Sjoe, (myn)geld wat stom is, maak NIE reg wat krom is? weskusonTheline lees nou met verstomming hoe die Weskus se “amptelike” gemeenskapskoerant al sedert Januarie met die bewyse sit dat die Elandsfontein-fosfaatmyn amptelik AFGEKEUR is deur die Departement van Minerale Hulpbronne, maar “besluit het” om dit NIE te publiseer nie . . . ?
Hoe op aarde kan ‘n gemeenskapskoerant wat veronderstel is om die gemeenskap “onpartydig en onafhanklik” ingelig en op hoogte van sake te hou oor die dinge wat hulle persoonlik raak, sulke noodsaaklike inligting van hulle weerhou? Dit grens aan openlike misleiding en partydigheid vir die myn – veral as die reuse-dubbelbladadvertensies van KROPZ SA wat die afgelope paar weke in die Weslander verskyn het, in ag geneem word.
Hoeveel duisend rand kos so ‘n dubbelblad-advertensie? Is dit regtig die prys werd om die algehele geloofwaardigheid en integriteit van ‘n gevestigde gemeenskapskoerant van Media 24 so te besmet? Watter aspekte van die omstrede myn word gerieflikheidshalwe OOK verswyg?
Die onomstootlike bewyse dat die DMH die myn op grond van weldeurdagte en wetenskaplik-bewese feite afgekeur het, is seker die belangrikste inligting wat die publiek behóórt te weet – veral gesien in die lig van die hewige teenkanting en publieke verset wat van die begin af oor dié omstrede myn woed? Die DMH se redes staaf presies wat die teenstanders van die myn van die begin af sê – dat dit “onaanvaarbare besoedeling, voorkombare ekologiese agteruitgang en skade aan die omgewing sal veroorsaak wat teenstrydig is met Artikel 23(1)d van die Wet.”
Dié inligting is eintlik AL wat die publiek regtig oor die omstrede mynbedrywighede MOES weet om ingeligte besluite te kon neem – en dit word goedsmoeds van hulle weerhou? Hoekom? Die feit dat die mynbedrywighede ondanks dié bewyse ongesteurd voortgaan, is ewe onrusbarend. Sou die inligting net eenvoudig toegesmeer gewees het as weskusonTheline nie Carte Blanche se hulp ingeroep het om dit openbaar te maak nie?
Die gewraakte dokument was ook nie “nuut” aan KROPZ SA òf Michelle Lawrence toe Carte Blanche haar daarmee gekonfronteer het nie. Dit is deel van die sloerende hofsaak waaroor Lawrence beslis ingelig is. Die Weskus-Omgewingsbewaringsassosiasie (WOBA) én weskusonTheline het dit ook reeds in Augustus wyd gepubliseer met volledige inligting en dit het wye dekking ontvang en sterk reaksie ontlok. (Sien berig onderaan). Lawrence se kastige verbasing daaroor op die Carte Blanche-program is maar net nóg ‘n voorbeeld van die bedrieglike werkwyse, ondeursigtigheid en omstredenheid wat die mynbedrywighede van die begin af kenmerk.
Die redakteur van Weslander se verskoning dat die weerhouding van dié inligting ‘n “oordeelsfout” was, dra nie water nie en is ‘n klap in die gesig van enige intelligente leser. Geen joernalis – wat nog te sê ‘n redakteur – sal sulke plofbare en noodsaaklike inligting van die gemeenskap weerhou sonder ‘n baie sterk rede of motief?
Die bewyse dat die myn se werksaamhede tot dusver onwettig is en wél onaanvaarbare besoedelingsgevare en bedreigings vir die Weskus inhou, verander die hele polemiek en langdurige twis wat groot verdeeldheid aan die Weskus saai. Die publiek behoort te wéét hul vrese en besware was van die begin af grondig, geregverdig en geldig en dis al wat regtig behoort saak te maak.
‘n Myn wat op soveel bedrieglikhede, geheimhouding, onwettige en omstrede werkwyses gebou en bedryf word, ondermyn alle aspekte van morele, betroubare en deursigtige bestuur aan die Weskus.
Die hofsaak behoort ‘n goeie toets vir die land se onafhanklike regsbank te wees. Sal geregtigheid geskied of sal die geldmag van miljardêr-mynbase soos Mike Nunn en Mark Summers ook geregtigheid “koop”?
Lees ook:
http://www.weskusontheline.co.za/…/carte-blanche-bevestig-…/
http://www.weskusontheline.co.za/…/carte-blanche-confirms-…/
http://www.weskusontheline.co.za/…/the-powers-behind-the-e…/




