Ciela’s se kos en kuiergees weerspieël die hartklop van Calvinia

Ciela’s – waar Calvinia se gaste blom en die manne sweis met stories om die kostafels  

As ‘n borrelende Namakwalandse drankrep en ‘n geliefde Hantam-bobaasbraaier se paaie kruis, kan ‘n mens net vuurwerke en voltydse vleisbraaivure verwag . . .  letterlik en figuurlik. Dis presies hoe Calvinia se gewildste eet- en kuierplek vir die plaaslike garde – Ciela’s – gebore is.

Sy was ‘n gebore Namakwalander met die bynaam Blom wat as drank-rep vir Douglas Green die hele Namakwaland en Weskus-paaie vol gerits het. Hy was Calvinia se geliefde hanslam met die bynaam Cois (afgelei van Francois en uitgespreek as Sweis) wat van jongsaf in almal se harte gekruip het en boonop ‘n barshou kan braai. Toe braai, skink en kuier hulle mekaar in 2012 raak op die Hantam Vleisfees . . . en wou daarna nooit weer ophou om saam te braai, skink en kuier nie – ‘n wenkombinasie soos vuur, vleis en vonkelwyn!

Waar alles begin het – Cois en Blom by die Calvinia/Hantam-vleisfees in 2012

Vandag is Cois en Blom Nel se gewilde eet- en kuierplek Ciela’s Restaurant reeds ‘n volle drie jaar oud en ‘n sprankelende voorbeeld van hoe ‘n gesin kan saamwerk om hul passies en drome ondanks terugslae uit te leef en ‘n reuse-sukses daarvan te maak.

Jonk en oud kuier ewe lekker by Ciela’s Restaurant. Die groot, netjiese buitelug-area is ook ideaal vir kinders en funksies soos verjaardagpartytjes, afskeidsfunksies, ooievaarspartytjies, Kerspartytjies, ens.

Ciela’s is ‘n ware familie-restaurant waar Cois, Blom en Cielatjie soos ‘n geoliede masjien saamwerk wanneer dit saans besig raak. Cois huiwer ook nie om ná ‘n voldag se werk soms ook saans kelner te help speel benewens sy werk as voltydse kroegman nie!  Ook Cielatjie is al ewe tuis voor en agter die toonbank en meng self haar eie yskoeldrank.

HOE HET ALLES BEGIN?

Cecilia (Blom) vertel sy moes destyds as verteenwoordiger vir die drankmaatskappy Douglas Green ‘n Jägermeister-stalletjie by die 2012-Vleisfees bestuur. Cois moes die Lions Klub se kroeg behartig en as spitbraaier sy staal wys. Die res is geskiedenis. 

In 2014 hak hulle die knoop deur in Oom Basie se Stoor, vir wie Cois jare lank al gewerk het en vir hom soos ‘n tweede pa was. Eie aan hul “lekker-mens”-geaardheid het die jong troupaartjie die skuur ingery gekom agterop die Chev-bakkie van Flippie Nel. Dié gesellige “skuurtroue” met sy plattelandse lekker-kuier-gees was die bloudruk van dié paartjie se lewenspad vorentoe – lékker mense by wie almal lékker kuier!

Terwyl Blom op weeksdae – van Maandae tot Donderdae – die lang paaie van Malmesbury, Darling, Velddrif tot in Port Nolloth, Namakwaland platreis om drankwinkels se rakke en mense se glase vol te hou, het Cois saans die fort by die huis gehou en as bestuurder by Van Rhynshoek Ondernemings gewerk. 

Wanneer Blom Donderdagaande pootuit by die huis opdaag nadat sy oral op haar lang roetes in hotelle moes oornag, het Cois haar by die vleisbraaivure in hul braaikamer ingewag en kon hulle weer saam braai, skink en kuier. Gou het dié twee besef hulle sou planne moes maak om Blom “van die pad af te kry” om meer by die huis te kan wees. Blom het ‘n tydjie by Coca Cola gaan werk en ook by Ramskop-slagpale en in Oktober 2015 is hul blondekoppie Cecilia (Ciela) gebore.

Voltydse tuisbly-ma-wees was egter in die beginjare nie moontlik nie. Boonop het Douglas Green gou besef dit kos ‘n ware Namakwalander wat dié streek se taal, kultuur en mense kén om hulle ondersteuning te kry. Blom moes terugkom – sy was immers Douglas Green se ambassaseur in die Hantam! Gelukkig het sy ‘n staatmaker Mollie by die huis gehad wat Cois in die week as “enkelouer” kon ondersteun. Dit was ver paaie en Blom se “straatvrou-lewe” het ‘n hoë tol geëis omdat sy haar man en kind basies net naweke kon sien – en dan moes hulle inhaal wat hulle deur die week misgeloop het.

Die hegte band tussen Ciela en Mollie – haar tweede Ma – is vandag nog net so sterk. Mollie is ‘n bedrewe bestuurder en moet dikwels chauffeur speel om Ciela by die skool en terug te kry wanneer Ma Blom behandeling ondergaan.

“Ek en Cois is albei kuiermense – ons hou van lekker kosmaak, lekker eet en lekker kuier saam met mense. Ons het van die begin af gewéét dit is waarheen ons paaie sal lei, want dis ‘n ingebore ingesteldheid. Nou moes ons net ‘n manier vind om my inkomste by Douglas Green te vervang met iets in die kos-en-kuier-bedryf wat ek van die huis af kon doen!”

In 2017 het hulle ‘n pizza-oond in hul gesellige braaikamer ingebou waar Cois se kroegie lankal ‘n prominente plek beklee het. Blom het op Google en Youtube gaan rondkrap hoe om pizzas en sushi te maak en dit was nie lank nie, of hulle kombuis en braaikamer het naweke soos ‘n feestelike braai-restaurant begin lyk.

Die Rooi Oond

“Ek het naweke wegneem-pizzas begin maak en dit op ‘n Whatsapp-groepie geadverteer: Die Rooi Oond brand vanaand – ek neem bestellings vanaf . . . ” 

Vriende en vreemdelinge het op hulle begin toesak en as Cois boonop die musiek aansit en die kroegtoonbank wink vir dié wat wag vir hul pizza-bestellings, kon ‘n muis hom nie roer in die kombuis en braaikamer nie. Boonop het gaste so lekker gesmul en gekuier, dat hulle eerder die pizzas dáár wou eet as om dit as wegneem-etes huis toe te neem. Vriende het sommer hul eie koelbokse met drank saamgebring om nie op Cois se onkoste te kuier wyl hulle vir hul pizza-etes wag nie.

“Ek het in my 3-weke-verloftyd 112 pizzas verkoop en besef dit kan ‘n lekker ekstra inkomste oor naweke word. Die naweek-pizzaverkope-en-kuiery by die huis het só lekker gewerk dat ons planne begin beraam het om ‘n restaurant langs die huis te bou. Begin 2020 was die fondasie gegrawe en op 25 Maart 2020 was wavragte vol stene reeds afgelewer toe die Covid-19 inperkings wêreldwyd afgekondig word. Die hele erf het vol vragte sierstene gelê, maar ons kon niks doen nie en alle drankverkope, ens. is ook verbied. Drankmaatskappye moes in dié tyd ook noodgedwonge werknemers afdank.”

Noodlot tref hard

Drie weke ná die inperkings ingestel is, het klein Ciela (toe vier) haar handjie so erg beseer in ‘n fratsongeluk toe ‘n deel van ‘n ploegskottel waarop sy in die tuin gespeel het daarop geval het, dat hulle inderhaas spesiale reëlings moes tref om haar ondanks Covid-padblokkades by die Durbanville Medi-Kliniek te kry. Cois is in dié tyd nie eens saam met hulle toegelaat in die hospitaal nie. Al vyf beentjies op Ciela se handbrug was morsaf en het nege operasies onder narkose geverg. Blom en Ciela moes ses weke in die hospitaal deurbring. 

Dit was in dié wagtyd dat Blom sommer besluit het om haar jaarlikse skanderings en mammogram-ondersoek te laat doen . . . en haar wêreld momenteel ineengestort het. Sy is gediagnoseer met ‘n aggressiewe vorm van Graad3-hormoongedrewe borskanker in albei borste wat toe reeds na omliggende limfkliere en -nodes versprei het. 

Dit was ‘n onwerklike “buite-jouself”-ervaring en wipwa-reis van biopsies, onkologie-afsprake en prosedure-besprekings wyl Ciela ook steeds onder behandeling was, vertel Blom. Selfs die dokters en hospitaalpersoneel was aangegryp deur dié Ma en dogter se onverwagse traumatiese situasie. Tog het sy en Ciela ook goeie tye in die hospitaal gehad en hulle kon mekaar ondersteun, sê sy.

Nadat Ciela ontslaan is en kon terugkeer huis toe, is Blom in die Panorama Kankerbehandelingseenheid (Cancer Care) opgeneem vir intensiewe behandeling – agt rondtes chemoterapie, ‘n dubbele mastektomie, gevolg deur bestraling. Wéér was Cois dikwels enkelouer vir Ciela met Mollie as regterhand terwyl Blom in Covid-tyd dié uitmergelende prosedures moes deurstaan. 

“Gelukkig het Ciela se eie hospitaal-ervaring haar voorberei vir my afwesigheid en kon sy verstaan dat mamma nou ook eers gesond gemaak moes word. Dit het dit makliker gemaak”, vertel Blom oor dié moeilike tyd waarin nie net haar hare en wenkbroue uitgeval het nie, maar sy dikwels te moeg was om haar kop op te lig.

Dié jaar van hel het egter geen demper geplaas op die veggees, lewenslus en ideale van dié 39-jarige blondekop-ma nie. In April 2021 – skaars ‘n jaar ná die noodlot se ingryping – het die restaurant Ciela’s sy deure amptelik geopen – kompleet met besigheidsreg en dranklisensie – hoewel net nie-alkoholiese drank toe nog verkoop mag geword het.

Cois en Blom het die totstandkoming en verwesenliking van dié droom ondanks erge rampspoed stuk vir stuk op video vasgevang en kan vandag self skaars glo wat hulle alles sedert 2020 vermag het.

Die naam Ciela is ‘n troetelnaam vir klein Cecilia, wat op haar beurt weer na haar ma en ouma Cecilia genoem is. Ciela’s Restaurant is dus sommer ‘n ode aan drie geslagte Cecilia’s met klein Ciela as die hooflid! 

Die geliefde egpaar was toe al so bekend en gewild danksy Cois se jarelange roem as spit- en vleisbraai-foendie en Blom se pizza-en-kuier-aande dat Ciela’s oornag ‘n treffer op die dorp was – veral onder die plaaslike jongklomp vir wie daar nie regtig ‘n gesellige aandkuierplek was nie.

Cois het sy Ma op ‘n jong ouderdom verloor en die dorp het hom as’t ware van kleinsaf as hul eie “grootmaakkind” aangeneem. Nadat ook sy Pa en broer later op ‘n relatief jong ouderdom oorlede is, het dié tradisie net sterker geword. Danksy sy spontane, allemansvriend-geaardheid is hy vandag steeds een van Calvinia se mees geliefde “seuns” onder die ouer geslag en ‘n voorslag as dit by spitbraai-funksies kom. Dat hy toe boonop vir hom ‘n “lekker Namakwalandse pragvrou” as lewensmaat van die “pad af gaan haal het” om saam met hom Calvinia nóg lekkerder te maak, is ‘n bonus. Vandag is Blom net so geliefd soos Cois en klein Ciela is almal se pêl in die restaurant.

Blom laat haar deur niks onderkry nie en het ondanks haar teleurstellende nuus nog die nuwejaar saam met Anton ingedans op maat van die Klipwerf Orkes se musiek.

Hoewel hulle aanvanklik meesal op pizzas gefokus het, is braai-sjef Anton in Maart verlede jaar aangestel om ook vleisgeregte en biefstuk-etes in te sluit.

Vandag spog Ciela’s met ‘n uitgebreide spyskaart waar enigiets van ligte maaltye, hamburgers en tjips tot hoender-wraps, steak en slaaie aangebied word. Daar is iets vir almal se smaak en die kunstige smulhappies (platters) vir spesiale funksies is ‘n fees vir die oog en maag.

Die omvattende pizza-spyskaart bly egter ‘n treffer en jy sal ver moet soek om ‘n pizza-bakker te kry wat so vinnig en behendig soos Millah tientalle pizzas ná mekaar uitryg. Millah is nie verniet met die hand deur Blom self opgelei nie.

Die voorslag-personeel is deel van die familie en werk en speel ewe hard saam wanneer die tyd hom voordoen. ‘n Uitstaande kenmerk van Ciela’s Restaurant is dat Cois, Blom, Cielatjie en die personeel net so lekker kuier saam met die gaste wanneer hulle ‘n blaaskansie agter die kospotte en kroeg kry.

Blom met haar wenspan in hul spoggerige pienk T-hemde ter ondersteuning van die wêreldwye Borskanker-bewusmakingsprojek. Van links is Mollie, Millah, Blom, Anton en Zanel.

‘n Hoogtepunt op Ciela’s se sosiale kalender is die jaarlikse Oujaarsaand-dans waar Calvinia se wêreldberoemde Klipwerf-orkes jaarliks optree. Dan word al die tafels en stoele uitgedra vir dié groot opskop om die nuwe jaar in te dans.

“Hier kuier ons soos ou familie saam met Cois en Blom – altyd ‘n fees!”

Ciela’s Restaurant gaan steeds van krag tot krag en die Nels het nog groot planne vir verdere uitbreidings waaroor hulle in dié stadium nog niks wil uitwei nie. Hul geesdrif, liefde vir mense en lekker kos en kuier is aansteeklik.

Nie eens die skoknuus in Julie 2023 dat daar ‘n lokale herhaling van ‘n beginfase van die kanker in die linkerbors is, kon Blom afskrik nie. Sy het ondanks haar besige skedule nog ses voorkomende chemo-behandelings en ‘n tweede mastektomie ondergaan. Vel van haar rug is chirurgies verwyder en op die borsweefsel oorgeplant en sy ontvang steeds hormoonbehandeling, maar onderkry is min.

Blom lui die klok – sy het op 19 Januarie 2024 haar laaste chemo-sessie ontvang

Wanneer die restaurant besig raak, vergeet sy haar pyne en spring in om te help en die gaste ‘n drukkie te gee. 

“Ek is dankbaar vir die vroeë diagnose sodat ons dié keer betyds en voorkomend kan optree. Ek is vol moed en het nog baie planne en idees. Bowenal is ek baie dankbaar en bevoorreg dat Ciela’s so goed vaar nadat dit begin het as ‘n pizza-besigheidjie om my inkomste aan te vul.

“Dit is absoluut net deur die Here se genade en guns dat ons vandag hier kan staan. ‘n Mens moet nooit ophou droom nie. Alles gebeur op Sy tyd. Dankie Calvinia dat julle deel in ons droom.”  

Calvinia is nie verniet bekend as die “halfwegstasie” vir reisigers en toeriste onderweg na Namibië, die Kgalagadi-wildreservaat en die groter Karoo-streek nie. Interessante mense van heinde en ver doen hier aan om Calvinia se gasvryheid en unieke plattelandse karakter te geniet.

Ook stappers van die bekende Silent Steps-organisasie wat avontuur-staptogte in SA en Afrika aanbied, ken al Calvinia se lekkertes en Ciela’s se lekker kos wanneer hulle hier tuisgaan onderweg na ander bestemmings. Selfs skaapkop op bestelling om krag vir ‘n vyfdaagse sirkelgangroete-staptog deur die Hantam te verskaf, is geen probleem vir Ciela’s se gesoute span sjefs met Cois aan die stuur nie! Hier geniet ‘n groep Silent Steps-stappers ‘n behoorlike maaltyd by Ciela’s Restaurant voor hulle die volgende oggend in die pad val om die Hantam per voet te verken. https://silentsteps.co.za/hantam-hike-7-12-may-2024/

Skaapkop val nou wel nie in almal se smaak nie, maar vir dié wat dit ken bly dit ‘n gesogte lekkerny!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *