Belangstellende nie-lede wat plek wou bespreek vir Maandag se netwerksessie van die Weskus Sakekamer waartydens die omstrede Elandsfontein-myn bespreek gaan word, kan steeds die verrigtinge bywoon mits hulle by die Sakekamer aansluit teen R450 wat lidmaatskap vir 2017 insluit.
Volgens mnr. Wilhelm Herbst, voorsitter van die Weskus
Sakekamer, het die oorweldigende belangstelling in dié onderwerp hulle onkant betrap en moet voorkeur aan Sakekamer-lede gegee word om sitplek aan almal te verseker.
“Ons vra om verskoning vir die fout wat ingesluip het in die oorspronklike berig op ons webblad waar nie-lede ook die verrigtinge kon bywoon teen R30 per persoon. Weens beperkte sitplek moet ons iewers ‘n streep trek en derhalwe moet ons voorkeur gee aan bestaande lede en diegene wat by die Sakekamer aansluit voor Maandagaand se verrigtinge,” het hy gesê.
Belangstellendes kan aangehegte aansoekvorm invul en selfs reëlings tref vir afbetaling van die R450-lidmaatskapgeld as hulle Maandagaand se netwerksessie wil bywoon.
“Die Sakekamer is ‘n nie-winsgewende organisasie en enigeen kan aansluit. Omdat dit so laat in die jaar is, kry dié lede wat nou aansluit outomaties lidmaatskap vir volgende jaar ook,” het hy gesê.
Belangstellendes kan Herbst ook kontak by 082 655 5026 of die Sakekamer se kontakpersoon, Cristelle Eksteen by (022) 715-1968
ELANDSFONTEIN-MYN VERSUS SANPARK : KOM LUISTER EN PRAAT SAAM !