappies – van ligte etes soos gevulde pannekoek, burgers, hoender wraps en biltongslaai tot skaapnek en vis. Die Ou Lady se ontbytkosse en romerige melkskommels is lankal ‘n treffer op die dorp en die pryse is billik. Die wynlys bied ook ‘n keurige versameling van die land se beste wyne en drank.

Die Ou Lady se gastehuis-eenhede is ook nie sommer net gewone blyplek nie. Elk van die nege gerieflike wooneenhede is ‘n kunswerk op sy eie met ‘n spesifieke naam, tema, kleurskema en detail wat daarby pas.

Die fyn detail in elke wooneenheid is met die hand uitgesoek of self gemaak. Elke eenheid se naam, tema en dekor het ook ‘n persoonlike betekenis . . .

Lisa se Klavier is ‘n kleur- en klanksimfonie in wit en swart en die musiektema is oral in fyn detail te sien.

Lisa se klavier is genoem na ‘n goeie vriendin van Lucia wat juis ‘n naam vir dié eenheid moes help uitdink.

Die nege, ten volle gemeubileerde wooneenhede het hul eie private ingange en is geskei van die hoofhuis. Almal is toegerus met ‘n ensuite-hoofslaapkamer met ‘n stort/badkamergeriewe, gerieflike kombuisie met alle toebehore, buite- of binnebraai-geriewe, DSTV, wifi en lugreëling. Die gesellige eenhede bied slaapplek vir een tot ses mense en gaste het ‘n keuse tussen selfversorgend of bed & ontbyt. Alle beddegoed en handdoeke word voorsien en in die koue wintermaande is daar selfs elektiese komberse.

Die meeste eenhede is genoem na Lucia se familielede – Ouma Katy, Ma Sarah en ander. Die gewilde Mancave met sy eie kroeg en groot private tuin-area kan drie mense huisves. Die dekor pas ook perfek by die tema en humor is nie uitgesluit nie.

Die groot erf met sy windpomp, hoenderhok en speelpark vir die kleingoed skep ‘n heerlike plaasgevoel, terwyl daar ook ‘n mini-gimnasium is waar gaste die restaurant se oordaad-genot kan wegsweet. Veilige onderdak-parkering is ingesluit, terwyl ‘n gesellige piekniek- en buitebraai-area vir gaste of kampeerders die ideale kuierplek vir groot groepe is.

‘n Ekstra bonus is dat Die Ou Lady ook dierevriendelik is en troeteldiere welkom is.

Dat hier lekker gekuier en geëet word by Die Ou Lady deur almal wat hier aandoen, is opvallend.

Die personeel is flink, vrolik en fyn getryn en geniet ooglopend hul werk in dié mooi omgewing onder die wakende oë van twéé formidabele ladies. Vra jy hulle of hulle lekker werk by Die Ou Lady, borrel dié spontaan uit:

Die bestuurderes, Joan Jordaan, is die afgelope vier jaar Lucia se regterhand wat die wiele aan die rol en die klante gelukkig – en hul mae vol – help hou. Soggens vroeg word daar eers rustig oor ‘n koppie koffie op die stoep beraadslaag en gebreinstorm oor die dag se beplanning voor die eerste ontbytsoekers opdaag.

Lucia en haar vasvat-bestuurderes, Joan, se oggendkoffie-ritueel op die stoep is eintlik sommer ook die beste reklame vir verbygangers wat soggens ‘n lekker eet- of drinkdingetjie soek
Die Ou Lady se gesoute sjefs Queenie en Anna – hul lekker kos is alom bekend in Calvinia

Die Ou Lady se gedugte wenspan kleurvol in rooi getooi vir die 2023-Kersseisoen. Van links is Jocelyn, Mary-Ann, Mandy, Kitty, Joan, Anna en Queenie.

Wanneer Lucia begin vertel wat alles in die afgelope ses jaar gedoen moes word om Die Ou Lady te kry soos dit vandag lyk en bedryf word, besef jy watter ystervrou dié sagte ou lady eintlik is.

“Ek het niks geweet van die bou-, konstruksie- of restourasiebedryf nie – ek het net hierdie droom in my kop gehad van hoe dit moet lyk”, erken sy. Luzanne en Danie het destyds hul eie bly- en werkplek gehad en sy was basies vrou-alleen met hierdie GROOT droom sonder ‘n idee wat dit alles behels en van haar gaan verg.

Gelukkig was daar ‘n handige “all-rounder” met ‘n besondere liefde vir oudhede, hout- en restourasiewerk op die horison wat mettertyd haar regterhand sou word. John Vermeulen was so geskok toe hy hoor al die ou Oregon-houtvloere in die huis moet uitgehaal en met teëls vervang word, dat hy onomwonde verklaar het om meubels en ornamente daarvan te maak – maar weggooi? Aikôna!

Vandag pryk John se kunstige handewerk in elke vertrek, hoekie en gaatjie van Die Ou Lady. Of dit nou ‘n spieëlraam, ornament, bed, tafels en stoele is of ‘n bedstyl met inlegsels van koper of gegote yster, John se hande staan vir niks verkeerd nie en hy laat geen kosbare stukkie hout of oudheid verlore gaan nie.

Een van Lucia se grootste aanhangers is ‘n ander celebrity op die dorp – Jan Isaacs, ofte wel Boeta Gammie, Calvinia se singende spietkop. Hulle kom al ‘n lang pad saam sedert sy destyds dié innemende verkeersinspekteur as jong polisie-reservis onder haar vlerk geneem het.

Boeta Gammie begelei steeds gereeld die dorp se jong rieldansertjies met sang en kitaar by hul gewilde optredes. Van Lucia se gereelde gaste reël soms spesiaal so ‘n optrede wanneer hulle in Calvinia oornag. Hier trap ‘n klompie rieldansertjies op uitnodiging sommer stof in die straat langs Die Ou Lady. * Meer oor Boeta Gammie onderaan.

Calvinia het ‘n ryk en interessante geskiedenis. In elke gaste-eenheid is ook ‘n indrukwekkende joernaal waarin Lucia die geskiedenis van Die Ou Lady en ander interessanthede oor die dorp en omgewing saamgevat het. Hier is haar storie in haar eie woorde:

Wie is nou eintlik “Die Ou Lady” – die huis of Lucia?

“My naam is Lucia Coetzee, eienares van Die Ou Lady-gastehuis. Op Calvinia gebore in 1962. Grootgeword op die plaas Tontelbos, waar my ouers, Jan en Sarah van der Westhuysen, met skaap en koring geboer het.

In 1980 matrikuleer ek aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury, waarna ek in 1981 Polisie-kollege toe is. Ek het destyds as polisievrou in die Paarl, Middelpos en Kaapstad gewerk voor ek in 1996 ‘n oorplasing na Calvinia gekry het. Hier het ek gewerk tot ek in 2016 ná 35 jaar die polisie verlaat het met die rang van kaptein.

In Februarie 2016 koop ek die ou Victoriaanse huis wat uit die 18de eeu dateer en vroeër die naam Loraine gehad het by tannie Baby Steenkamp. Dit was oom Cal en tannie Baby Steenkamp se huis, wat toe bekend gestaan het as die “Steenkamps-gastehuis”.

So begin leef ek my droom. ‘n Mens is nooit te oud om oor te begin nie, het ek gou besef. Ek het die hele huis gerestoureer. Nuwe idees, bietjie meer modern, maar tog die oorspronklike behou. Een van die gedagtes was, daar moet ‘n koffiedrinkplek op die stoep wees. Ek gaan kuier toe vir Antoinette van Schalkwyk wat vroeër die gewilde Granaat-koffiewinkel bedryf het, om ‘n bietjie meer oor die saak uit te vind en probeer aan haar verduidelik waar die huis is wat ek wil koop in Waterstraat – regoor die ou Moederkerk. Sy het nou geen idee van watter huis ek praat nie en ewe skielik sê sy: “Ooo, nou weet ek, is dit daardie Ou Lady van ‘n huis?” Net daar weet ek toe – dit is die regte naam vir die gastehuis! Die Ou Lady – dit pas perfek by die huis se statige styl.

Sommer net iets interessants

Ek is die kleindogter van wyle dr. Kate van der Merwe. Sy was een van die eerste vrouedokters in Suid-Afrika (en waarskynlik wêreldwyd). Dr Kate begin in 1915 met haar studierigting aan die Cape Town College, maar skakel in 1916 oor na die mediese kursus. In 1921 promoveer sy in Aberdeen, Skotland. Ná ‘n jaar in Glasgow en Dublin begin sy in 1922 met ‘n praktyk op Brandvlei, wat toe nog nooit ‘n geneesheer gehad het nie – slegs vroedvroue. Sy moes egter eers wag totdat sy self getroud was voordat die gemeenskap haar as verloskundige inroep weens die destydse ingesteldheid teenoor jong vroue. In daardie dae was daar net een telefoon op die dorp – in die pastorie. Die predikant moes dan die dokter ontbied.

Sy trou op Brandvlei met ‘n prokureur, Izak Petrus (Uncle Van) van der Westhuysen, wat op ‘n baie jong ouderdom oorlede is. Uit die huwelik is drie seuns en ‘n dogtertjie (Lucia) gebore, wat op die ouderdom van vier jaar aan witseerkeel oorlede is. Haar graf (‘n engeltjie) is in die Brandvlei-begraafplaas. (Ek is na haar genoem.)

Een van Dr Kate se seuns, Nel, sterf in 1945 in Italië in die Tweede Wêreldoorlog (WO2). Die ander twee seuns is dr. Sakkie van der Westhuysen en my Pa, Jan (dokter) soos die mense hom genoem het. Hy het in die Brandvlei-distrik geboer op die plase Tontelbos en Lekkerlê en is op 12 Augustus 2019 oorlede op 87-jarige ouderdom. My Ma, Sarah, is op 6 Februarie 2022 in die rype ouderdom van 83 oorlede. Sy was ‘n nooi Louw van Calvinia wat dié wêreld soos die palm van haar hand geken het en wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Sy het drie dae voor haar dood nog saam met my koffie gedrink op Die Ou Lady se stoep. (Hier onder is die laaste foto’s wat van Pa Jan en Ma Sarah geneem is. )

In 1937 begin Dr Kate haar praktyk op Calvinia en nadat sy die praktyk neergelê het, het sy gaan boer op die plaas Lekkerlê op Brandvlei. Sy is op 14 Desember 1969 in die ouderdom van 73 jaar oorlede en is op Calvinia begrawe. Haar oorspronklike doktersgraad hang in Ou Lady se eetsaal. Vir my was sy net Ouma Katy.

Lucia Coetzee (Van der Westhuysen) – Eienares van Die Ou Lady sedert 2016.”

Só het Die Ou Lady destyds gelyk nadat dit tydens die Anglo Boere-oorlog afgebrand het. Die Van Dijk-familie was die eerste inwoners van dié huis. Die eienaar, Jack van Dijk, was een van die winkeliers wat gevange geneem is toe die Vrystaatse kommando’s vroeg in 1901 die dorp binnegeval het. Die huis is ook in daardie tyd afgebrand. In die besit van die Van Dijk-gesin was ‘n geraamde afdruk van ‘n lasbrief tot apprehensie wat mev. Florrie Malan (gebore Van Dijk) aan Calvinia Museum geskenk het. Daarop verskyn die name van verskeie winkeleienaars, asook die naam van Abraham Esau na wie die Calvinia Hospitaal genoem is. (‘n Foto hiervan hang by die ontvangslokaal van Die Ou Lady.)

Calvinia se rustige, plattelandse atmosfeer en sentrale ligging op die hoofroetes na Namibië, Namakwaland en die Karoo maak dit ‘n gewilde kuier- en oornagplek vir reisigers, toeriste en blomkykers. Tussen Julie en November word dié omgewing omskep in ‘n kleurvolle blommeskouspel ná ‘n goeie winterreënseisoen.

Dié pragtige ou kerkgebou in die Neogotiese boustyl op die ou dorpsplein oorkant Die Ou Lady was die NGK- gemeente in Calvinia se tweede kerkgebou. Dit is in 1899 voltooi en in 1982 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die argitek was J.H. Gaisford (soms Gaysford gespel), van wie vandag niks bekend is nie, buiten dat hy dié kerk ontwerp het asook die NG kerke op Nieuwoudtville en Robertson. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-calvinia/

Dié indrukwekkende groot rooi posbus in Hoopstraat, Calvinia, is amptelik in 1994 geopen en is Calvinia se mees gefotografeerde besienswaardigheid.

Vir Calvinia se kleurvolle celebrity spietkop, Boeta Gammie, is medemenslikheid en opvoeding net so belangrik as wetstoepassing. Luister na sy goeie raad aan wetstoepassers:

Lucia en Jan Isaacs, alias Boeta Gammie, Calvina se singende spietkop, kom al ‘n lang pad saam sedert sy dié innemende verkeersinspekteur as jong polisie-reservis onder haar hande geneem het.

Jong rieldansertjies van Calvinia wat sommer op versoek van toeriste en gaste nie huiwer om hul talent saam met Boeta Gammie in die straat te demonstreer nie.

Calvinia se sentrale ligging tussen hoofroetes na Namibië, die Karoo en die Noordweste, maak dit ‘n baie gewilde oornagplek vir reisigers en toeriste van heinde en ver. Oor die interessante mense wat dikwels by Die Ou Lady oornag, kan ook ‘n boek geskryf word. Dié twee jong Duitse fietsryers het in piepklein tentjies in Die Ou Lady se kampeerterrein oornag. Matthias Nolden (34) en Milan Luelsdorf (28) van Bonn, Duitsland het al meer as 34 000 km afgelê vandat hulle in Junie 2022 uit Bonn weggespring het en hoop om einde April 2024 hul 2-jaar lange fietsreis van Duitsland deur Afrika in Kaap Agulhas te voltooi . . . en dan natuurlik ook Kaap toe om Tafelberg te sien. Dis albei se eerste besoek aan Afrika/SA en hulle is veral gek oor Sentraal-Afrika se ongerepte skoonheid . . .

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *