“Stephan moet net hou by sy storie. Die man met die meeste geld gaan die saak wen.”
Dis onder meer dié vreemde woorde en gedrag van Dr Lawton Vosloo van Jeffreysbaai twee dae ná sy seun en dié se verloofde se dood in die opspraakwekkende Kareedouw-moordsaak wat die Hoon-gesin genoop het om reeds ná die gesamentlike begrafnisdiens die hulp van bobaas-speurder Mike Bolhuis in te roep. Toe dit blyk Bolhuis se dienste gaan te duur wees, het hulle ‘n ander private speurder, Leon Rossouw, aangestel om hul vrese te besweer en antwoorde op tergende vrae te probeer kry.
Dié onthullings deur die getraumatiseerde Hoon-gesin kom ‘n week ná vonnisoplegging in dié omstrede saak waarin die geliefde Kareedouw-boer, Kevin Pretorius (53), tot tien jaar tronkstraf sonder borgtog gevonnis is vir die beweerde “gasdood” van Jéan Vosloo (25) en Mari Hoon (28) in die stort van die gewilde Kouga Kliphuis op Pretorius se familieplaas Zuuranys.



Pretorius se buurseun, Stephan du Plessis (nou 30) het die paartjie die Sondagoggend in die stort gekry nadat hy hulle met Pretorius se toestemming genooi het om gratis daar te kom braai en ontspan al was die Kliphuis amptelik gesluit vir gaste tydens die Covid-19 inperkings. Pretorius is sedert verlede Vrydag in die hoësekuriteitsgevangenis St Albans terwyl hy wag op ‘n hofdatum vir sy nuwe regspan se appèlaansoeke teen die skuldigbevinding en vonnis.
Sakkie (66) en Maria (61) Hoon en hul twee dogters, Michelle (40) en Suné (36) dra al vyf jaar lank ‘n dubbele las weens tergende vrae en onsekerhede wat hulle opvreet rondom die vreemde dood van hul geliefde jongste dogter en sussie.

Hulle spook al sedert die vinnige verassing en gesamentlike begrafnisdiens op 2 Mei 2020 wat Dr Vosloo en sy vrou, Christel, vir die paartjie in Jeffreysbaai gereël het om iemand in ‘n gesagsposisie te kry om aandag aan hul vrae en besware te gee. Dit kom nadat die Vosloo-egpaar glo al op dieselfde dag wat die paartjie se liggame op Sondagoggend 26 April 2020 in die stort gekry is, al hul klere en besittings verwyder het. Van die klere is ook deur die Vosloos gewas en rooibruin vlekke op Mari se trui wat hulle glo nie kon uitkry nie, is as rooiwynvlekke afgemaak. Dr Vosloo het die paartjie ook glo self op die toneel dood verklaar en sedertdien ‘n leidende rol gespeel in alle aspekte van die polisie- en nadoodse ondersoeke, lykskouing, verassing en gesamentlike begrafnisdiens wat alles binne ‘n week afgehandel is.

Toe Suné en haar man Rudi, die middag ná die begrafnisdiens in Jeffreysbaai na die Vosloos se huis gaan en aandring om Mari se selfoon ook terug te kry wat die Vosloos nie vroeër saam met haar ander besittings aan hulle wou teruggee nie, het die Vosloos glo gesê hulle kan dit nie teruggee nie omdat die polisie dit nodig het. Suné het toe voorgestel om die Vosloos die volgende dag by die Kareedouw polisiekantoor te ontmoet waar sy Mari se foon sou inhandig as die Vosloos ook Jéan se foon sou indien. Dit het die Vosloos glo van plan laat verander.
As daar enigiets op hierdie foon is wat kon bydra tot my seun se dood, sal ek jou en jou hele familie dagvaar.”
Dr Lawton Vosloo het glo toe die foon gaan haal, wat volgelaai in ‘n ziplock-sakkie was, en vies aan haar oorhandig met die woorde: “As daar enigiets op hierdie foon is wat kon bydra tot my seun se dood, sal ek jou en jou hele familie dagvaar.” Suné was so uit die veld geslaan dat sy glo geantwoord het: “Hulle is dan dood aan koolstofmonoksiedvergiftiging – hoe kan iets op die foon hul dood veroorsaak het?” Hierop het Vosloo glo net gesê: “Nee, nee – ek sê maar net.”
Die Hoon-gesin was so getraumatiseer deur die vreemde omstandighede waarin die paartjie dood is, die gebrekkige polisie-ondersoek waarin geen selfoon-ontledings of behoorlike kruisondervragings gedoen is nie en die vinnige verassing, dat hulle almal hul werk verloor en in ‘n stadium saam op ‘n plaas gebly en gewerk het.
Dit was veral die toneel in die lykhuis op Jeffreysbaai wat steeds by die twee Hoon-susters spook. Weens die Covid-19 pandemie was daar ‘n reuse-agterstand met outopsies en die waglys was glo 3-5 weke. Danksy Dr Vosloo se invloed kon hulle blykbaar vinnig regkom by die lykhuis op Jeffreysbaai. Toe die Hoon-susters op 29 April 2020 inderhaas Mari se geliefkoosde klere soontoe moes neem en aangedring het om haar self te grimeer vir hul finale afskeid, was Mari glo wasbleek vergeleke met Jéan se purperrooi kleur. Daar was glo ook ‘n diep, donker induiking aan haar regterskedel, bloed aan haar linkeroor en ‘n breë wit pleister om haar nek.
Toe hulle die lykbesorger daaroor uitvra, het hy glo gesê dit is weens die outopsie. Op ‘n vraag hoekom Jéan dan nie ook soortgelyke kenmerke en ‘n pleister aan sy nek het nie, is glo gesê “omdat hy ‘n ander tipe outopsie gekry het”.
Rossouw, die private speurder wat intussen glo net verdwyn het, het by navraag gesê hy kon nie destyds toegang tot die oorspronklike polisiefoto’s en hofrekords bekom nie, al het hy soos gebruiklik deur ‘n prokureur gewerk. Hulle het albei die staatsaanklaer Johan Jansen persoonlik gekontak om nuwe inligting aan hom oor te dra, maar hy het glo gesê hy stel nie belang nie en werk nie met private speurders nie.
Volgens Rossouw het hy in ‘n latere stadium ook die WhatsApp-boodskappe tussen Mari Hoon en haar Pretoriase vriend onder die aandag van Kevin se prokureur, Alwyn Griebenow, gebring om die teenstrydigheid in die staat se tydlyn te bevestig. Griebenow sou hom later terugbel, maar het blykbaar nie.


Die Hoon-susters het albei die afgelope paar weke in afsonderlike onderhoude na vore gekom ná die toetrede van die forensiese kenner Dr David Klatzow en die aansteling van ‘n nuwe Kaapse regspan onder leiding van adv. Francois van Zyl.
Suné het in openhartige gesprekke vertel dat die Hoon-gesin van die begin af onraad vermoed het en antwoorde gesoek het, maar weens beperkte fondse nie self verdere ondersoek kon instel nie.
“Dr Lawton se vreemde woorde en gedrag so kort na hul dood, en Stephan se getuienis dat hy niks weet wat die nag gebeur het nie, was vir ons baie vreemd en ontstellend. Ook die blitsvinnige outopsies, verassing en begrafnis binne ‘n week voordat daar enige ondersoek ingestel is of ons tot verhaal kon kom en behoorlik van Mari kon afskeid neem.
“Ons wou destyds hê Bolhuis of ‘n private speurder moet die oorspronklike outopsie-verslae by die eerste lykhuis ondersoek, asook die selfoonrekords van Stephan en Jéan nagaan, maar toe Rossouw niks uitgerig kry nie en ook nie terugkom na ons toe nie, het ons nie meer geweet wat om te doen nie. Toe selfs die staatsaanklaer nie belangstel om ons inligting op te volg nie, was ons verstom. Maar dié dinge vreet steeds soos ‘n kanker aan ons gesin en voorkom dat ons afsluiting kan kry”, het sy gesê.
Op haar beurt het Michelle Hoon en haar man, Niel, in ‘n onderhoud met Dr David Klatzow onthul dat die paartjie glad nie meer so gelukkig was as wat in mediagerugte voorgestel is nie en dat Jéan uiters besitlik en jaloers was. Hy het glo dikwels Mari se foon afgevat en haar aggressief aangespreek. Michelle het ook die uitlatings wat Dr. Lawton Vosloo destyds voor getuies gemaak het, bevestig in ‘n getekende verklaring.




Reeds met die eerste hofverskyning toe Kevin Pretorius skielik amptelik aangekla is van dubbele moord, het Mari se ma, Maria, die staatsaanklaer Johan Jansen spesiaal ingelig oor die vrae en ongerymdhede wat hulle teister. Sy het hom ook van die ontstellende laataand-Whatsapp-gesprek vertel wat Mari op die betrokke aand met ‘n familievriend in Pretoria gehad het. Dié bykans uurlange gesprek van 22: 29 tot 23:19 waarin Mari oënskynlik “diep sake” wou onthul, het die tydlyn van Stephan se getuienis weerlê waarvolgens Jéan en Mari al omstreeks 20:30 en 21:00 onderskeidelik gaan stort het en blykbaar deur koolstofmonoksied oorval is. Jansen het na bewering egter net gesê dat hulle niks van dié inligting nou kan inbring nie omdat dit die staat se saak sal benadeel.

Suné vertel: “Toe ons gesin op 28 April in Jeffreysbaai aankom, was al Mari se klere en besittings ook reeds uit die huisie op die plaas Kenmore waar Mari en Jéan saam gewoon het, verwyder en netjies in die Vosloos se motorhuis gestoor.”
Die paartjie en talle ander jongmense het op die plaas Kenmore van Grasslands Agriculture sowat 37 km buite Kareedouw gewoon en gewerk.
“Tannie Christel (Vosloo) het vir ons Mari se naweek- en grimeertasse gegee, asook die klere wat sy aangehad het by die Kliphuis. Sy het gehuil en gesê sy wou die klere skoon vir ons teruggee. Sy het gesê sy kon nie die rooibruin vlekke op die trui uitkry waar Mari waarskynlik rooiwyn op haarself gemors het nie. Sy het ook Mari se oorbelle vir ons gegee, maar nie haar verloofring en selfoon nie. Toe my ma haar daaroor uitvra, het sy gesê Jéan het hard gewerk en duur daarvoor betaal en sy het besluit om dit vir haarself te hou omdat hulle nog nie getroud was nie.”
“Dit was regtig baie ontstellend vir ons ouers dat hulle nie self Mari se goedjies kon oppak in die plekke waar sy gewoon en haar laaste aand deurgebring het nie. My ouers is toe ook saam met tannie Christel by hul blyplek op Kenmore in terwyl ek, Michelle en haar man Niel, buite by Dr Vosloo gestaan en wag het. Dit was toe dat Dr Vosloo uit die bloute gesê het: ‘Stephan moet net by sy storie hou. Die man met die meeste geld gaan die saak wen.’
“Ons was uit die veld geslaan, want dit was maar twee dae ná hul dood en daar was nog geen sprake van ‘n hofsaak nie omdat almal dit toe nog as ‘n tragiese fratsongeluk beskou het.”
Ander aspekte wat die Hoons pla, is dat Mari glo die oorbelle aangehad het toe die paartjie kaal in die stort gevind is. Volgens die susters is dit van kleinsaf ‘n tradisie in hulle huis om nooit met oorbelle of ander juwele te stort of te slaap nie.
Toe die Hoons die Kouga Kliphuis die eerste keer op 1 Mei 2020 besoek het, was daar geen teken van ‘n afgebakende misdaadtoneel nie. Daar was spatsels en vlekke wat soos bloed gelyk het by die trappe van die braai-area en toe Stephan daaroor uitgevra is, het hy glo gesê dis sous en sap van die boerewors wat hulle die Saterdagaand gebraai het. Ander soortgelyke spatsels wat sy in ‘n slaapkamer en die stort afgeneem het, is blykbaar ook nooit bevraagteken of ondersoek nie. Ook nie vreemde vinger- en sleepmerke aan die binneste ruite van een van die slaapkamers nie.
Die Hoons sukkel om afsluiting te kry terwyl soveel onbeantwoorde vrae hulle steeds teister.

“Ons het Pretorius van die begin af jammer gekry omdat hy beslis nooit doelbewus iemand se dood sou veroorsaak het nie, maar ons wou ook antwoorde en geregtigheid hê. Toe al die bewyse teen hom in die hof begin uitkom sonder dat sy regspan met teenbewyse kom, het ons begin glo dat hy wel skuldig moet wees al pla al die ander dinge ons steeds. Dis eers toe al die vrae waarmee ons van die begin af worstel nou in die media begin uitkom en Dr Klatzow alles bevestig het, dat ons weer moed het om te veg vir die volle waarheid oor wat regtig daardie nag gebeur het. Ons is nie haatdraend en soek nie wraak nie, ons wil net hê die volle waarheid moet uitkom sodat ons kan verstaan, geregtigheid kan geskied en ons afsluiting kan kry.”


Twee gesinne wat rou oor ‘n geliefde kind, broer en suster. Die Vosloo-gesin (links) glo ‘n geliefde Kareedouw-boer moet boet met tronkstraf oor hul seun se dood sodat hulle afsluiting kan kry; die Hoon-gesin glo die volle waarheid moet eers uitkom voor hulle regtig vrede sal kan hê oor ‘n geliefde dogter en sussie se dood.
Terwyl dié omstrede en uitmergelende hofsaak ná vyf jaar steeds voortduur, het familie en vriende van Kevin wat al jare by die Kouga Kliphuis kuier, in Desember 2025 gaan help om die gebou en omgewing netjies te maak en op te knap ná die lang leegstaan. Die honderde mense wat al die afgelope 25 jaar lank heerlike tye daar deurgebring het, staan steeds bankvas agter hom om sy onskuld te bewys.
‘n Skadefinansieringsveldtog is intussen van stapel gestuur om geld in te samel vir sy regskoste:
https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-kevin-pretorius-fight-a-grave-injustice
Lees ook die Engelse weergawe hier:






One comment