Knus in die hartjie van C. Louis Leipoldt se geliefde Hantam-streek is die Calvinia Hotel die ideale rus-, kuier- en oornagplek vir reisigers van heinde en ver wat die unieke Noord-Kaapse bekoring wil beleef.

Min dorpe het so ‘n sentrale ligging soos Calvinia op uitgestrekte hoofroetes wat strek tussen Namakwaland se jaarlikse blommeskouspel, die Groot-Karoo se skaapvleis, Bokkeveldberge, die Boesmanland en die Roggeveldberge in die suide – elk met sy eie uniekhede en bekoring.




Dis om dié rede dat die personeel van die Calvinia Hotel moet bontspring om te voorsien in die behoeftes, giere en grille van ‘n wye en uiteenlopende verskeidenheid van plaaslike inwoners en besoekers wat hier aandoen. Die gereelde kroeg- en snoekerspel-kuierklomp, die moeë korporatiewe sakelui, langafstand-reisigers en smulpape wat die omgewing se beroemde Vleisfees-geregte wil beproef, het immers almal verskillende behoeftes!

Plaaslike kuiergaste en dié wat net oorslaap onderweg na ander bestemmings kuier en eet ewe lekker by die Calvinia Hotel danksy die klomp geriewe wat ook ‘n gesellige, ruim kroeg met snoekertafels en ‘n groot buitelug-biertuin vir spesiale kuiers insluit.




Hoewel Calvinia ontpop het in een van die gewildste oornagbestemmings in die Noord-Kaap en die hotel en magdom gastehuise deurlopend ‘n toevloei van gaste en toeriste ervaar, is dit veral tussen Julie en November wat die dorp behoorlik uit sy nate bars. Die twee hoogtepunte op die sosiale kalender is die gewilde jaarlikse Calvinia-Hantam Vleisfees wat sedert 1990 op die laaste naweek van Augustus gehou word, en die Namakwalandse blommeskouspel wanneer dié streek vanaf die Weskus tot by die Roggeveldberge in ‘n tapisserie van kleur en geur omskep word.




HANTAM VLEISFEES 2024
Die gewilde Hantam-Calvinia Vleisfees het sedert 1990 ‘n gesogte instelling geword en niemand sê dit beter as die organiseerders self nie. Vanjaar s’n beloof om weer ‘n treffer te wees met al die pret-kompetisies en gewilde kunstenaars wat kom optree. Onderstaande kom uit hul eie webblad:



Calvinia is skaapwêreld en die laaste naweek in Augustus is almal en alles in en om die dorp in rep en roer wanneer die jaarlikse Hantam Vleisfees op Vrydag, 30 en Saterdag, 31 Augustus 2024 plaasvind.
Sedert 1990 toe alles begin het, was die hoofdoel om die heerlikste, geurige skaapvleis van die streek te bevorder.
Beslis ’n hoogtepunt op die kalender.
Sowat 400km vanaf Kaapstad (en net so ver van Upington) in die noordweste van ons land lê Calvinia. Destyds is besluit dat die verskillende snitte van die skaapkarkas in proe-porsies te koop aangebied sou word deur die onderskeie boereverenigings van die distrik met as beskermliggaam die Calvinia-Landbou-Unie. Daar sou by die vleiskos ook musiek en arena-vermaak aangebied word. Vanjaar se wenresep lyk nog nes daardie destydse een!

Die Calvinia Hotel dateer uit die laat 1800’s toe dit nog bekend was as die Royal Hotel, maar geen foto’s of amptelike inligting uit dié tydperk het blykbaar behoue gebly nie. Volgens bronne het die Graaf van Athlone en Prinses Alice die dorp in 1926 besoek en is ‘n spoggerige feesmaal en dansparty vir hul besoek in dié einste hotel aangebied. Die naam is later na die Hantam Hotel verander en ‘n deel van die gebou het in ‘n stadium afgebrand, maar die oorspronklike struktuur het behoue gebly. Ook hiervan kon geen foto’s of amptelike inligting by die museum of ander bronne opgespoor word nie.

Die dorpie Calvina se naam was oorspronklik ook Hantam, genoem na die Khoi-woord wat beteken waar die “rooi blombolle groei” – verwysend na die pragtige, bloedrooi Maartblom wat eie is aan dié streek. Ander name vir dié inheemse blomspesie Haemanthus coccineus is die bloedblom, poeierkwas, misryersblom, ens. * Meer besonderhede onderaan. Die dorpsnaam Hantam is egter op 30 Oktober 1851 deur die eerste predikant in dié streek verander na Calvinia – genoem na die invloedryke Franse Protestant-pastoor, hervormer en teoloog Johannes Calvyn (John Calvin – 10 Julie 1509 – †27 Mei 1564).
Ander bronne beweer die dorp Calvinia is destyds in 1845 gestig op die plaas Hoogekraal. Die eiendom is later deur die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) gekoop om ‘n gemeente vir die Hantam-streek in die Karoo te vestig. https://www.sahistory.org.za/place/calvinia

Deesdae spog die Calvinia Hotel met 24 kamers van verskillende grootte – almal met en-suite storte/badkamers en lugreëling – asook ‘n buitelug-swembad (plonspoel) vir die warm somermaande, ‘n konferensiesaal wat 80 mense kan huisves, ‘n buitelug-biertuin, veilige parkeerarea, asook ‘n groot gesellige restaurant en kroeg met snoekertafels waar heerlik gekuier word.




Elke kamer is ten volle toegerus met lugreëling, tee- en koffiemaakgeriewe, asook ‘n werktafel en stoel, platskerm TV en ‘n verskeidenheid Open View-kanale om van te kies. Beddegoed en handdoeke van hoë gehalte word voorsien. Die hotel is kindervriendelik en gaste kan kies tussen enkel-, dubbel- of familiekamers.
Gratis wifi is op die perseel beskikbaar en alle oornagverblyf sluit ‘n liplekker-ontbyt in.

Dit is egter die lekker kos, gesellige atmosfeer en flinke, vriendelike diens van die personeel wat dié plattelandse hotel so ‘n gewilde kuierplek en oornag-bestemming vir toeriste en plaaslike inwoners maak.





Almal kuier so lekker, want hulle éét so lekker!



Daar word beweer ‘n mens kan die verskil duidelik proe as kos met liefde gemaak is deur iemand wat weet wat hy doen en boonop dit geniet . . . Hoofsjef Johanna en die ander kombuispersoneel van die Calvinia Hotel geniet ooglopend hul werk en skroom nie om hul vernuf trots te wys nie.
Die toets van enige bedryf se sukses lê egter in wat die kliënte sê . . . en by die Calvinia Hotel is inwoners nie skaam om te sê en te wys hoe hulle hul hotel en omgewing geniet nie!




Ook die harde skoonmaakwerk by die Calvinia Hotel word vinnig met lekker-kry klaargekry!


Die Hantam-streek lê op ‘n hoë plato rondom die dorp Calvinia. Aan die westekant grens dit aan Namakwaland en die Bokkeveldberge, noordwaarts aan Boesmanland en suidwaarts strek dit tot by die Roggeveldberge. Die Hantamberge verdeel die plato in die Voor- en Agter-Hantam. Calvinia lê aan die suidelike voet van die berge. Boerdery is hoofsaaklik beperk tot merinoskape.



‘n Handvol gruis
Wie som die Hantam-streek dan nou beter op as SA se eie geliefde digter, dramaturg, mediese dokter, joernalis en koskenner wyle Christian Frederik Louis Leipoldt met sy immergroen-gedig:
‘n Handvol gruis uit die Hantam – C. Louis Leipoldt
‘n Handvol gruis uit die Hantam –
My liewe, lekker Hantam-wyk!
‘n Handvol gruis en gedroogde blare,
Waboom-blare, ghnarrabos-blare!
Arm was ek gister, en nou is ek ryk.
Arm in herinnering, arm in verbeelding,
Arm in onthou van die vroeër jare
Deurgebring in die Hantam-wyk.
‘n Handvol gras en gedroogde blare
Maak my, wat arm was, koning-ryk –
Ryk in herinnering, ryk in verbeelding,
Ryk in onthou van die vroeër tyd
Toe die Hantam-wêreld al die wêreld
Vir my was in vroeër tyd.
‘n Handvol gruis en gedroogde blare
Vertel so veel van die wonderjare
In my liewe lekker Hantam-wyk –
Waboom-blare, ghnarrabos-blare –
Arm eergister en nou skatryk!

- Haemanthus coccineus L. Common names: March flower, April fool, blood flower, paintbrush lily, powderpuff lily, king-of-Candia, pincushion (Eng.); bergajuin, bloedblom, rooikwas, bobbejaansool, koning-van-Kandie, Maartblom, misryblom, misryersblom, skoensole, velskoenblaar (Afr.)
* Distribution and habitat
All 22 Haemanthus species occur in southern Africa . Fifteen species are found almost exclusively in the winter rainfall region and six are found in the summer rainfall region. Only H. albiflos spans both the winter and summer rainfall regions along South Africa ‘s eastern seaboard. Namaqualand in the Northern Cape is especially rich in Haemanthus species, particularly in the high-lying country west of Springbok. Species such as H. coccineus, H. sanguineus and H. humilis are widespread and occupy habitats from the coast to the inland escarpment. However, several species are very restricted, notably H. canaliculatus, H. pumilio, and H. nortieri. These occupy small, flat, seasonally waterlogged areas that are increasingly threatened by man and the spread of alien invasive plants. https://pza.sanbi.org/haemanthus